die verslawing van maer-word

0
22
anoreksia.jpg

15 jaar gelede … graad 8 Maer-word is soos ’n dwelm. Dit is verslawend en (as jy in die web vasgevang word) sal jy enigiets doen om nog ’n paar kilo’s te verloor sodat jy op daai ‘high’ kan wees van goedvoel oor jouself. As iemand wat deur kinders gespot is en deur ander gekritiseer is, het dit wonderlik gevoel om te hoor: “Jislaaik maar jy het baie gewig verloor” of “Sjoe, jy lyk goed hoor”.  Dit was lekker om my hoërskoolloopbaan af te skop met komplimente.

Ek het klein begin. Eers is peusel tussen etes uitgesny. Daarmee saam ook bietjie oefening op ons masjiene by die huis. Maar die resultaat was te stadig en die gevoel te lekker. Daarna is rooivleis verruil vir hoender en vis … enigiets vetterig soos slaptjips is verruil vir slaai en rou groente … en ek het al hoe meer begin oefen. Vieruur in die oggend, in die middae na skool en in die aand as ek veronderstel was om te slaap. Oefen het ’n tweede verslawing geraak – want enige kilojoule wat ingekom het, moes dadelik uit.

Drie maaltye het ook te veel begin raak en dit is gesny na twee. Ontbyt en middag- of aandete. Baie spesifieke etes, met baie reëls. Stysel moes waai en op geen stadium mag daar meer as 3 verskillende items op my bord wees nie … minder was oukei. En die porsies het ook al hoe kleiner geraak. Kos het my vyand begin raak.  Lees Maandag verder …

Vir vorige blogs, kliek hier.