Die Vyfrand Storie

Nie so vreeslik lank gelede nie, in Vyfrandland, het die bank besluit dat dit weer tyd is om ‘n klompie nuwe R5 munte te druk.

Hulle het ‘n paar veranderings aan die vorige ontwerp gemaak en die nuwe munte was mooi blink.  Die mense van Vyfrandland was sommer baie in hulle skik met die nuwe aankomelinge.  So het die nuwe munte se wedervaringe deur die beursies, broeksakke en kasregisters van die mense in Vyfrandland begin.  Meeste van die mense was elke keer ekstra opgewonde wanneer hulle een van die nuwe, blink R5 munte in hulle beursies gehad het.  Hulle het gewoonlik ook eerder die ouer R5 munte eerste gebruik en die nuwe blink R5 munte so lank as moontlik vir hulself gehou.

Soos die tyd verby gegaan het, het die nuwe R5 munte agter gekom dat dit harde werk is om ‘n R5 munt te wees.  Hulle het selde saans in dieselfde beursie gaan slaap waar hulle soggens wakker geword het.  Die een oomblik was hulle in hulle noppies in ‘n skatryk sakeman se leerbeursie en die volgende oomblik rinklink hulle teleurgesteld in ‘n bedelaar se plastiek koppie.  Eendag sien hulle die statige binnekant van die bank en die volgende dag ruil ‘n taai handjie hulle vir ‘n draairoomys by die see.

Met verloop van tyd het meeste van die munte hulle blink verloor en party het selfs besonder vuil geword.  Dit het veroorsaak dat sommige R5 munte begin dink het dat hulle minder werd is as die ander R5 munte.  Hulle het minderwaardig en sleg begin voel oor hulleself.  Boonop is daar intussen weer nuwe R5 munte gedruk en was die mense van Vyfrandland van vooraf beïndruk met die nuwer, blinker R5 munte.

Van die arme R5 munte het later so skaam geword vir hulleself, dat hulle besluit het om weg te kruip.  So het hulle begin wegkruip in broeksakke, handsakke se kant sakkies of onder motorsitplekke.  Maar dit het nie veel gehelp nie.  Daar was dit eintlik nog erger.  Handsakke se kant sakkies is vol vermakerige rooi lipstiffies en as jy in ‘n broeksak wegkruip lê jy tussen stink sokkies in die was, om nie eens te praat van die half geëte appelstronke se depresiewe praatjies onder die motorsitplek nie.  So het van die R5 munte net weg geraak.  Al was hulle nog R5 munte, was hulle vir altyd verlore.

Een Sondagoggend beland ‘n klompie R5 munte saam in die kollekte bordjie by die kerk.  Tussen die klomp munte lê Ouma Vyfrand toe ook.  Sy was een van die oudste R5 munte in omloop.  Sy het nie eens dubbel metaal in gehad nie en het nog uit die vorige millenium gedateer.  Ouma Vyfrand het gesien hoe morbied die nuwe R5 munte  was en hoe min hulle van hulself gedink het.  Sy het hulle baie jammer gekry en besluit toe om almal bymekaar te roep vir ‘n geselsie.  Daardie dag het die klomp nuwe R5 munte ‘n lewensles geleer wat hulle vir die res van hulle tyd in omloop sou by bly.  Elke keer wanneer hulle daarna weer waardeloos gevoel het, het hulle aan Ouma Vyfrand se wysheid terug gedink.

Sy het hulle elkeen mooi in die oë gekyk en met baie deernis begin praat.

“Hoeveel dink julle is ‘n R5 munt werd wanneer hy nuut en blink uit die bank kom?  Hoeveel is hy werd as hy in die modder val?  Hoeveel is hy werd as iemand nog in die modder op hom trap ook?  ‘n Vyfrand bly ‘n vyfrand.  Sy omstandighede verander soms, maar sy waarde bly dieselfde.

Het julle al gedink wat ‘n R5 munt kan koop?  ‘n R5 roomys? ‘n R5 appel? ‘n R5 koeldrank?  ‘n R5 munt kan nie net een nie, maar al hierdie dinge koop.  In sy lewe koop ‘n R5 munt nie net ‘n roomys of ‘n appel nie.  ‘n R5 munt koop dit alles.  Sy waarde is nie net R5 nie.  ‘n R5 munt se waarde word bepaal deur alles wat hy deur die loop van sy lewe gekoop het.  Moet nooit aan julleself dink as ‘net ‘n R5’ nie.  Julle is baie meer werd as dit!

Verder moet julle onthou dat om R5 in ‘n rykman se beursie te wees, jy soms net as lastige kleingeld beskou gaan word.  In ‘n arm man se hand is ‘n R5 egter broodgeld wat lewens kan verander.”

Almal het daardie aand baie rustiger geslaap.  Net Ouma Vyfrand het eers ‘n bietjie later aan die slaap geraak, omdat sy eers so rukkie gelê en terug dink het aan die dae toe sy haar blinkgeid verloor het en toe dit haar nog so baie gepla het.  Daarna het sy ook omgedraai en met ‘n glimlag aan die slaap geraak.

Fluit fluit, my storie is uit.

Ek het drie R5 munte in my juwelierskissie met die jaartalle op waarin elkeen van my dogters gebore is.  Ek bêre dit daar totdat dit nodig is om eendag die R5 Storie vir hulle te vertel, want soms is dit nodig dat die ouer munte hierdie storie vir die jonger munte moet deel. 

Vorige artikelProbeer jou bes (Deel 1)
Volgende artikelHelp sy brein ontwikkel
Avatar
Marida is 'n bestuurskonsultant en ma van 3 laerskool juffers. Dit sorg vir 'n wipplank ryery tussen skooltake, buitemuurs en pre-tiener uitdagings teenoor korporatiewe opleidingsplanne, begrotings en sperdatums. Sy is baie lief vir die Here en glo dat Hy relevant is in elke faset van ons lewe. Sy is getroud met Juppi en saam hou hulle van rond reis en bordspeletjies. Volg Marida se Koffie met die Koning blad op Facebook of http://www.maridasteurer.wordpress.com/