Dink ook aan ander

0
107
catherine_van_heerden_nuut.jpg

Die Westerse lewenshouding het behoorlik onder ons posgevat. Dis ’n geval van me, myself and I. Maar ons is eintlik hier om te dien en ’n verskil in die lewens van ander te maak.

Selfkenner: Catherine van Heerden

Die Westerse lewenshouding het behoorlik onder ons posgevat. Dis ’n geval van me, myself and I. Maar ons is eintlik hier om te dien en ’n verskil in die lewens van ander te maak.

Mense het die begeerte om ’n verskil te maak. Ons wil voel ons het iets vir iemand beteken. Tog ons is dikwels te besig met die rotteresies om stil te staan en te besin of ons regtig betekenis gee en waarde toevoeg tot ander se lewens. As jy eerlik moet wees, loop jy die ekstra myl daar waar jy elke dag beweeg, werk of ontspan?

Leer om te gee sonder om terug te ontvang

Wanneer jy ander se lewenskwaliteit verbeter deur dit wat jy doen, voeg jy waarde toe. Deur ander menswaardig te laat voel, om die geestelike en fisieke nood om jou raak te sien en aandag daaraan te gee, laat mense voel hulle het ook ’n plekkie in die son.

In ons samelewing is ons geneig om selfgesentreerd te leef. Miskien het jy van kleins af beleef die wêreld draai om jou. Jou prestasies, jou suksesse. Jy moet tot elke prys bo uitkom. Dit maak nie saak of jy mense langs die pad seermaak en vertrap nie.

Maar om deur die lewe te gaan met ’n uitkyk wat gedurig vra: Wat gaan dit mý baat? gaan jou heel waarskynlik nie gelukkig maak nie. Met so ’n ingesteldheid weeg jy elke keer die insette teen die uitsette op. Dit kan jou maklik in ’n wantrouige pessimis verander.

Wees eerder ’n gebalanseerde en volronde mens, een wat graag gee sonder om iets terug te verwag.

Soek geleenthede om ’n helpende hand uit te steek

Dit is nie net mense wat bevoorreg, bevoordeel of spesiaal is wat ’n verskil kan maak nie. Mense wat doelgerig en passievol leef, kom dikwels uit minderbevoorregte gesinne of het in haglike omstandighede met beperkte geleenthede grootgeword. Hulle het bloot maniere gevind om hulle eie lewe sowel as dié van ander positief te beïnvloed.

Kies om uitdrukking te gee aan liefde en vriendskap. Doen moeite om kontak te maak met mense wie se vriendskap jy waardeer. Verbind jou daartoe om elke dag iemand te bel, of ’n epos of ’n boodskap te stuur vir iemand vir wie jy lief is. Dit kan ’n familielid of vriendin wees.

Deel iets uit jou lewe met jou geliefdes vandag en vertel hulle hoe baie jy hulle teenwoordigheid in jou lewe waardeer. As iemand iets moois vir jou doen, wees opreg dankbaar. Dink hoe jy in jou gemeenskap kan dien. Miskien is jou buurvrou siek en het iemand nodig om haar kinders by die skool te gaan haal. Of vrywilligers word benodig by die kerk se sopkombuis. Wees hemelse hande en voete vir ander mense hier op aarde.

Doen iets vir iemand, maak nie saak hoe gering nie

As jy doelgerig wil leef, moet jy daarna streef om te groei. om vandag ’n klein bietjie beter te wees as wat jy gister was. Om ’n positiewe bydrae in die samelewing te lewer, verstaan jy hoe belangrik verhoudings is. Jy is nie bang of jouself kwesbaar te maak om jou kennis, talente, uniekheid, opinies of waardestelsel met ander te deel nie.

Jy kan nie almal help nie, maar jy kan iemand help. Jy kan nie alles vir almal doen nie, maar jy kan iets doen! Moenie ’n geleentheid laat verbygaan om te iemand se lewe vandag te verander nie.