Die waardering wat jy wil hê

0
819
Gretha Wiid

As daar een ding is waaroor vroue boekdele kan skryf, is dit waardering. Dit lê in ons dogtertjie-harte. Ons wil geliefd wees en waardeer word.

Vroue moet baie balle in die lug hou: die huis se bestuur, die kinders se aktiwiteite en hulp met huiswerk, hulle emosionele en geestelike leiding, die eise van ons manne, al die gemeenskapsdinge waarby ons betrokke is… praat van baie gevra!

Die ergste is dat ons heeldag in tydskrifte, televisieprogramme en op sosiale media gekonfronteer met die perfekte vrou en ma – al die lysies waar ons beter kan vaar. Professionele jugglers – dís wat ons is!

Vroue doen wat nodig is en baie meer

Daar was eenkeer ’n tuisteskepper wat haar elke dag gebreek het om alles in en om die huis gedoen te kry – skottelgoed, wasgoed, kosblikke, beddens opmaak, kosmaak en mamma se taxi-roetes. Tot haar wrewel en bitterheid, het haar man elke aand as hy by die huis kom, gevra wat sy gedoen het om haarself mee besig te hou. Elke dag was die antwoord dieselfde: “Ag, sommer doenig gewees met alles hier in en om die huis.”

Dan het hy geantwoord: “Dis darem lekker om heeldag by die huis te lê en niks doen.” Op ’n dag besluit sy genoeg is genoeg! Sy het opgestaan, koffie en ontbyt gemaak en die kinders skool toe gevat.

Daardie middag laat kry haar man haar op die stoep met ’n koppie koffie in die hand. Geen gordyn is oopgetrek, geen bed opgemaak nie, die skottelgoed staan nog net so en daar is geen sprake van aandete nie. Ontsteld vra die man: “Wat gaan hier aan?” Ewe rustig antwoord sy: “Ek het vandag gedoen wat jy dínk ek elke dag doen – níks.”

Deel ’n bietjie van die werk uit

Baie vroue kla dat die mans daarvan hou om bedien te word, maar nie altyd help met enigiets in die huis nie. Volgens hierdie vroue is daar wel mans wat help, maar dan net as dit nie te veel gevra is nie, hy nie self iets moet opoffer nie en dit in sý tydskedule inpas.

Om jou huismense van hierdie siekte te genees, moet jy dalk begin met fermer grense en skouers wat ook soms opgetrek word. ’n Wyse man het op ’n dag gesê jy verdien wat jy oor en oor toelaat! Deel dus ’n bietjie van die werk uit.

Begin miskien klein, maar gaan dink waar jy van jou eie werk aan jou man kan delegeer. As hy nooit weet wat presies dit verg om die taxi te wees en al die ou dingetjies in die huis te doen nie, gaan hy jou harde werk nie noodwendig waardeer nie. Dit klink dalk kras, maar jy moet ’n bietjie tough love toepas en die bal aangee.

Wees spesifiek en bly by die huisbegroting

As ons nie die konsep van spanwerk snap nie, gaan ons altyd oorwerk, oorweldig en wrewelrig in die huwelik voel. Huiswerk is baie soos ’n begroting – niemand het vanself spaargeld nie. Niemand belê geld sonder om te beplan en die moontlikhede te oorweeg nie. Indien jy volgens jou begroting leef, leef jy met baie meer vrede en minder konflik. Net so met ’n huisbegroting.

Vra jou man of hy jou met een of twee dinge kan help. Maak vooraf ’n lysie en wys vir hom wat jou spesifieke uitdaging is. Mans hou van praktiese oplossings en vaar beter met visuele goed (soos die lysie) as met emosionele lysies wat ons in ons moegheid en frustrasie aframmel. Onthou tog om jou eie waardering uit te spreek as hy gehelp het.

As jy ongewaardeerd voel, help dit absoluut niks om soos ’n hartseer treurwilger of ’n gelaaide wapen rond te loop nie. Speak your mind! Hoe meer jy leer om spesifiek te wees in jou versoek vir waardering, hoe makliker vir jou man om te weet presies wat jy wil hê.

Onthou dat ’n moeë vrou ook maar mag vra en uitdeel. Jy is getroud om die vennootskap te geniet. Maak daarom seker jou vennoot ken jou hart!

Gretha Wiid, huwelikskenner