Die werklikheid van besig wees

778

Nie hóé besig jy is nie, maar hóékom is wat saak maak. Lewensafrigters soos Catherine van Heerden, Raché Rutherford en Amanda Swanepoel help jou om weer beheer oor jou lewe en prioriteite te kry.

Besig wees is in die mode. Om al die balle in die lug te hou is in.

Jy wil mos net die beste gee vir jou gesin. Of jy kan nie anders as om ure by die werk deur te bring nie, want jou pos is in die gedrang. Jy voel lui as jy nie saam met vriendinne kan kla oor alles jy wat moet doen nie.

Maar hoe besiger ’n mens raak, hoe minder tyd is daar vir die dinge of mense wat jou hart vinniger laat klop. Dis juis dit wat die kosbaarste is wat dan in die slag bly.

Besig wees dreineer ’n mens se liggaam en gees. Jou lewe raak buite beheer en jy is naby aan uitbrand.

Wees eerlik: Is alles wat jy elke dag doen, regtig nodig?

Mense wat te veel hooi op die vurk het, voel dat hulle “vinnig” leef, maar nie “diep” nie. Hulle bereik miskien baie, maar ware tevredenheid lê dieper onder die oppervlak. Dit verg tyd om daarby uit te kom.

Werk is deel van die lewe. Daarom sál sekere tye dol wees. Maar as jy altyd moeg en aan die rondhardloop is, moet iets verander!

Dit gaan nie noodwendig oor hóé besig jy is nie, maar oor hóékom jy so besig is.

Dis belangrik om uit te pluis waarom jy elke dag so volprop. Jy laai dalk te veel hooi op jou vurk omdat jy op een van die volgende maniere besig is…

HONGER NA SUKSES-besig

Almal het ’n behoefte om iets besonders met hulle lewe te doen. Daarom het jy baie drome en ambisie. Jy sal al jou tyd gee ter wille van erkenning en prestasie.

OPLOSSING:

Hierdie ambisie kan ’n positiewe of negatiewe impak hê. Hitler het baie ambisie gehad. Maar ons ken die storie van ’n wrede geskiedenis en diep wonde in die harte van miljoene mense.

Dis maklik om ’n selfsugtige, wêreldse ingesteldheid te hê wat net op die eie ek fokus. As ’n strewe na sukses jou dryf om ongebalanseerd te wees, kan dit ’n probleem raak. Ander waardes behoort belangriker te wees: liefde, omgee, diensbaarheid.

Onthou, jy is ’n komplekse wese wat geestelike, emosionele, sosiale, finansiële, intieme, intellektuele en fisiese behoeftes het.

Jou ambisies behoort egter eweredig oor al hierdie dimensies versprei te wees. Die gebruik van jou tyd behoort gewig aan elke kant van jou volle menswees toe te voeg, anders verloor jy balans.

Ons almal het presies dieselfde getal ure in ’n dag. Tyd kan dus nie bestuur word nie. Ons prioriteite en aktiwiteite kan wel gemonitor en bestuur word.

Dit gaan nie daaroor om meer tyd in elke dag te vind nie. Die geheim lê daarin om jou ambisies te prioritiseer en so te bestuur dat jy in alle fasette groei.

As ’n mens gelukkig is, het jy ongeveer 70 tot 80 jaar om jou talente te ontdek en maniere te vind om dit uit te leef.

Maar behou perspektief. Wees bedag op die areas van jou lewe waar jy uit balans raak en dink aan die langtermyngevolge daarvan.

DIT KAN LATER AANDAG KRY-besig

Besig wees kan maklik ’n kruk word om sekere dinge te vermy. “Ek is te besig om nou aandag te gee.” “Ek kan nie nou die probleem oplos nie. Ek moet gou eers iets anders doen.”

OPLOSSING:

Elke keer wat jy hierdie woorde sê, staan die persoon een treetjie terug. Elke treetjie bring meer afstand en sommer gou staan jy alleen.

