Die waarheid oor kosmetiese foefies

0
360
Moria Sewald

Moria Sewald, van Maatband, vertel watter skoonheids behandelings werk en watter is sommer geldmors.

Jy het skoonheidsprodukte en skoonheidsbehandelings ewe nodig

Sommige Suid-Afrikaanse vroue kan lewenslank net Vaseline gebruik en op vyftigjarige ouderdom het hulle steeds nie ’n enkele plooi nie. Maar mense se velle verskil, en die meeste van ons het daardie ekstra velvoedende bestanddele nodig. Dit gaan jy net vind in ’n uitstekende skoonheidsroom soos Filorga Time Filler. Wil jy die horlosie terugdraai? Wil jy vinnige en blywende resultate op jou gesig of lyf sien? Dan moet jy beslis gebruik maak van estetiese behandelings soos dermarolling. Skoonheidsprodukte verryk die behandelings wat estetiese dokters toepas. Die twee pas inmekaar soos ’n legkaart.

Die bekostigbaarste behandelings behels naalde (maar nie Botox nie)

In die vier jaar wat ek die program aanbied, het daar twee behandelings uitgestaan, in so ’n mate dat ek deesdae meestal verkies om sonder grimering te wees. En as jy my vantevore geken het, sal jy weet ’n naakte gesig was taboe! Die behandelings wat regtig my gesig verjong, is mesoterapie en dermarolling. Albei prosedures maak gebruik van naalde wat die vel oppervlakkig binnedring. Mesoterapie behels dat jy inspuitings kry met ’n “vitamienmengeldrankie” vir jou vel. Die DermaRoller is ’n klein rollertjie met veelvuldige naalde wat oor jou vel gemasseer word. Sodoende kan jou vel jou skoonheidsrome beter absorbeer. Hierdie prosedures is bekostigbaar en kan werklik daardie fyn plooitjies op jou gesig verwyder. Ek vind dat ek die meeste komplimente kry wanneer ek een van die twee velsorgterapieë gehad het.

Die naakte waarheid oor kosmetiese prosedures

1. Die meeste estetiese prosedures maak seer. Gelukkig is daar rome en inspuitings wat help om die pyn draaglik te maak.
2. Minder is meer! Die beste behandelings is dié wat jou natuurlike voorkoms verbeter sonder om jou gesondheid skade aan te doen. Jy vertrou immers jou dokter met jou grootste bates – jou liggaam, gesig en gesondheid.
3. Soek ’n dokter wat by jou persoonlikheid pas. Daar is baie dokters in Suid-Afrika wat kan help met skewe tande, ’n krom neus, dun lippe of selluliet. Maar as hy van Angelina Jolie-lippe hou en dis nie wie jy is nie, kan jy jou geld mors.
4. Daar is geen kitsoplossing vir selluliet of vet nie. Dit gaan altyd terugkom tensy jy hard en aanhoudend daaraan werk. Dit is werklikwaar ’n leefstyl – en ek weet vir die meeste van ons is “leefstyl” ’n vloekwoord!

Geskryf deur Ryno Mulder