Die “wilde” Boek is vol bewyse van groot genade

0
255

Die Bybel is ’n wilde boek. As jy ’n fliek van alles in die heilige Boek sou maak, sou dit ’n twee tot agttien ouderdomsbeperking hê.

Daar is mooi en heilige dinge, maar ook ’n klomp bedrog, geweld, verraad, leuens, twyfel, wilde seks en moord. Dis net ’n vervelige boek as jy nie al die stories lees nie!

Die ergste is dat baie van hierdie wilde dinge deur geloofshelde gepleeg word: Moses vermoor ’n man, Dawid pleeg owerspel, Petrus verloën vir Jesus…

Daar is baie verskillende temas in die Bybel. Een van die sterkste temas is dié van God se mense wat droogmaak. Wat soos die verlore seun rebelleer, hulle eie pad begin stap en selfs tussen die varke beland.

Gelukkig is daar ook ’n ander lyn. Dié van ’n Pa wat nie opgee met Sy kinders nie. Moses het gedog dis verby na hy moord gepleeg het en vlug die woestyn in. Dan kom hy agter dat daar ’n groter plan is. So ook Dawid, Petrus en selfs Paulus, wat die vroeë kerk vervolg het.

Ek weet nie van jou nie, maar dit gee my hoop! Dis ’n groot dag as ek en jy persoonlik ontdek, soos Jesaja, dat God die geknakte riet nie afbreek nie. Of soos Paulus, dat ons op ons beste maar gekraakte kleipotte is met ’n skat binne-in.

Christene is veronderstel om die laaste mense te wees wat hoogmoedig neersien op die res van die wêreld. Ons is deel van ’n hele geskiedenis van weerlose mense wat dikwels misluk het. Ons is veronderstel om erg bewus te wees van ons eie tekortkominge.

Daar is niks wat ’n mens so afbring aarde toe as die besef dat daar geen hoop is sonder genade nie. Genade gee jou eerder ’n gevoel van dankbaarheid as van trots.

Mense wat blind is vir daardie hemelse genade vir hulleself, is dikwels wetties en veroordelend teenoor ander. Juis daarom is dit belangrik dat ek en jy gedurig die balk in ons eie oog sien, want slegs dan het ons die kans om die krag van genade te ontdek.

Niks genees jou so gou van geestelike hoogmoed as om net vir ’n oomblik eerlik na jouself onder ’n vergrootglas te kyk nie.

Die droogmakers en stukkende mense wat op Jesus se pad gekom het, was altyd verwonderd oor Sy empatie met hulle. Dink maar aan die vrou wat op owerspel betrap is of die Samaritaanse vrou by die put.

Of wat van Saggeus, die hooftollenaar? Tollenaars was bekend vir grootskaalse bedrog. Hulle was verraaiers wat namens die Romeine belasting onder hulle eie mense ingesamel het. Om alles te kroon, het hulle die mense verder uitgebuit deur geld vir hulleself in te samel deur hulle mag te misbruik.

Die hooftollenaar was in die godsdienstige Jode se oë die ergste van die lot. Die verhaal van Saggeus wat tot bekering kom, was dus vir hulle baie skokkend. Hulle het geglo dat God saam met hulle kwaad is vir die tollenaars. Die laaste ding wat hulle verwag het, was dat ’n hooftollenaar deur die Messias geroep sou word om een van Sy volgelinge en verteenwoordigers op aarde te word.

Ek en jy word ook geroep om die wêreld te verbaas. Ons moet besef wie ons is en watter rol Sy goedheid in ons lewens speel. Dan kan ons ook die onwaarskynlike regkry deur genade te bewys aan die mense in ons samelewing wat dit skynbaar die minste verdien.

Wat is tog die alternatief? Dat slegs die mense wat goed genoeg is, genade kry? Dan is dit nie meer genade nie. Genade beteken dat iemand iets kry wat hy of sy nie verdien nie.

Die plek waar genade sekerlik die duidelikste gesien word, is by die kruis. Jesus beleef empatie met die mense wat Hom kruisig – nog voor hulle tot inkeer kom – met die gebed: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Lukas 23:34).

Dit klink onregverdig, nie waar nie? Maar as dit regverdig was, was dit nie genade nie, dan was dit verdienste. Dit help my nogal om te besef dat Hy waarskynlik ook daardie gebed vir my gebid het – en hopelik steeds bid.

Jaco Strydom is ’n predikant in Pretoria, blogger en leier van die Echo-gemeenskap.

Koop Jaco se boek Confessions oor Kerkwees aanlyn by voelgoedboeke.co.za