Die afstand het so groot geword dat daar ’n brug gebou moet om daardie verhouding te herstel.

Wanneer jy te besig is om by dinge wat regtig saak maak, uit te kom, besef jy dit nie altyd nie. Almal om jou is gewoonlik bewus daarvan, behalwe jy!

Tegnologie is die beste ding wat met ons kon gebeur het, maar dit is ook die euwel wat besig wees konstant in jou hand plaas.

Jy moet net gou die teksboodskap lees of kyk of iemand die e-pos beantwoord het. Dit beteken dat die persoon wat voor jou sit, se tyd gesteel word.

Jou vriendin ervaar dit as disrespekvol wanneer jou foon piep en jy kies om ’n teksboodskap te antwoord terwyl julle koffie drink.

Jy moet ook tyd vir jouself maak en dit in ’n dagboek aanteken. Tyd om reg (en rustig!) te eet. Tyd om af te skakel voor slaaptyd. Tyd om in skermvrye sones (jou slaapkamer, stoep of tuin) deur te bring. Tyd om te mediteer. Tyd saam met geliefdes.

Dit vat ’n doelbewuste besluit en daadwerklike aksie om tyd te maak vir jou binnekring-mense, jou gesondheid en om stil te raak.

ANDER SE OPINIES IS BELANGRIK-besig

Mense, die media en ou, verkeerde gewoontes kan jou drie grootste vyande word. As dit wat ander oor jou lewe dink, belangriker word as die vrede in jou binneste, moet jy briek aandraai.

OPLOSSING:

Elke mens leef in twee wêrelde: die een in die binnekant en die een aan die buitekant.

Ons binnewêreld word beheer deur wat ons dink en voel, wat ons toelaat om ons te beïnvloed, en soortgelyke kop- en hartgesprekke.

Ons buitewêreld word beheer deur wat ons hoor, lees, sien en hoe ons ons daardeur laat beïnvloed.

Daar is gans te veel inmenging van buite af, juis ook omdat ons nie krities genoeg kyk na dit wat in die media opgedis word nie.

Waarom ontstel dit jou as ’n vriendin foto’s op Facebook sit van haar oorsese vakansie? Of van haar kinders se prestasies? Moenie haar beste oomblikke met jou slegste tye vergelyk nie!

Kies om eerder na jou innerlike wêreld te luister en te kyk. Sodra dit wat ander dink, jou begin pla, dink eers: Wie sê wat vir my? Is dit iemand wat beter as ekself my persoonlike lewe ken en verstaan?

Daar is ’n paar basiese beginsels wat moet deel word van ons beplanning. Dis stil word en om spesifiek en kreatief te dink oor die dag van môre en die dae daarna.

Daaruit vloei selfkennis, wat ons oopstel om onsself te leer ken. Soms dra jy egter oogklappe en wil nie die waarheid raaksien nie.

Jou hart fluister wel soms die name van mense wat jou kan help om meer van jouself te leer. Dis buitestemme wat jou wil reghelp uit liefde en met net die beste bedoelings.

DIE LEWE IS TE MOEILIK-besig

Wanneer jou program oorvol raak, skei jy makliker die streshormoon kortisol af. Dit laat ’n mens moeg voel en verswak jou konsentrasie en oordeel. Jy vergeet, voel angstig en depressief en dat alles te veel word.

OPLOSSING:

Meer nog, slegs vyf minute van negatiwiteit het ’n ses uur lange negatiewe invloed op die immuunsisteem. Jy word dus gouer siek.

Elke gedagte wat aanhoudend deur die brein gaan, verander die bedrading daarvan. As jy konstant sê of dink “ek is te besig”, word daardie neurone bedraad met “dis oorweldigend”. Die liggaam reageer met negatiewe hormone en jy bly moeg en ongelukkig.

Ons weet dat positiewe emosies, aan die ander kant, goedvoelhormone afskei. Dit maak jou nie net gesonder en verminder stres nie, maar kan jou ook langer laat leef.

