Die waardes wat Demi Lee Moore vorm

1117

Sy is die musiekpubliek se nuwe goue meisie met die groot stem wat die gróót kontrak kon inpalm. Maar om met oorgawe te sing is nie al wat DEMI LEE MOORE plesier gee nie.

Die een oomblik het sy nog gesit en smul aan haar bord sushi, die volgende oomblik moes sy opspring en probeer vang.

“Ek het my boeglam geskrik,” onthou Demi Lee daardie vreesaanjaende gebeurtenis in die sushi-restaurant. “Die vrou by die tafel langs ons s’n het skielik net omgekap.”

Eers vorentoe gewieg, toe agteroor … en toe is ons goue meisie op haar voete en reg om te help.

“Iemand! Kry hulp!” het sy oor die restaurantgangers se koppe geskree terwyl die trane spat.

Nugter. Prakties. Positief.

Daar sit Demi vir ’n uur plat op die grond, met die vrou ingewikkel tussen haar bene, vir die ambulans en wag. Dit is tipies van die meisie agter die groot stem. Plat op die aarde.

“Dit sal gaaf wees as iemand dit eendag vir my ook doen op daardie ouderdom,” sê sy met dieselfde breë glimlag wat haar diep in mense se harte laat inkruip het.

Daar is ’n ontspanne ongeërgdheid aan haar. Met haar vlasblonde hare en blou oë laat sy jou onwillekeurig aan ’n luilekker somervakansie dink.

Maar daar is ook ’n diepte wat onder die mooi oppervlak skuil.

Demi Lee se nuutgevonde bekendheid in die musiekwêreld het ’n klomp deure laat oopswaai, maar dis nie al wat sy uit die lewe wil hê nie.

In haar eie woorde: Gaaf, vriendelik, iemand wat omgee. Daar is ’n paar dinge waarvan daar méér moet wees in my lewe, en hierdie eienskappe staan boaan die lys.

Die dag as my stem kwyn of niemand meer na my musiek wil luister nie, moet mense my só onthou. Nie vir die liedjies wat ek gesing het of hoe dit geklink het nie, maar hoe ek teenoor ander mense opgetree het. Ander laat voel het.

Daar is ’n gesegde en dis dalk geyk, maar dit het iewers vasgesteek: In a world where you can be anything, be kind.

Wees gaaf. Punt. Dis iets om elke dag na te streef.

Een van die grootste komplimente is mense wat ná ’n vertoning ’n geselsie kom aanknoop en so tussendeur en half verbaas laat val: “Maar jy is so nederig…”

Dankie! Hierdie woorde dra selfs meer gewig as: “Jy het mooi gesing”. Ek is vasbeslote dat dit so moet bly. Daar is amper niks in die lewe so erg soos hoogmoed nie. Mag ek asseblief tog net nooit neus in die lug rondloop nie!

Talent, sukses, jou vlietende oomblikkie in die kollig… kan enige tyd verdwyn, en dan word jy onthou vir die mens wat jy was. Nie vir my sterk stem nie, maar vir ’n goeie hart, iemand met empatie en goeie bedoelings. Dis iets wat ek nooit wil vergeet nie.

Dis regtig lekker om liefde te wýs. Om in te spring en te help. Moeite te doen met mense. Die klein goedjies. Wanneer ’n ou oom sukkel om sy inkopiesakke uit die winkel te dra, is dit moeilik om hom te ignoreer. Kort voor lank loop ons al geselsend na sy kar toe en laai saam-saam die sakke in.

Dalk het dit iets te doen met ’n ervaring wat my hulpeloos en weerloos laat voel het.

’n Eindelose geboelie was ’n ruk lank my lot op hoërskool. Dit het so erg geraak dat van die kinders selfs doodsdreigemente gemaak het… en dit nadat my hare gesny is.

Daar is vertel dat ek soos iemand anders probeer lyk het. Toe las elkeen sy stertjie by en kort voor lank vlug ek elke pouse badkamer toe en gaan sit huilend agter ’n toe deur – darem veilig uit die pad van die boelies, wat ’n kringetjie kom maak en my verskree en slegsê. So ’n ondervinding maak ’n mens gelukkig sterker.

Ma Marlene is my grootste inspirasie. Die sterkste én sagste vrou wat ek ken. Sy het die situasie gebruik om begrip te kweek.

