Die vroue wat die régte Brümilda ken

0
56
brumilda_van_rensburg.jpg

Die “tannie” van Leading Lady is vandag wie sy is danksy die vroue in haar lewe. Brümilda stel ons voor.

“My ma, die grootste leading lady in my lewe”

As ek ooit ’n boek oor my ma sou skryf, sal ek dit Dis ’n belewenis noem. Dis maar net een van haar baie gesegdes. “Asempies,” was hoe sy die mense na aan haar genoem het en “airy-fairy” was haar woord vir ’n vliegtuig.

So uniek soos haar uitdrukkings, so uniek was sy. My pa was op sy stil manier die leier in die huis, maar op haar stil manier was sy die grootste “leading lady” van my lewe.

As jou ma die dag doodgaan, besef jy twee dinge: Niemand in hierdie hele wêreld het jou so lief soos jou ma nie en veral dié insig – hoe groot die impak is wat sy op mense gehad het.

Alhoewel sy al amper twee jaar gelede oorlede is, bly ons ma se nagedagtenis lewendig in die geheue van die familie en kleinkinders met wie sy haar lewe gedeel het. Die rykdom van herinneringe wat ek steeds met my ouboet en twee susters deel, is iets wat nooit van my af weggevat kan word nie.

Toe ons na haar dood deur haar goedjies gaan, het ek weer besef hoe stylvol sy was. Sy kon onthaal, maak nie ’n fout nie. En selfs as sy alleen was, sou sy steeds in haar beste eetgerei ontbyt eet en koffie drink.

Sy sou iets koop, dit onder die bed bêre en stuk-stuk uithaal sodat my pa dit nie agterkom nie! Sy het haar onthaalvernuf verder uitgebrei toe sy die Klub Ambassadeur 100 meer as 30 jaar gelede in Pretoria begin het. Aanvanklik is die Klub begin omdat my ma baie ambassadeurs van verskillende lande moes onthaal. Oor die jare het dit egter verander in ’n kuiergroep waar vroue een keer ’n maand bymekaar gekom het om te netwerk, sosiaal te verkeer en na ’n kunstenaar te luister.

Op 30 Oktober vanjaar (my verjaarsdag) gaan ek en my susters dié geselligheid by die Klub bywoon en ’n glasie op Ma as stigterslid drink en na Jakkie Louw luister.

[pagebreak]

“Nancy kan al die balle gelyk in die lug hou”

Ek kom uit ’n gesin van vier kinders – ouboet Renico en susters Nancy en Fredrika. Ek, Nancy en Renico is al drie op Philippolis gebore. Op ’n manier, voel dit vir my, het ons ’n gedeelde herkoms – die dorre eerlikheid van die Vrystaatse platteland.

As ek aan my vroeë kinderjare dink, is Nancy onlosmaaklik deel daarvan met Nickerballs, Wilson-toffies, rivierwater wat aan jou wimpers klou en kleibesmeerde voete. Dan was daar die plaasdam, altyd in die agtergrond, ’n koele lafenis wat uitnooi en verlei.

Met dié dat ons net ’n jaar verskil was daar beslis struwelinge tussen my en Nancy, maar dit sou oor klein goedjies wees – ’n uitveër of so iets. Ons het ook altyd baklei oor wie in die middel van die agtersitplek van my pa se Mercedes gaan sit. Niemand wou ooit in die middel sit nie. Daardie kar se sitplekke was deurgetrap soos ons gespook het om die beste sitplek te kry.

Nancy vertel dat ek volgens haar die een is wat altyd die grense so ’n klein bietjie verder getoets het. Toe ons nog op skool was en twaalfuur die aand by die huis moes wees, sou Nancy elfuur al daar wees terwyl ek eers eenuur sou insluip.

Ten opsigte van ons loopbaankeuses verskil ek en Nancy baie. Waar ek van kleins af geweet het ek wil ’n aktrise word, het sy uiteindelik ’n B.Sc. (LO) behaal. Vir my is sy net een van daardie mense wat alles kan doen. Sy het uitgeblink in al wat ’n sport is – swem, tennis, hokkie. Sy val nie van ski’s af nie en sy speel gholf met ’n voorgee waarvan ek net kan droom.

Boonop kan sy ’n gholfdag of wildsfees reël wat deur 6 000 mense bygewoon word en tussendeur het sy drie pragtige seuns grootgemaak. Nancy is vir my soos die vroue oor wie hulle altyd in tydskrifte skryf – ’n juggler van formaat met al die balle wat sy in die lug hou.

[pagebreak]

“Die rabbedoe in die familie ... Kleinsus Edrie

Fyn lapservette, madeliefies in glaspotjies, vlatertjies... Ma se kristalbotterbakkies glinster in die son wat deur die venster stroom. Haar Royal Albert-teestel is só uitgestal dat dit lyk asof die spasie tussen die koppies gemeet is. Onder elke koppie lê daar ’n papierdoilie. Ma kon ’n tafel dek wat ons kinders oopmond laat watertand het.