Miskien is dit waarom die navorsing wys dat gelukkige mense nie noodwendig minder besig is nie. Hulle kan bloot die lewe beter hanteer.

Daar is eenvoudige dinge wat ’n mens kan doen om gelukkig te wees, ten spyte van ’n besige program.

Maak seker dat vir elke negatiewe ding wat jy vir jouself sê, daar ten minste drie positiewe dinge ook is.

’n Dankbare ingesteldheid het groot krag. Seligman, ’n psigiater, het depressiewe pasiënte vir drie weke lank elke dag aan net drie dinge laat dink waarvoor hulle dankbaar is. Die resultaat: 94% se depressie het afgeneem.

Wissel hierdie drie dinge elke dag af, anders raak jy daaraan gewoond en verloor dit effek.

Bedraad jou brein positief deur elke oggend te sê: “Ek is gelukkig en ontspanne. Alles sal vandag uitwerk soos dit moet.” Spring dan uit die bed en gryp die dag!

MEER DOEN IS SUKSESVOL-besig

As jy ’n perfeksionistiese “pliggie” is, wil jy altyd net meer en meer doen. Eers is dit ’n uitsondering, een aand se laat werk, maar dit word vinnig ’n leefwyse wat jou insluk.

OPLOSSING:

Jy begin later glo dat sukses, voorspoed en geluk aan ’n oorvol dagboek gekoppel word.

Besigwees is ’n gerieflike verskoning en word met sukses verwar. Dit kan ’n baie eensame wêreld word, ’n wêreld waarin jy jouself en dié wat vir jou omgee, kan verloor.

Eendag sal jy besef dat ’n halfuur se speel op die gras, of tyd vir ’n onseker tiener se probleem nie veel verskil aan jou bankbalans sou maak nie. Dit kon egter ’n verskil in hulle lewe of in julle verhouding maak.

Ons beplan graag elke dag haarfyn om seker te maak dat elke sekonde benut word.

Tyd saam met geliefdes en vriende is veronderstel om deel van hierdie beplanning te wees.

Het jy al daaraan gedink dat jou emmer gaan leeg word as die kraantjie aan die onderkant bly loop en niemand iets aan die bokant ingooi nie? Daardie emmer word volgemaak met die liefde en omgee van jou gesin, vriendinne en kollegas.

Maar dit kan net gebeur as jy beskikbaar is. Maak dus tyd wat kosbare herinneringe vir jou, maar ook vir die persone naby aan jou, gaan skep. Hou op om redes te soek waarom jy altyd besig moet wees.

Daar is beleggings wat baie meer werd is as geld. Maak daardie belegging vandag en geniet die rente vir die res van die lewe!

WEET NIE HOE OM TE RUS NIE-besig

Ons hunker almal na die idilliese lekkerte om niks te doen nie, maar as ons die kans kry, weet ons nie hoe om dit te doen nie! Ons weet nie meer hoe om net te wéés nie. Selfs in nie-werkstye is almal oor-besig.

OPLOSSING:

Ons raak gou verslaaf aan besig wees. Dit kan ook nie anders nie, want elke keer wat iets vinnig afgehandel word, skei die brein dopamien af. Dopamien se werking is soos dié van kokaïen. Dit is een van die verslawings van ons tyd – en dit gebeur in jou kop.

Die probleem is dat ’n mens se aandag en energie te wyd verspreid is. Wanneer jy egter konsentreer op een taak wat al jou aandag vereis, is jy, volgens sielkundiges, in flow.

Jy voel dan nie emosioneel oorweldig nie. Jy voel goed, al is jy besig.

Die kuns is dus om al jou aandag en energie op een aktiwiteit te fokus. Waar passie en prioriteite mekaar in ’n gefokusde aktiwiteit ontmoet, vloei daar positiewe energie.