“Dems, mense wat ander teiken, dra iets in hulleself rond wat maak dat hulle jou wil seermaak,” was haar woorde. Om dit te snap het dinge sommer beter gemaak, totdat dit oorgewaai het.

Die les hieruit wat my persoonlikheid help vorm het: Moet nooit lelik wees met enigeen nie. Niemand van ons is perfek nie en jy wonder partymaal of jy goed genoeg is. Daar sal altyd iemand beter wees, en dis ook oukei. Gelukkig is daar diep binne-in die besef dat elkeen uniek is, en dít maak ons spesiaal.

’n Voorbeeld: Ek is nie die kleinste persoon onder die son nie. Ek is langer as die meeste van my kollegas. Maar ek hou daarvan, en ek dra hoë hakke met trots. I like to stand tall. Daar is nie tyd om jou te bekommer oor dinge waaraan jy niks kan doen nie.

Dis nogal vreemd, maar daar is altyd iemand wat net nie ’n goeie woord vir, of oor, my kan sê nie. Hulle sal aspris nie groet nie of uit hulle pad gaan om seker te maak ’n mens voel net só groot. Party praat agteraf of maak beloftes wat hulle nie hou nie. Ai tog, die teleurstelling! My hart raak seer.

Aan die ander kant: Dankie, want nou weet ek: Dís hoe dit voel. Jy sal my nie vang dat ek dieselfde aan iemand anders doen nie.

Om dit te bevestig gee ousus Aimee my nou die dag die mooiste kompliment. “Jy is iemand om na op te sien, Sussa,” was haar woorde, “want jy hou daarvan as ander suksesvol is.”

Dis nogal waar. Dit is baie bevredigend om iemand te sien blom. Dit vat niks van my weg as jy goed doen in jou lewe nie. Daar is ’n plekkie in die son vir ons almal. Geniet daardie oomblik.

Ons het grootgeword met ’n verskriklik positiewe ingesteldheid. In ons ouerhuis was daar nie plek om in die hoekie te gaan sit en jouself jammer te kry nie. Ons het oor dinge gepraat, dit uitgeredeneer en dan saam ’n plan gemaak.

As dit met een sleg gaan, gaan soek almal na die positiewe in die situasie. Ons kla nie.

Soos Aimee, wat in ’n grusame ongeluk die helfte van haar voet verloor het. Ek het haar nog nie een keer hoor brom daaroor nie. Sy is eerder dankbaar, want sy het nog haar voet.

As ons ouerhuis kon praat, sou dit sing. Daar is gesing voor die opwasbak, terwyl ek help huis skoonmaak het, eintlik heeltyd. Die res van die gesin het later in die gang af gegil: “Hou tog asseblief net ’n bietjie op!” Ja, goed. Tot volgende keer.

Ons huis sou ook gelag het as hy kon. My hartsmense sal my beskryf as iemand met ’n mooi hart, maar sal waarskynlik ook woorde gebruik soos snaaks, hou van lag, lief vir grappe.

Hier, onder mekaar, word daar altyd gelag. As ons drie muske-tiers – dis nou ek, my ma en my sussie – bymekaar kom, sing en lag ons kliphard saam. Hoe kan ’n mens daarsonder funksioneer?

En oe, om net lekker te kan gesels. Op die lughawe terwyl ons toustaan, in ’n restaurant se badkamer, enige plek en enige mens is ’n goeie rede om ’n geselsie aan te knoop. Ek waardeer veral mense wat regtig luister.

Poetse bak is ’n nog gunstelingtydverdryf as daar nie gesing, gelag of gesels word nie. Aimee word gewoonlik onder op die trap ingewag. Sy kry elke keer amper ’n hartaanval van die skrik.

Met my kêrel, Barthlo, sal ek onder die bed gaan wegkruip, en dan uitspring as hy dit die minste verwag. “Whaaa!

Ons hou van speel. Dis dalk hoekom my en Barthlo se Disneyland-daguitstappie in Parys een van ons grootste hoogtepunte tot dusver was.

Daarna het ons geskerts dat nie eens ons troudag eendag so wonderlik gaan wees nie. Die ritte, die onbeskryflike detail daarin, die energieke atmosfeer en opwinding… sjoe! Dit was ongelooflik. Ek word soos ’n kind as dit by sulke goed kom.

