Dink anders oor baklei

2143

Chantelle en John Owens is nie skaam om te erken dat hulle soms vassit nie, dit is tog deel van die huwelik. Vir hulle is dit egter belangrik om regverdig te baklei.

Om met jou maat vas te sit is so deel van die huwelik soos skottelgoed was. Dit kan nie vermy word nie en al is dit nie altyd lekker nie, is dit goed vir die gemoed om alles vinnig na ete te was en môreoggend by ’n skoon kombuis in te stap.

“Ons glo in die ou raad: Moenie kwaad gaan slaap nie. Alles wat Chantelle deur die dag beleef, beleef sy weer in haar drome. Sy loop en praat gereeld in haar slaap. Vir my is dit gevolglik veiliger om enige krapperigheid tussen ons voor slaaptyd op te los, want sy mag my dalk net ’n karateskop in die nag gee.”

Chantelle en John glo dat konflik nie altyd ’n slegte ding hoef te wees nie. Dit is nodig en het ’n plek in die huwelik. “Sonder daardie vassit-oomblikke sou ons huwelik nie kon groei nie en sou ons ook nie by mekaar kon leer nie. Dit gaan alles oor hoe julle die konfliksituasie hanteer,” sê Chantelle.

Vir Team Botwens (soos hulle hulself noem) is dit belangrik om regverdig te baklei en daarvoor het hulle sekere reëls: Behandel jou maat altyd met respek; moenie jou stem verhef as julle ’n woordewisseling het nie; luister na wat jou maat sê en gee hom of haar kans om te praat; en dan natuurlik: Moet nooit kwaad gaan slaap nie.

“Ons sit die laaste ruk nogal vas omdat John baie reis vir sy werk en min by die huis is. My liefdestaal is gehaltetyd en aanraking, gevolglik voel ek gou afgeskeep en wil hom vir myself hê as hy terug is by die huis. As hy dan saam met sy broer of vriende uitgaan, raak ek ’n bietjie omgekrap.”

Vir John is dit belangrik om jou maat se liefdestaal te verstaan. “Ek kom gou agter as Chantelle afgeskeep voel en ek dan meer aandag en liefde aan haar moet gee. Wat baie goed vir ons werk, is om oor ’n koppie koffie te gesels – sonder televisie, kinders of ander mense.”

Wanneer ’n argument tussen hulle soms heftig raak, vind Chantelle dit makliker om ’n oomblik asem te skep, af te koel en vir dan John ’n e-pos of WhatsApp te stuur. “Dit verwyder die druk van direkte konfrontasie en gee ons albei die kans om net tot verhaal te kom. So kies ons ook ons woorde beter.”

Hulle het ook vroeg geleer om die dingetjies wat pla, so gou moontlik uit te praat sodat dit nie opbou en erger word nie. “Opgeboude woede of emosies is baie gevaarlik, want dit is wanneer ’n mens geneig is om onregverdig te baklei en die ander persoon seer te maak. Paartjies moet dit so ver moontlik vermy. Praat oor alles, al is dit hoe klein, en kry dit uit die pad,” is Chantelle se raad.

John het ervaring van hoe dit is om nie op ’n regverdige manier met jou maat te stry nie. Uit sy vorige huwelik het hy baie geleer en kyk hy ook nou anders na konflik. “Ons het ’n dogtertjie saam en sy is ongelukkig as ’n wapen gebruik om die oorhand te kon kry in ons gevegte. Dit was baie onregverdig. As jy ’n dag voordat ek vir Chantelle ontmoet het, vir my sou gevra het of ek weer sou trou, het ek definitief nee gesê. As jy die regte persoon ontmoet, jou sielsgenoot, verander alles egter. Sy is die regte persoon vir my. Ons is ’n eenheid wat mekaar onvoorwaardelik en met respek liefhet, selfs in die tye dat ons stry.”