Die teenoorgestelde van besig wees is nie noodwendig niksdoen nie. Dis eerder om te fokus op ’n aktiwiteit wat werklik saak maak en jou volle aandag daaraan te gee. Dit verg selfdissipline om dit gereeld te doen, maar dit laat ’n mens herlaai.

Dis ’n ingesteldheid. Jy moet die moeilike keuses maak om op die belangrike goed te fokus en energie daarvoor te reserveer. Dis alles in jou kop!

KAN NIE NEE SÊ NIE-besig

Dis lekker om te werk vir ’n spesiale droom. Die probleem ontstaan wanneer jy te veel tyd bestee aan een aspek van jou lewe. Dit veroorsaak ’n wanbalans wat jou werk, verhoudings en gesondheid affekteer.

OPLOSSING:

Ons maak elke dag keuses wat veroorsaak dat ons ná die tyd spyt is en dan die gevolge van daardie aksies en keuses moet dra. Dit geld ook vir waarvoor en vir wie ons ja sê en waar ons die lyn trek in ons besige programme.

Is dit moontlik om ’n liniaal met een vinger vas te druk en dan met die ander hand ’n reguit lyn te trek? Nie sommer nie – die liniaal sal kantel sodra die gewig van die pen druk daarteen uitoefen.

Wanneer jy egter met die hele hand of met al jou vingers die liniaal vasdruk, is dit ’n ander saak. Met die regte druk en balans sal jy wel ’n reguit lyn kan trek.

Een van die maniere om groter balans te kry, is om te weet wanneer, waar en hoe om daardie lyn te trek. Anders sal jy voel jy is stadigaan aan die sink. Iemand het die prop uitgetrek en jy gaan binnekort saam met die badwater in die drein afspoel.

Stel ’n prioriteitslys op, een wat prakties en uitvoerbaar is. Plak dit teen die yskas, ’n spieël of in jou kas. Of stel ’n reminder op jou slimfoon.

Maak seker dat jy die lyn deur sekere take trek, sodat jy by die ander dinge wat ook belangrik is, kan uitkom.

ALTYD IETS OM OOR SKULDIG TE VOEL-besig

Om ’n besigheid te bedryf, die beste maat en vrou vir manlief, en mamma vir kleuters te wees, kan oorweldigend wees. Dan het jy nog nie eens by jouself uitgekom nie. Omdat jy skuldig voel, brand jy die kers aan albei kante.

OPLOSSING:

Vir baie vroue is dit elke dag ’n uitdaging. Wanneer jy tyd bestee by die werk, voel jy skuldig omdat jy nie by die kinders is nie. Wanneer jy saam met hulle op die mat speel, voel jy skuldig dat jy nie voor die rekenaar sit en werk nie.

Elke vrou moet besef dat sy die hart van die huis is, en haar prioriteite het ’n direkte invloed op die gesin. Jou geluk en tevredenheid bepaal die gevoel in julle huis.

Dit kan help om ’n roetine uit te werk vir elke belangrike aspek van jou lewe. So kan jy by alles uitkom en genoeg aandag en liefde gee waar dit nodig is. Almal weet ook presies wat van hulle verwag word.

Daar is baie beskuldigings waarmee jy jouself kan bombardeer, soos: Ek het te min selfvertroue. Ek het nie daarvoor beplan nie. Ek het nie tyd nie. Ek het te min ondervinding. Ek het nie die nodige kwalifikasies of genoeg geld nie.

Moenie te streng met jouself wees nie. Leer uit vorige foute en moenie bly terugkyk nie. Fokus op dit wat voorlê en hou die einddoel in gedagte.

Maak vrede met omstandighede. Hou op skuldig voel en maak die beste van elke oomblik, of dit nou by die huis, by die werk of saam met vriendinne is.

ANDER BEPAAL MY FOKUS EN PRIORITEITE-besig

Ons leef almal in hierdie eeu van “onmiddellik asseblief”. Dis soms ’n skok om te besef dat byna al jou “besig” met ander se dinge, lewens, verwagtings en waardes te doen het.