Reis is ook ’n groot plesier. Daarvan wil ek nog baie doen, om ander tale en kulture te ervaar.

Elke jaar word daar hard gespaar om oorsee te gaan. So het ons al reg oor Europa, Israel, Thailand en baie ander plekke getoer. Die ou geskiedenis van duisende jare gelede in stede soos Rome slaan doodeenvoudig my asem weg.

Een van die klein dingetjies waarteen ek soms ’n innerlike stryd voer, is angstigheid. Dit kom dalk van my pa se dood af, en die feit dat ek bang is om iemand na aan my te verloor.

Water help ook om my rustig te maak. Ek is nie sportief nie, maar watersport is die uitsondering. Ski, wakeboarding… om met hierdie vloeibare kalmte omring te wees. Verkieslik saam met familie en vriende, langs ’n braaivleisvuur, met Barthlo en sy kitaar en ons almal wat saam kuier en sing.

My klein kringetjie vriende is soos familie. Mense wat in my glo en my die beste gun. Wat al vir jare ondersteuning gee en weet hoe hard ek gewerk het om tot hier te kon kom.

Ons sal enigiets vir mekaar doen en is altyd oop en eerlik. As een van hulle droogmaak, sal ek nie skroom om te sê: “Hei, wat is jy besig om te doen?” nie.

Ek is ’n baie reguit mens. Eerlikheid is die een eienskap wat diep in my ingeweef is.

Jare terug het Ma op ’n dag gesê: “Onthou, my kind, as jy een keer vir my gaan jok, gaan ek jou nooit weer in my lewe vertrou nie.” Ook: “Jy het net een naam. Pas hom op.”

Haar woorde het ’n groot indruk gemaak. Ons het toe al baie respek vir haar gehad, in so ’n mate dat ek nog nooit in my hele lewe nodig gehad het om vir haar te jok nie. Regtig!

Sy was nooit streng nie, eerder iemand wat verstaan. “Julle is jonk. Julle moet leer.” Haar enigste reël was dat sy altyd wou weet waar ons was.

Met hierdie tipe vertroue was daar nie eintlik rede om te brou nie. Dit was eerder aanmoediging om beter keuses te maak.

Soos die keer toe ons klomp by ’n vriendin gaan oorslaap het. Almal wou die aand skelm by die huis uitsluip, sommer in die pad af na die dam toe.

“Mamma, ons gaan net gou uitsneak hier na so-en-so se huis,” het ek ewe verantwoordelik gebel. “Maar moenie bekommerd wees nie. My foon is hier, ingeval Ma my soek… maar ons sal oukei wees.”

Min het verander. Vandag nog weet sy alles. Omdat sy so oop is, het ’n mens die vrymoedigheid om enigiets met haar te deel. Ons praat oor elke enkele ding. Dis ’n voorreg om so ’n ongelooflike verhouding te hê.

Nog ’n kosbare verhouding is my geloof in God. Alles het verander met my suster se ongeluk. My siening oor die lewe is omgedop. In daardie oomblikke van smeek vir haar lewe, het die besef posgevat: Dit gaan nie oor my nie. Daar is ’n baie groter doel agter alles.

Ek het basies oorgegee aan die Here. Vrese, hoop, drome, alles. In ’n lewe-en-dood-situasie kom ’n mens gou tot die besef dat jy eintlik niks anders kan doen behalwe om te vertrou nie.

Ons het in ’n gelowige huis grootgeword, maar soms moet ’n mens eers tot by die punt van oorgee gedryf word om werklik te weet wat geloof beteken.

Om te bid oor alles, te vra om gelei te word in elke besluit – dit was die deurbraak. Van daar af het dinge net begin gebeur. Deure het oopgegaan, hartsbegeertes is verwesenlik.

As dit nie vir hierdie totale oorgawe was nie, sou ek nie vandag op hierdie plek gewees het nie. Geen kompetisie. Geen wentitel. Hy moet al die eer daarvoor kry.

Wat wil ek nog uit die lewe hê? Groei saam met Barthlo, hartsmense geniet, trou en nog lank musiek maak. Eintlik om sommer net gelukkig te wees. Maar wag, ek is alreeds.

Die lewe voel soos een groot fees. Dit sal lekker wees as alles net so kan bly.