Dieper kennis, groter geloof?

0
268
geloof_kennis.jpg

Jy moet genoeg kennis hê om jou belangrikste verhouding te laat werk, al verstaan jy nie alles nie.

Hoe jy dit regkry om dinge te verstaan, te leer en te onthou, bepaal wat jy dink en voel. Jou gevoelens – en gebede – groei uit kennis. Dis waarom geleerde mense al eeue lank oor hierdie saak debatteer: Kan ’n mens God regtig ken?

Dis ’n belangrike vraag, want die antwoord bepaal of jy dink dis die moeite werd om te glo. Geloof is nie ’n voorwerp wat jy onder ’n mikroskoop kan bestudeer nie. Dis ’n verhouding – een wat net gelukkig kan wees as jy weet hoe die verhouding werk en wat die eienskappe van die betrokke partye is.

Die een uiterste groep beantwoord die vraag met: Ja, ons het genoeg inligting, persoonlike ervarings en ander mense se kennis. Ons weet genoeg om ’n intieme verhouding met ons Vader te hê.

Nee, sê ander met ewe veel opregtheid. Dis onmoontlik om met die menslike brein alles te ken en te verstaan. Ons verstaan te min en is so ver van die grootsheid verwyder dat dit tydmors is om enigsins te probeer om te glo.

Die waarheid lê iewers in die middel, sê drie geloofkenners.

Die Bybel is jou beste bron van inligting

“Min mense kan sê dit is vir hulle maklik om God te hoor,” sê pastoor Riekert Botha, ’n bekende stem op RSG. “Baie voel dat hulle teen die plafon vas bid.

“As jy ook voel jy kan God nie hoor nie, is daar vir jou goeie nuus. God het sy hart in die Bybel uitgestort. Jy kan bloot net die Bybel oopmaak en die woorde van Jesus hoor. Jy kan dit in die Evangelies lees en in jou hart ervaar.

“Jy kan besef dat God Hom hier en nou aan jou bekendstel. Jy kan ervaar oor watter praktiese dinge Hy in jou werksituasie of by die huis of in jou verhouding met ander mense direk praat. God laat Hom helder en duidelik ken deur sy Woord.

“Hy doen dit ook nie doer ver op ’n afstand nie. Hy is hier. Hy kom na jou toe en Hy wil by jou kom bly. Jesus sê daar is een ding wat jy moet doen as jy wil hê God moet na jou toe kom sodat jy Hom kan ken. Jy moet jou aan God begin steur.

[pagebreak]

Alledaagse gebeurtenisse leer jou die waarheid

Prof. Hennie Stander, teoloog en skrywer, sê: “Miskien probeer jy altyd net om God in die groot gebeure in jou lewe te sien. ’n Mens kan maklik dink dat die alledaagse nie vir Hom van belang is nie, maar ek het al gesien dat niks vir Hom te klein of te onbelangrik is nie. Jy kan God selfs leer ken uit iets so wêrelds soos motor koop.

“Ek was in Amerika vir studie. My gesin het saam met my gegaan en ons moes ’n woonstel en ’n voertuig kry. Blyplek het ons met groot genade taamlik maklik bekom, maar vervoer was ’n kopseer.

“My geld was te min om by ’n handelaar in te stap en sommer een van die vloer af te trek. Bekostigbare motors wat in die koerante geadverteer is, was te ver van waar ons gewoon het om te gaan haal. Dié wat by die universiteit geadverteer is, se eienaars was almal weg met vakansie.

“In groot moedeloosheid het ek gewonder of ek maar mag bid vir ’n oplossing wat die lewe makliker sou maak as openbare vervoer. Na ek tog om hulp gevra het, het ek die koerant nadergetrek. Ek het lukraak ’n advertensie gekies. Die bewoording was onvergeetlik: Chevy Vega. The ugliest car in town, but in excellent running condition.

“Toe ek vanaf ’n telefoonhokkie bel, was die eienaar tuis. En sowaar: Hy het in ’n woonstelblok langs ons gewoon. Die motor was ’n paar treë van ons af!

“Dié ervaring het my nuwe dinge geleer oor God. Ek kan Hom enigiets vra. Selfs geringe nood is vir Hom belangrik. Niks gebeur net toevallig onder sy beheer nie. Ek het weer besef dat ek niks op my eie kan regkry nie.”

Lees meer: Prof. Hennie Stander vertel waarom dit die moeite werd is om te glo in sy boek Hoekom ek nog glo. Kry jou eie eksemplaar, en versterk jou geloof.

Voel goed dat jy nie alles weet nie

Ds. Norma Rossouw, predikant en eerste vroulike moderator in die NG Kerk, glo hartgrondig: God is groot! Sy sê: “Dit is ’n voorreg om Hom te ken en Vader te noem. Tog sal ons Hom nooit volledig ken en verstaan nie. Hieroor is die Bybel baie duidelik.

“Die hemel kan Hom nie bevat nie (1 Kon. 8:27) en sy grootheid kan ons nie begryp nie (Job 36:26). Sy wonderdade is te groot vir ons (Job 42:3) en soos die hemel hoër is as die aarde, so is sy optrede verhewe bo ons optrede (Jes. 55:9). Wat God doen, is ondeurgrondelik (Jes. 40:28).

“In sy Name kan jy ook sien hoe anders Hy is as enigiets wat jy met jou brein kan verstaan. Hy is El-Sjaddai, die Almagtige vir wie alles moontlik is. Hy is El-Roï, die Alsiende vir wie ons nie kan wegkruip nie. Hy is die Alwetende, wat die verlede, hede en toekoms betref.

“Hierdie God is sonder gelyke en onbegryplik vir die menslike logika. Hier op aarde sal ons nooit alles van Hom ken nie. Ons geloof sal altyd onvolledig wees. Dis egter nie iets om oor moedeloos te raak nie.

“Hierdie onbegryplike, onvergelykbare God het vir ons – spikkels in die skepping – so lief dat Hy in ’n verhouding met ons is. Hy ken jou gedagtes nog voor dit by jou opgekom het, jou dade nog voor jy dit gedoen het en jou woorde nog voor jy gepraat het. Om te glo is om elke dag nog ’n stukkie te ontdek waaroor jy jou verwonder én bly oor kan wees.”

Ons het elkeen ’n unieke geloofslewe. Dit is dinamies, dit groei en dit verander. Jy het jou eie ervarings (alledaags en ongewoon) en jou eie studie van die Bybel. Hoe jy jou geloof uitleef, waar jy jou kennis soek, moet jóú nader bring aan Hom met wie jy in ’n verhouding staan. Daar is nie een resep wat vir almal werk nie.

Jy sal soms voel of jy in die helder sonlig van voldoende kennis met selfvertroue kan glo. Ander kere sal dit voel of ’n wolk van onkunde jou geloof laat kwyn. Dan kan jy jouself daaraan herinner dat selfs die oomblikke wanneer dit voel of jy niks weet nie, oomblikke van groei is. Soms moet ’n gelowige sê: “Dis te groot vir my beperkte verstand, maar ek buig voor U.”

Lees ook: Praat God vandag nog met ons? Só kan jy sy stem hoor.

A deeper knowing deur Adele Ahlberg Calhoun, vertaal en verwerk deur Hanneke van Coller.