Die ysterpot

Rustyd. Sinoniem hiermee is skryftyd.

As my gesin slaap kan ek skryf. Daar is soveel waaroor ek wil skryf, maar tyd is min en soos jul reeds weet – elke sekonde tel. Daar is nog iets wat sinoniem met rustyd is in ons huis. Storietyd.

Daarom kies ek vandag ‘n storie as simbool vir ‘n belangrike onderwerp. Een waarmee ek definitief self ook worstel.

Die ysterpot.

Ek lees vir my kinders ‘n storie uit ‘n ouerige afrikaanse storieboek. Die verhaal klink baie soos Jan en die boontjierank, maar met ‘n “kinkel” in die kabel.

Jan se naam is Pieter en die boontjierank is ‘n ysterpot.

So het die einste Pieter sy ma se laaste koei verkoop in ruil vir die ysterpot wat met ‘n fyn stemmetie gefluister het: “Koop my, koop my.” Dadelik dink ek aan ons Eienaar, ons Vader. Ons het darem nie nodig om te sê “Koop my, koop my” soos die ysterpotjie nie, want Jesus het ons immers reeds vrygekoop aan die kruis. Tog, sal dit nie wonderlik wees as ons met dieselfde ywer en opgewondenheid van die ysterpot in die aangesig van ons Eienaar kan uitroep “Koop my, koop my” nie? Dit is belangrik om God met ywer te dien. Ander mense sien ons voorbeeld raak. Ons kinders veral. Onthou altyd wie kyk vir jou.

Die tweede les wat wat ek by hierdie ysterpot leer, is die les van geloof. Die moeder is ontnugter deur die onverantwoordelike, roekelose besluit wat haar seun geneem het. Dink net haar ongeloof en haar seerkry in hierdie desperate situasie… sy stuur haar seun weg met hulle laaste koei, dis al wat hulle het, maar sy vertrou hom. Hy sal die koei verkoop. Vanaand sal hulle iets hê om te eet. Haar seun kom terug sonder die koei met net ‘n leë ysterpot. Tog, ten spyte van sy naïewe besluit glo die seun daar is ‘n rede waarom hy die ysterpot se stem moes hoor. Al is sy ma se reaksie negatief doen Pieter tog wat die leë ysterpot sê en hy sit die pot op die vuur.

Die derde punt wat my fasineer van hierdie verhaal is die kontras tussen die regverdige en onregverdige. Dit is somtyds maklik om moed te verloor as ek sien hoe skurke soms wegkom met alles en onregverdige mense seerkry. Dit laat my dadelik aan God dink. Hy het vir ons ore gegee. Hoeveel te meer hoor hy ons nie altyd ook nie?

Die seun en sy ma is verskeie kere sonder hul mede wete beroof deur ‘n ryk man wat op die heuwel woon. Alhoewel Pieter en sy ma vir die ryk man gewerk het, het die man hul nogsteeds skelm van hul koeie beroof.

Die huppelende, jubelende pot spring tot by die skuur van die ryk man en kom terug gevul met koring.

Meeste van die tyd huppel, jubel en spring on sook vir Jesus. Tog, bring ons nie vol potte terug na die Meester toe nie. Wie kan ek en jy hierdie week in liefde dien? Vir wie kan ons uitdeel uit ons oorvol potte uit?

Dan kom die laaste opvallende punt in hierdie verhaal, een wat dui op rekenskap en wat ook daarop dui dat slegte gebeure of tye nie vir ewig is nie.

Die skelm, ryk man betrap die pot wat sy geld gevat het. Die man steek sy hand in die pot om sy geld uit te kry, dan sy kop en dan sommer op die ou einde sy hele lyf. Die deksel van die pot klap toe en daar trek die pot. Die pot huppel, jubel en spring tot by die einde van die wêreld. Niemand het ooit weer Pieter en sy ma se goed gesteel nie.

Te goed om waar te wees? Seker. Maar, soos hierdie storie, het elke hoofstuk in ons lewens ‘n begin, ‘n einde e nook ‘n les om te leer.

Kan ons elkeen nie maar so ‘n bietjie meer soos ‘n ysterpot wees nie?

DEEL
Vorige artikelVir ons en ander se dom keuses
Volgende artikel#geemyjouskoene
Blogger - Tersia Gouws
Tersia Gouws is ’n getroude ma van twee wat voltyds werk as klientediens konsultant. Haar liefde vir kommunikasie het verseker dat sy haar vlerke kon sprei as fotograaf, skrywer, dromer en waaghals! Haar passie vir mense het daartoe gelei dat sy by verskillende welsynsorganisasies werksaam was in kommunikasie, openbare betrekkinge, bemarking en fondsinsameling. Sy gebruik steeds haar vrye tyd om betrokke te wees as ñ vrywilliger. Sy beskryf haar grootste uitdaging nóg as vrou-wees en ma-wees. Haar liefde vir lees en skryf het sy by haar pa, Joos Bothma, geëerf wat in 2016 oorlede is. Sy skielike afsterwe het haar geroep om te begin skryf met die doel om ander te inspireer en te herinner dat die lewe kort is. Volg gerus haar persoonlike blog by www.elkesekondetel.blog