Ons sou dit nie eers waag om net ’n éclair’tjie van die tafel af te gaps nie. Die risiko was te groot, behalwe as ons miskien ’n liniaal byderhand gehad het om dinge na die tyd weer reg te rangskik.

Hierdie soort detail is wat my ma aan ons kinders oorgedra het. Op Fredrika, oftewel E3, my ma se naamgenoot, het dit veral ’n indruk gemaak. Dít en ma Freda se liefde vir onthaal en kosmaak.

Sy wou op ’n stadium soos ek ook drama gaan studeer het, maar “een is genoeg”, het Pa geredeneer.

Toe gaan vind Fredrika haar kreatiwiteit in kosmaak. Besluit om ’n gourmet-chef te word, gaan hotelskool toe en skielik draai haar lewe om kos – kreefsterte oor ’n rooster met Franse rosé-sjampanje, Camembert-kaas en parmaham saam met ’n rooiwyntjie en Switserse sjokolade so dikwels moontlik.

Sy’s ons rabbedoe en altyd ’n bok vir sports. Sy gaan ligter deur die lewe terwyl ek meer die rol van die verantwoordelike ouer suster sou vertolk.

Nie sonder rede nie, glo my, want daardie sus het nie ’n bang haar op haar kop nie. Sy hou van mense, perdry, dans, branderplankry en ski. Sy is versot op die lewe en versinnebeeld ’n entoesiasme wat aansteeklik is.

Toe my ma 40 was, het sy onverwags haar verskyning gemaak. ’n Groot verrassing vir ons hele gesin. Vandag kan ek my nie die lewe sonder haar voorstel nie.

Nou die dag praat ons oor iets wat ons al twee van ons ma onthou. Sy en ons susters het vakansie gehou op ’n wildsplaas. Ma het buite gebad en ons het dit op film vasgevang. Sy het gelyk soos die oulikste klein seekoeitjie wat ons al ooit gesien het.

Dis spesiaal – daardie herinneringe wat ons het en wat ons steeds skep.

[pagebreak]

“My peetkind, Andrea, het my lewe verander”

DNS, en die oordra van gene van geslag tot geslag, is iets wat my telkens verstom. En dit werk so subtiel, amper onbewustelik, dat jy dit maklik kan miskyk. Sal Ma se liefde vir rugby en haar familie se liefde vir sport die rede wees hoekom my peetdogter, Andrea, vandag touch rugby speel?

Sal die integriteit en eerlikheid van Andrea se ouma en oupa die rede wees dat sy B.A. (Regte) studeer, lid was van Johannesburg se Junior Stadsraad en onlangs aan ’n optog vir gelyke onderwys deelgeneem het?

Ek weet nie watter invloed ek op die dogter van kleinsus Edrie gehad het nie, maar ek weet wel watter invloed sy op my gehad het: Ek onthou die voorreg wat ek gehad het en hoe trots ek gevoel het toe ek haar die dag van haar doop in ’n lang, pienk kantrokkie, wat ons almal gedra het, die kerk ingebring het. Ook hoe sy daardie hele diens deur geskreeu het.

Nou dat sy ouer is, is ons tye saam nog lekkerder. Ons gesels op BBM en Facebook. Of ons eet pizza in ’n restaurant in Parkview en deel stories uit ons lewe in absolute eerlikheid met mekaar.

Ek dink dis die gemaklikheid om net myself tussen die leading ladies van my lewe te wees wat my laat oorleef in ’n samelewing wat jou gedurigdeur pens en pootjies in ’n boks wil druk.

Die tye saam met die mense van my hart raak vir my al hoe kosbaarder. Die saamlag, saam shop, saam kuier tot ons nie meer kan nie. Die opregtheid wat daar tussen ons bestaan. Ons kan mekaar die waarheid (soms selfs ongevraagd) vertel sonder om seer te maak. En soms bly ons net stil, want ’n pep talk help nie altyd nie. Soms is ’n oor om te luister en ’n glas Merlot al wat nodig is om weer moed vir die lewe te kry.

As ek terugdink, sal ek my lewenservaring vir niks verruil nie. Ek deel my lewe met merkwaardige en talentvolle mense en my herinneringe is die inspirasie wat my onderskraag, veral wanneer dinge taai raak. Ek het mense wat ek middernag kan bel as die lewe druk – en as jy dít het, het jy eintlik alles.

Benewens die rol van Jana du Preez wat Brümilda in die kykNET-sepie Binneland vertolk, is sy ook te sien as Magdaleen in die fliek Leading Lady.