Die waarde van my bidboek

Ek weet die regte term is eintlik ‘gebedsjoernaal’, maar ‘n bidboek werk beter by my geaardheid.

Ek sukkel soms om te fokus as ek bid. Soms is ek net te haastig en rammel sommer ‘n klomp sinne af, net om ná die tyd nie regtig te weet wat ek gebid het nie. Soms voel ek regtig onbevredig ná so ‘n afgerammelde gebed, dit voel amper soos ‘n stoomtrein wat verbygejaag het.

In ‘n poging om my gebedslewe te verbeter, het ek vir my ‘n dik A4 boek gekry waarin ek elke dag ‘n hele bladsy moes volskryf. My gebed neerskryf. Dit waarvoor ek op daardie oomblik bid. Dit wat God op daardie oomblik op my hart lê.

Soms is dit ‘n gesukkel om ‘n halwe bladsy geskryf te kry, ander kere is twee bladsye weer te min!

Maar niemand sou my kon voorberei op die geestelike groei wat ek danksy my geskrywery ervaar nie. Niemand het my gesê hoe my verhouding met God sou verdiep nie. Ook nie dat ek sou leer om vir soveel meer mense en dinge te bid as wat ek kon dink of droom nie.

Ek dink nie ons besef altyd hoeveel van ons gebede beantwoord word nie. Wanneer ek op ‘n stadium weer deur ‘n bidboek lees, staan ek soms verstom om te sien waarvoor ek al in die verlede gebid het en hoeveel van daardie gebede waar geword het sonder dat ek dit op daardie stadium eers besef het. En dít is genoeg om jou geloof nog méér te laat groei, om net nog meer te besef watter wonderlike God ons dien.

Baie mense het gebedsjoernale waarin hulle skryf, party doen dit dalk op hulle rekenaar. Party maak net kort aantekeninge, ander skryf boeke vol. Vir my beteken dit geweldig baie om in my bidboek te skryf en ek kan sommer gou aan my gemoedstoestand agterkom wanneer ek nalaat om dit te doen.

Ek wil jou ook sommer aanraai om ‘n gebedsjoernaal te begin hou. Doen dit, dis baie bevredigend.

Groetnis

Toortsie

DEEL
Vorige artikelAs Die Here Wil
Volgende artikelVier aartappels en ‘n pakkie rys
Blogger - Toortsie
Madelé Burger (Toortsie) is 'n ma, ouma en boervrou. Sy en haar man woon in die Overberg en het 'n gemengde boerdery. Madelé is lief vir mense en leef die lewe voluit. Sy reis graag en geniet dit baie om in die natuur te wees. Sy is 'n uitgewer van Banting Resepteboeke en is 'n Transformasie Gebedsbediening Fasiliteerder. Sy skryf op haar blog oor alledaagse dinge, kinders, die lewe en haar verhouding met God. Besoek haar blog by toortsie.com