Dinge wat jy nóóit moet sê nie

0
137
kommunikasie.jpg

Ma’s word kwaad en sê dan goed wat kon gebly het; niemand is immers volmaak nie. Maar staan ’n slag stil en luister na jouself … Hier is meer effektiewe maniere om met jou kinders te kommunikeer.

Wanneer jou kind jou ignoreer of oor alles met jou baklei, wonder jy miskien of jy dinge reg doen. Is jy nie besig om as ouer te misluk nie? Ouerskapkenner James Lehman sê egter daar is nie iets soos “goeie” of “swak” ouerskap nie. Dis eerder ’n kwessie van effektiewe en oneffektiewe ouerskap.

As jou kinders nie na jou luister nie, beteken dit heel moontlik jy praat nie effektief met hulle nie. As jy jouself in die volgende voorbeelde herken, moenie bekommerd wees nie. Dit is nooit te laat om te verander nie.

Jy neem jou toevlug tot (dikwels ydele) dreigemente

MOENIE SÊ … “As jy nie jou huiswerk doen nie, gaan jy nooit weer by Johan speel nie!” Hierdie een is moeilik: Jy weet Johan is sy beste maat en hy sal wat wil gee om by hom te gaan kuier. Jy wil ook hê jou kind moet by die reëls hou en sy verantwoordelikhede nakom. Maar omdat hy glad nie in die huiswerk geïnteresseerd is nie, kom jy met ’n onsinnige dreigement na vore. Dit is egter uiters oneffektief. Dreigemente wys dat jy jou humeur verloor en sal net die konflik tussen julle vererger. Dit leer jou kind ook nie hoe om probleme op te los nie.

SÊ EERDER … “Ek hou nie daarvan dat jy nie jou huiswerk wil doen nie, maar ek het tyd nodig om hieroor te dink. Kom ons praat weer as ons afgekoel het.” As jy kwaad is en julle oor en weer stry, gaan ’n vinnige dreigement niks verander nie. Om werklik sy gedrag te verander, moet daar spesifieke gevolge aan spesifieke optrede gekoppel word. Breek eerder die probleem in kleiner dele op en gee hom die geleentheid om elke dag ’n mate van sukses te behaal.

Jy verbied alle risiko’s voor die voet

MOENIE SÊ … “Ek verbied jou om ooit weer op die internet te gaan!” Jy sê dit omdat jy vir jou kind omgee: Jy weet sy kan dalk seerkry op ’n manier waaraan jy niks sal kan verander nie. Om jou kind egter iets te weier of haar te verbied om dit te doen ‒ as gevolg van dinge wat jy vrees ‒ is nie effektief nie. In die eerste plek ontneem dit jou die geleentheid om jou kind te help leer en groei. In die tweede plek skep dit nie samewerking nie, maar eerder geheimsinnige optrede. Jou kind sal probeer wegkom met wat sý wil hê, ongeag wat jý wil hê.

SÊ EERDER … “Ek is nie seker of jy weer sonder toesig op die internet moet gaan nie. Dit kan baie onveilig wees. Kom ons dink aan hoe ons hierdie ding kan laat werk.” Deel jou bekommernis. Op hierdie manier gee jy nie jou toestemming nie en kan sy nie bloot voortgaan om iets te doen waarvan jy nie hou nie. Jy het eerder ’n geleentheid geskep om haar te help om haar samewerking te gee. Sodoende sal sy ook nie maklik onveilige risiko’s in die geheim neem nie.

Jy probeer jou kind skaam maak vir homself

MOENIE SÊ … “Niemand gaan van jou hou as jy dit doen nie!” Dit is so maklik om te sê. Jy val jou kind aan in ’n poging om sy gedrag te verander. Jy weet hy wil graag inpas en hê mense moet van hom hou. Jy is dalk selfs werklik bang niemand gaan van hom hou as hy baasspelerig is of as sy haar hare swart kleur nie. Nogtans kan jy nie jou kind met skaamte dwing om beter op te tree nie. Hy sal hom eerder onttrek, want dit laat hom verneder en waardeloos voel.

SÊ EERDER … “Dit wat jy wil doen, is dalk nie so ’n goeie idee nie. Dink só daaraan …” Op hierdie manier laat jy jou kind nadink oor wat hy beplan, en waai die idee dalk gou oor. Skaamte laat hom verwerp voel. Maak eerder seker jou kind weet jy is lief vir hom en hou van die kenmerke wat hom uniek maak.

Goeie ouers word nie gebore nie; ons almal leer algaande en namate ons saam met ons kinders groei. Moenie jou kind se persoonlikheid aanval wanneer jy met hom praat nie. Kritiseer sy gedrag, nie sy menswees nie, anders lok jy net ’n verdedigende reaksie uit. Dis eintlik maklik: Dink voor jy praat! Elke ma kan liefdevol én streng wees wanneer dit kom by reëls en verwagtings.

Vertaal en verwerk uit ʼn artikel van Megan Devine.