DIE WINDPOMP

Dit is nogal merkwaardig dat die afbeelding van die windpomp so ‘n bemarkbare produk geword het. Ek sien die windpomp se afbeelding deesdae op koffiebekers, tafeldoeke, handsakke en selfs klere.

Die feit dat die windpomp eintlik net ‘n harde staal struktuur is wat met boerdery te make het, maak dit vir my merkwaardig dat dit eintlik vroue is wat so ‘n groot begrip vir die windpomp toon. Sien vrouens dan meer as net ‘n driehoekige staal struktuur met die kop wat in die wind in die rondte draai?

Of dit nou op die mees afgeleë plaas in die Karoo is, die grasvlaktes van die Vrystaat, ‘n kleinhoewe naby ‘n dorp of ‘n bosagtige wildsplaas, die windpomp staan sy staan – in gietende reën, knellende droogte, verwoestende winde of skroeiende son.

Al lyk dit of die landskap om die windpomp vergaan, staan die windpomp daar as ‘n baken – ‘n baken van hoop, want solank as wat die windpomp daar is, is daar nog ‘n kans dat mens en dier water sal kry. Vir mens en dier om nog ‘n dag langer aan te hou, uit te hou, te bly glo dat môre ‘n beter dag sal wees. ‘n Nuwe seisoen van voorspoed af te wag.

‘n Windpomp gaan soek nie na die wind nie, hy wag vir die wind om te waai. Op die regte tyd sal die wind waai. En as die wind waai, dan gaan haal die windpomp die water so diep as wat hy moontlik kan en bring dit na bo vir almal om te drink. Vars water. Wie ookal wil drink kan maar drink.

As jy die windpomp in die verte sien, weet jy dit is die plek waar jy water kan kry. Jy moet net soontoe gaan.

Dit wil my dus voorkom dat menige vrouens die konneksie tussen die lewe en die windpomp gemaak.

Menigmaal voel dit of ons soms ook op ‘n afgeleë plek is – al is dit nie ‘n fisiese plek nie, kan ons in ons gedagtes verwyderd voel. Daar waar jou omstandighede verdor, verlate en sonder hoop voorkom. Daardie plek waar dit voel asof niemand jou meer raaksien nie en jy wonder hoe lank jy nog daar moet wees.

Jou daaglikse gebed is dalk dat God jou tog net uit die plek moet kry na ‘n plek waar jy weet jy sal sommer baie meer kan floreer.

Maar net soos ‘n windpomp het jy werk om te doen. Ja, net daar waar jy is. Jy is daar om ander dorstiges se dors te les. Dit gaan soms nodig wees dat jy diep moet delf, maar delf gaan jy moet delf. Want sien, in die verlate omstandighede is jy dalk die enigste bron van water. Vars water. Vir almal om te drink.

Jy is nie net ‘n kop, liggaam met arms en bene nie. Jy is ‘n toonbeeld van hoop. As ander jou sien moet hulle weet by jou gaan hulle geestelike water kry. Water wat hoop gee, ‘n boodskap van vasbyt, aanhou en boontoe en vorentoe kyk.

Jesus het gesê almal wat dors het moet na hom toe kom en Hy sal hulle die ewige lewe gee sodat ons nie meer dors raak nie. Net soos die windpomp die snetrale bron van water op ‘n plaas is, moet Jesus sentraal in ons lewens staan sodat ons daagliks van Hom kan “water” kry.