Dinge wat Francois Fourie se vrou uitgooi

0
228
francois_fourie.jpg

Francois Fourie gesels oor sy goed wat ongesiens in die bure se asblik beland wanneer Elizabeth “skoonmaak”.

Wat frustreer jou van Elizabeth se uitgooi- en skoonmaakgewoontes?

My liewe vrou is geen opgaarder nie. Dis in haar roetine om elke Maandag iets weg te gee of weg te gooi. En nou praat ek van alles – van gereedskap en klere tot koppies en pierings. Dit is seker ’n goeie gewoonte, maar my kop werk totaal anders. Sy gooi maklik weg en is nie so emosioneel verbonde aan goed soos ek nie. Ek spaar of bêre liewer iets met die idee dat ek dit eendag weer nodig kan kry.

Gooi sy die goed “skelm” weg en het sy dit nog altyd so gedoen?

Sy het altyd eers met my gesels oor die goed waarvan sy dink “ons” ontslae moet raak, maar dit wou nie werk nie. Ons het altyd verskil daaroor. Nou volg sy maar haar eie kop. Dis vir my moeilik om dit te erken, maar soms laat ek haar toe om goed weg te gooi wat ek graag wil hou, want dan voel sy beter.

Het sy al iets weggegooi wat vir jou baie waardevol was?

Ek soek nou nog na my ou Noord Transvaal-sweetpaktop … ek wonder wat van hom geword het. So kom ek nou die dag agter dat sy ’n ou ystersaag van my in die bure se asblik wou gaan weggooi sodat ek dit nie kon kry nie. Maar ek ken haar beter as wat sy dink. Toe sy weer vir my vra om ’n boom se tak af te saag, was dit my grootste lekkerkry om aan te kondig: “Ek kul jou hier, ek kul jou daar! ” Met my herwonne saag in die hand kon sy niks anders doen as lag nie!

Wat is van haar kreatiefste verskonings om van jou goed weg te gooi?

“Jy het dit die afgelope ses maande nie gebruik nie, hoekom gaan jy dit nou gebruik?” Of: “Skat, jy lyk so verwaarloos,” kan sy soms kritiseer oor my lekker uitgewaste maar beste kortbroeke en hemde. Maar “madame” is gelukkig lekker kort, dus kan sy nie sien wat alles bo in my kas aangaan nie. Laat sy nou net haar rug draai, dan kuier ek darem lekker in my ou geliefde klere.

Waar steek jy die goed weg wat jy nie wil hê sy moet weggooi nie?

Bo in my kas, in my kar by die spaarwielspasie en agter in een van haar laaie waar sy dit nooit sal verwag nie. Sy het gelukkig nog nie my wegsteekplekke gevind nie, ek hoop ook nie sy lees hierdie artikel nie. Van tyd tot tyd wil sy op die leer klim om die kas skoon te maak, maar dan sorg ek dat die leer skoonveld is!

Ontaard dit ooit in ’n rusie as jy weier om iets uit te gooi?

Sy sê net baie beslis ek gaan nie só dorp toe of na mense toe nie. Mense dink altyd ons twee baklei nooit, veral as ons so “diep in mekaar se oë kyk” terwyl ons sing nie. Maar maak geen fout nie, ons sing ook maar soms ’n “ander” deuntjie. Ons is van ons studentedae af pêlle en is nou al 35 jaar getroud, baie gelukkig, maar ai! Ons kry beslis stry. Ons hanteer konflik deur onmiddellik te praat voordat die appel vrot word. En wie maak eerste vrede? Die een wat reg was …