“Die wêreld draai nie om jou en jou gemak nie”

0
1847

Galileo was ’n wiskundige, ’n sterrekundige en ’n fisikus, een van die heel eerste mense wat die hemelruim met ’n teleskoop bestudeer het.

Dit het daartoe gelei dat hy Copernicus se teorie aanvaar het, wat sê dat die aarde om die son wentel en nie andersom nie.

Die gedagte dat ons planeet nie die middelpunt van die heelal is nie, het die kerkmense van sy tyd erg ontstel. Hulle dwing hom om sy opvattings te laat vaar. Hy word selfs in die tronk gegooi! Sy straf is gelukkig versag tot lewenslange huisarres, waar hy later blind word en sterf.

Vandag sal enige redelike mens erken dat Galileo reg was en die kerkleiers nie net verkeerd nie, maar ook wreed en onredelik. Dat die waarheid vir hulle minder belangrik was as die kerkpolitiek waarin hulle so vasgevang was.

Iemand het eenkeer gesê dat die geskiedenis ons leer dat die geskiedenis ons niks leer nie… Dieselfde ontsteltenis van die kerkmense van daardie tyd vind ons vandag ook maar op ander maniere in onsself.

Dis nooit lekker om uit te vind dat jy nie die middelpunt is nie – en om dan boonop te moet erken dat jy toe al die tyd verkeerd was! Miskien is dit omdat elkeen van ons van binne onsself af uitkyk na die wêreld. Ons kan nie anders nie, ons is vasgevang in ons subjektiewe eiebelang.

Luister jy na mense om die braaivleisvure kry jy dikwels die gevoel dat die hele wêreld, die politiek en die ekonomie, selfs die natuur, eintlik maar om “ons” en “ons mense” draai. Die kans is goed dat jy dieselfde aand by ander vure op ander plekke in ander tale dieselfde ding sal hoor.

Dis egter nie net ons wat so redeneer nie. Gaan kyk maar na die lewens van ateïstiese leiers soos Napoleon, Stalin, Mussolini, Pol Pot en Mao Zedong. Hulle was nie minder genadig met mense wat hulle daarop gewys het dat hulle en hulle groepie nie die middelpunt van alles was nie. Inteendeel.

Party voel selfs dat die geestelike wêreld om hulle draai. God werk eintlik vir hulle. Die lewe gaan oor hulle eie gemak en rykdom. Hy is maar een van die rolspelers wat moet help om dit moontlik te maak.

As daar nou een ding is wat mense in die Bybelse tyd moes uitvind, was dit dat hulle nié die middelpunt was nie. Jona moes hoor dat dit eintlik oor die mense van Nineve gegaan het, en nie oor hom nie. Abraham moes uitvind dat God hom voorspoedig wou maak om ’n seën te wees vir die nasies.

Jesus waarsku dat dié wat Hom wil volg, hulle kruis moet opneem. En dat, eers as jy iets groot genoeg ontdek om voor te sterf, jy iets groot genoeg sal hê om voor te lewe. Dat daar ’n groter droom is as onsself, naamlik Sy droom vir hierdie wêreld.

Ek onthou hoe ek as tiener op ’n kerkkamp was. Ons is aangesê om Johannes 3:16 te memoriseer, maar ons moes eers die versie so ’n klein bietjie verander. Ons moes “wêreld” vervang met “my” en “ek”.

“God het die wêreld (my) so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié (ek) wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” Dis alles goed en wel, maar daar staan tog oorspronklik “wêreld” en nie “my” nie!

Dus, ek is nie die middelpunt nie, ek is maar ’n klein deeltjie van die groter prentjie. Juis daarom kan my en jou vryheid nie losgemaak word van die res van die wêreld nie. “Your freedom is my freedom,” sê iemand nou die dag.

Ons is veronderstel om die eerste mense te wees wat dit erken. Ons word uitgestuur om ons lewens te gee vir ’n stukkende wêreld, om ons “kruise te dra”, “soos skape tussen wolwe in”. Om die evangelie te verkondig, hoop te bring vir dié wat weerloos is en om vredemakers te wees.

As ons dít besef, word ons bewus daarvan dat die gebrokenheid van hierdie wêreld vir God belangriker is as die gemak en selfs die veiligheid van Sy kinders. Hy stuur ons uit “want so lief het Hy die wêreld” steeds!

Jaco Strydom is ’n predikant in Pretoria, blogger en leier van die Echo-gemeenskap.

Koop Jaco se boek Confessions oor Kerkwees aanlyn by voelgoedboeke.co.za