Die vrou wat ’n weduwee wou wees

0
17
vrou_weduwee.jpg

Was jy al daar waar dit só sleg gaan dat jy letterlik jou man doodwens? Al klink dit verskriklik!

Ek was jonk en dom. Ek wou nie luister nie. Ek het gedink alles sal beter raak. Hy sal verander. Ék sal hom verander. Ek kon nie. Geen mens kan ’n ander verander nie. En die huwelik, het ek vinnig en hard geleer, is nie ’n rehabilitasiesentrum nie.

Vandag kan ek nie glo dat ek ooit met hom getrou het nie. Hoekom dink ’n mens iemand sal verander as hy al byna ’n kwarteeu lank is soos hy is, en as al sy vriende is soos hy is? Stupid!

As ek dink aan al die fights wat ons in ons uitgaandae gehad het; aan sy besope flirtasies met ander meisies; aan die aand toe ek my verloofring afgehaal het, maar nie sover kon kom om dit vir hom terug te gee nie … As ek maar net die guts gehad het. Maar toe dink ek niemand sal ooit weer vir my lief wees nie.

As ek dink aan die gedrink en gevloek en verbal abuse … Die volgende oggend kon hy natuurlik niks onthou nie – en daarom het hy ook nie die nodigheid ingesien om om verskoning te vra nie. Veral toe die kinders eers daar was, kon ek dit glad nie meer hanteer nie. Ek wou hom vermoor! My menswaardigheid was daarmee heen.

Dis hartseer, maar ek onthou vandag nét die slegte goed. Dalk omdat dit soveel meer was as die goeies. Ek onthou die aande wat hy nie huis toe gekom het nie en ek moes rondbel om te hoor of iémand weet waar hy is. Ek onthou die aande wat ons ’n afspraak met vriende gehad het en hy dronk-dronk by die huis aangekom het – en dronk-dronk saam met my gegaan het.

Telkens het ek gedreig om my goed te vat en te loop. Dan was alles ’n ruk lank hunky-dory. Hy het blomme aangedra en sy knieë vol carpet burns gekruip om my guns te wen. Ook net tot hy gesien het ek is weer my goeie ou self. Dan het alles van voor af begin … die gesuip saam met vriende, sonder ’n gedagte aan my en die kinders.

Later kon ek dit nie verdra dat hy aan my raak nie. En ek het my lyf teruggevat. Dit was net myne. En hoeveel aande het ek die Here gesmeek dat hy in ’n paal moet vasry wanneer hy eendag besluit om huis toe te kom. Eers het ek net gebid hy moet lekker seerkry, sommer goed bloei, hom vir ewig nugter skrik … en sy lewe verander. Later het ek vir die Here gevra dat hy liewer moet doodgaan as hy in die paal vasry. Want ek wou nie, kón nie meer saam met hom leef nie. En as hy sou doodgaan, sou almal se simpatie immers lê by my, die arme weduwee. Dit het nooit gebeur nie. En ek het bly sit met die skuldgevoel oor ek iemand dood gewens het, oor ek iemand dood wou bid. Maar een oggend, sonder dat iets opspraakwekkends of afgrysliks gebeur het, het ek besluit: Daar is geen sin in hierdie huwelik nie. Ek moet myself gaan soek. En ek het my tasse gepak, my kinders gevat … en ’n nuwe lewe begin.

Dít weet ek nou …

Die huwelik is nié ’n rehabilitasiesentrum nie. Ook nie vir alkoholiste nie. Al is dit ’n naweek-alkoholis. Eers baie later het ek uitgevind daar is verskillende soorte alkoholiste – dié wat elke dag drink, dié wat naweke drink en selfs dié wat net een keer per jaar op ’n spesifieke dag smoordronk raak.

Vandag weet ek: Ek moes nie stilgebly het nie. Suffer in silence is die slegste besluit wat jy kan neem. Ek moes vir álmal wat wou luister elke stukkie gory detail vertel het. Dan het hy – én ek – dalk vroeër hulp gekry. Dan kon iemand hom dalk laat besef het wat hy doen – aan homself, aan my en aan ons kinders. Dan sou iemand kon ingryp – al het hy nie geglo daar is fout met ons huwelik nie, al het hy elke keer geweier om saam met my ’n berader te gaan sien.

Vandag is ek getroud met die wonderlikste man, wat self deur ’n smartlike tyd is. Ons verhouding het my laat besef hoe ’n huweliksverhouding móét wees. Ek weet my eks het my as mens in stukke getrap. En dit is een van die ergste dinge wat een mens aan ’n ander kan doen. Eers toe dit byna-byna te laat was, het ek besluit om myself te red uit ’n verhouding wat my totaal kon vernietig.

Dít wil ek graag vir my vriendin sê …

Liewe vriendin, vir ons generasie het die lewe só verloop: skoolgaan, studeer, jou lewensliefde ontmoet, drie jaar vas uitgaan, verloof raak, trou, kinders hê … Vir sommige het dit gewerk. Maar nie vir my nie. Vandag kan ek myself skop. Ek het self daardie stemmetjie doodgedruk! Die een wat sê: If you doubt, don’t! Moenie dieselfde pad loop nie. Trou omdat jy oortuig is dat jy en daardie man vir mekaar bedoel is, nie omdat jy eensaam voel of omdat ander dit van jou verwag nie. Want trou kan jou oplig tot in die sewende hemel, maar dit kan jou ook in die diepste helgat dompel.

Dít wil ek graag vir my seun sê …

Liewe seun, moet asseblief nooit dink en glo dat wat jou pelle doen, die regte ding is nie. Besluit sélf wat vir jou reg is. Kies vriende wat jou sal help om ’n ware man te word: ’n man met respek vir vroue en vir homself, ’n man wat genade kan betoon en wat nie bang is om sy oortuigings voor mense uit te leef nie, ’n onselfsugtige man, ’n sagmoedige man, ’n liefdevolle man, ’n man met integriteit en ’n man wat lief is vir Jesus, ’n man wat soos Jesus is.

Dít wil ek graag vir my dogter wil sê …

Liewe dogter, jy is kosbaar vir God. Niemand het die reg om jou menswees, jou vrouwees, te verkrag en jou te stroop van alles wat waarde gee aan jou lewe hier op aarde nie. Ek glo dat God eerder wil sien dat jy volkome vrou is, al is jy alleen, as wat Hy wil sien hoe jy uitmekaargeskeur word deur ’n man wat jou nie werd is nie. As jy jou ooit in só ’n verhouding bevind – stap weg. En om te keer dat jy in so ’n verhouding beland, kies vir jou ’n lewensmaat wat soos Jesus is.

Dít sou ek graag vir my eks wou sê …

Ek bid vir jou vandag. Ek bid dat jy berou sal hê oor die mense wat jy agter jou laat lê het, bloeiend, tot in die siel verwond. Ek bid dat jy dit sal probeer regstel in die verhouding waarin jy nou is. Ek vergewe jou. Ek sukkel nog om te vergeet. Soos jy seker ook maar. Want ek het ook vir jou dinge gesê wat jou diep seergemaak het. Vergewe my. Mag God self jou in sy Skeppershande neem en jou vorm tot die man wat Hy in gedagte gehad het toe Hy jou geskep het.