OPLOSSING:

Die meeste mense staan nooit die tyd af om regtig uit te vind wat daardie ware, eerlike, eie lewe is nie. Hulle dink hulle weet wat hulle persoonlike kernwaardes is, maar hulle is verkeerd.

Wie is jý werklik? Dink terug aan die gelukkigste, mees vervullende oomblikke van jou lewe. Bepaal nou hieruit jou topwaardes. Begin met tien en verminder die lysie soos dit duidelik word wat die topvyf is.

Dit kan dinge wees soos integriteit, familie, omgee, sukses, selfbeheersing, deeglikheid. As jy die keuses gemaak het en daaroor begin dink, is dit belangrik dat hierdie waardes jou goed laat voel. Dat jy dit graag met ander sal wil deel en dat dit deel sal vorm van jou besluite.

Kyk nou na jou lewe – aan wie se waardes word die meeste tyd afgestaan? Eenvoud is dalk vir jou belangrik, maar jy lei ’n gekompliseerde lewe om die skoonfamilie tevrede te stel.

As jou dink, praat en doen strook met dit wat vir jou belangrik is, sal jy tevrede en in beheer voel. Aan die ander kant voel ’n mens maklik verlore en onvervuld as daardie balans ontbreek.

Jou waardes is jou kompas: As dit nie reg is nie, dobber jy sonder rigting rond. Dit word ’n nimmereindigende kringloop, want jy voel onbevredig en prop die dae vol om jou gedagtes af te lei. En jy word al hoe besiger – met ander mense se prioriteite!

WERK IS BELANGRIKER AS SPEEL-besig

Jy is altyd ernstig en taakgedrewe en het skoon verleer om lekker uit jou maag te lag. Plig kom mos voor plesier. Dis net nie moontlik om af te skakel en jou kop skoon te maak nie.

OPLOSSING:

Die teenoorgestelde van “werk” is nie “rus” nie, maar “speel”. Om pret in elke dag in te vleg sal vir jou liggaam en siel meer beteken as ure se sit en rus.

Hoe dink jy oor elke dag: Is daar genoeg pret? Ken jy daardie binne-glimlag wanneer jy kies om nie ontsteld te raak oor mense se selfsugtige verwagtings nie?

Miskien wonder jy of dit moontlik is om die “vakansie-ek” in jou daaglikse lewe te inkorporeer. Veral in ’n kompeterende werksituasie? Moontlik twyfel jy of ’n speelsheid die beste resultate sal verseker.

Om pret en werk saam in die pot te gooi, vra beplanning sodat dit later ’n ingesteldheid of roetine word.

Dalk moet jy en jou gesin of jy en die kollegas besluit dat een van julle waardes van nou af “pret” sal wees. Vra gereeld vir mekaar: “Is dit nog lekker? Geniet julle dit nog?” Kom ooreen dat as dit nie meer lekker is nie, julle ’n nuwe plan sal bedink.

Skeduleer byvoorbeeld die vergadering by ’n koffiewinkel. Sodoende kry julle ’n vars perspektief op die agenda, met ander geure, geluide en atmosfeer in die agtergrond.

Pret sal vloei uit jou eie gedagtes en oorvloei in dade wanneer jy ingestel is om dit raak te sien en met ander te begin deel.

Die regte ingesteldheid bring vreugde en produktiwiteit in die lewe. En ’n vreugdevolle omgewing maak dat mense in elke aspek van hulle lewens beter presteer.

Wil jy graag minder besig wees? Ons daag jóú uit om die aanlyn kursus MAAK MEER TYD VIR JOUSELF te koop.

maak meer tyd MAAK MEER TYD VIR JOUSELF
(Aanlyn kursus vir jou foon, tablet en rekenaar)
Gustav Gous, Lynette Beer, Kobus Neethling en ander
R74 R149
Kliek op leesleerleef.co.za