Die vriende met wie jy jouself omring

As ‘n gelowige en volger van Jesus Christus het ons ‘n baie duidelike riglyn van wat reg of verkeerd is en hoe om te lewe maar soms kom die wêreld en vertel vir jou hoe vervelig jy is of dat jy nie goed genoeg is nie.

Om te oorleef raak jy dalk deel van ‘n groep vriende waar jy nie regtig behoort nie. Soms raak jy nie eers 100% betrokke by die groep vriende nie, maar jy word steeds saam daardie sekere groep gesien en aan hul aksies geken.

  1. Watter van jou vriendskappe of mense waarmee jy jouself omring sal jy klassifiseer as ‘n hartsvriendin of ‘n hartsvriend, wat regtig daar is vir jou wanneer jy hom / haar nodig het?
  2. Is geloof ‘n onderwerp waaroor julle al ooit gesels het of is dit iets wat julle deel?
  3. As Jesus vandag by jou voordeur opdaag, sal jy met trots Hom nooi om deel te word van julle gesprek sonder om skaam te kry?

Die verhoudings en vriendskappe waarmee jy jouself omring het ‘n groot invloed op jou as mens, jou geloof en jou verhouding met God en ander mense.

“Yster slyp yster, vriende vorm mekaar” – Spreuke 27:17

Wat doen jy, as jy deur ‘n moeilike tyd gaan of wanneer ‘n familielid naby aan jou ernstig siek raak? Ons gesin was die laaste maand deur ‘n baie moeilike tyd, gesondheidsgewys.’n Familielid was baie siek en uit bekomernis het ek besef daar is net een uitweg: Bid tot die Groot Geneesheer.

Ek stuur toe ‘n boodskap aan ‘n paar vriende en familie om te vra dat elkeen asb saam met ons in gebed sal staan:

 “Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” Matteus 18:19-20

Mense sê dis juis tydens die moeilike tye wat mens sien wie jou ware vriende is: Ek het dit glad nie so ervaar nie.

Al die vriendskappe wat geanker is in Geloof, is ware vriendskappe.

Ons was in verwondering oor die liefde, ondersteuning en gebed wat na ons kant toe gekom het. Ons het weereens besef ons dien ‘n GROOT GOD! Ons harte is dankbaar dat God soveel ongelooflike mense oor ons pad gestuur het om ons te ondersteun en saam ons in te staan in gebed. Ek het besef:

“Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie.” Prediker 4:9-12

Hoe weet ek dat my verhoudings en vriendskappe “eg” is?

  1. Dink aan jou beste vriend of vriendin:
  • Weet jy wat is sy / haar geloof?
  • Weet jy of hy / sy in Jesus Christus glo?
  • Sal jy hom of haar saam nooi na ‘n kerkdiens of jeug aksie toe?
  • Het julle al ooit gepraat oor God? Wat Hy vir jou beteken? Wat in die Bybel staan? Of het julle al getuienisse gedeel?

As jy op enige van die bogenoemde NEE kon antwoord, het jy groot werk op jou hande en dit is gebed!

Hiermee sê ek nie dat jy jou vriende moet weggooi wat nie geloof met jou deel nie, maar jy kan vir hulle bid. Hoe nader jy aan God gaan beweeg, hoe nader kan jy hulle dalk lei na God toe,

“Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het” – Job 42:10

  • Vra vir God om hul hart aan te raak en Homself aan hulle te openbaar.
  • Vra vir God om die saadjie te plant.
  • Vra vir God om jou te beskerm maar ook as instrument te gebruik.
  • Vra vir God om jou hart oop te maak sodat jy en hulle ontvanklik sal wees vir God se Woord, Sy plan en Sy wil.

 

Vorige artikelSoja-en-gemmerhoender
Volgende artikel!?Skoonheidsgeheime?!
Blogger - Natasha Smit
Natasha Smit is ‘n privaat praktiserende Dieetkundige in Allens Nek. Sy is self ‘n Tipe 1 Diabeet en help graag ander wat sukkel om hul Diabetes volhoubaar te bestuur. Sy het al ‘n lang pad gestap in haar geloof en het vining besef dat sy slegs haar vertroue in God kan plaas. Sy deel ‘n Bediening, Bid is Braaf, met Leandie Bräsler en glo dat ons as gelowiges moet saamstaan om al die struikelblokke wat die wêreld na ons kant toe gooi, te kan weerstaan. Sy glo vas in Romeine 12:12 “Verbly julle in die Hoop, staan vas in verdrukking en volhard in gebed” en glo ons moet aanhou groei in geloof deur ‘n lewende verhouding met Jesus Christus te bou deur die 3 B’s: Bid, Bybelstudie en wees Braaf in geloof!