Die voordele van lewensversekering

467
Wouter Snyman

As jy in die knyp is, kan die versoeking groot wees om jou polisse te kanselleer. Maar moenie daardie fout maak nie.

Versekering bly maar iets wat ’n mens teësinnig betaal. Niemand wil glo hulle kan skielik sterf of ernstig in ’n ongeluk beseer word nie.

Jy kan verseker dat jou gesin môre versorg is

As jy aan die begin van die jaar jou begroting regruk en moet sente omdraai, wonder jy dalk of jy elke maand daardie lewensversekeringspremie moet betaal. Tog meen finansiële kenners dat jy dit eerder as ’n bate moet sien.

Almal sal eendag doodgaan, of jy dit nou wil weet of nie. En niemand weet wanneer dit gaan wees nie. Dit klink dalk vreemd, maar dit is die beste belegging om iets vir jou gesin na te laat.

Om dekking op jou lewe uit te neem is net so belangrik soos om eiendom te besit. Lewensversekering is veral belangrik as jy beplan om te trou en kinders te kry.

Die grootste probleem wat mense ervaar as ’n geliefde doodgaan, is om vir die begrafnis te betaal en die belasting bymekaar te skraap wat betaalbaar is op die bates wat die persoon agterlaat.

Die gesin moet nou natuurlik ook leer om sonder daardie persoon se inkomste klaar te kom.

Maak jou man of vrou of kinders die begunstigdes

’n Lewenspolis is nie ’n lekker meevallertjie vir die mense wat agterbly nie. Dis eerder bedoel om hulle te help om weer op hulle voete te kom.

Jy gun jou familie tog seker die vrug van jou harde werk; daardie eiendom, beleggings en spaargeld wat jy bymekaar gemaak het. Jy wil ook nie hê hulle moet sukkel om die belasting daarop te betaal nie.

Iemand het eenmaal vir my gesê: “Ek glo nie in versekering nie.” Ek het geantwoord: “Dis wonderlik, maar versekering is nie ’n geloof nie. Dis nie iets waarin jy moet glo nie. Jy moet net jou risiko verskuif.” Daarom glo ek dis een van die beste beleggings wat jy kan maak – om seker te maak jou lewe is gedek.

Verskuif net jou risiko vir meer gemoedsrus

Deur versekering uit te neem, verskuif jy slegs die risiko van jou gesin af na die versekeraar. Daar sterf daagliks meer as 40 mense op ons paaie. Talle meer word ernstig in motorongelukke beseer en ongeskik verklaar.

Die risiko wat ons in Suid-Afrika het, is ongelukkig baie groot. Die enigste manier om daardie risiko te verskans, is om lewensdekking uit te neem. Neem omvattende dekking uit wat afsterwe, ongeskiktheid en ernstige siekte insluit.

Maak ten minste seker jou gesin is skuldvry ná jou afsterwe. Om te weet wat die minimum bedrag is waarvoor jy verseker moet wees, vermenigvuldig jou jaarlikse inkomste met 20.

Dit kan natuurlik duur wees vir sommiges en goedkoop vir ander. Jou premie word op grond van jou beroep, geslag, ouderdom, ens. uitgewerk. Kry ten minste drie verskillende kwotasies van onverwante bronne. Hersien ook jou premie ten minste een maal ’n jaar. Alan Lakein het gesê: “Versuim om te beplan, is om te beplan om te misluk.” Kry jou dekking in orde.

Wouter Snyman – Finansies, besigheid en entrepreneurskap

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Wouter.