Dink saam oor julle drome

713

Almal trou met die ideaal van ’n gelukkige huwelik, maar sonder ’n duidelike plan. Later voel jy dat iets kort en blameer jou maat daarvoor.

Jy vermoed al ’n rukkie dat julle verhouding nie is wat dit moet wees nie. Maar jy kan nie eintlik sê waar die probleem lê nie. Dis net asof jy gedurig dink dat daar iets anders en beter moet wees.

Vooropgestelde idees veroorsaak dat hy die skuld kry

Hoe langer hierdie gevoel duur en hoe meer ’n mens daarop konsentreer, hoe groter word jou ontevredenheid.

Aan die ander kant kan dit gebeur dat jy baie graag ’n gelukkige huwelik wil hê. Jy wil daaraan werk om dit ’n werklikheid te maak.

Daarom verwag jy dat jou maat dieselfde moet doen. As dit lyk asof hy nie ook so daaroor voel nie, ontstaan die vermoede dat dit nie vir hom so belangrik is nie.

Gevolglik sal dit maklik wees om te dink dat hy nie aan die verhouding wil bou nie. Dat hy nie so toegewyd aan julle verhouding is nie en dat die probleem by hom lê.

Jy sal dalk selfs sê: “Jy is selfsugtig. Jy gee nie vir my om nie.”

Jou prentjie van geluk lyk anders as syne

’n Vrou se drome behels dat sy graag lang ure in romantiese situasies saam met haar maat wil wees.

Dis ’n prentjie waarin julle so op mekaar gefokus is dat vriende, werk of aktiwiteite nie die nabyheid kan binnedring nie. Julle moet julle diepste hartsgeheime met mekaar deel.

As jou man gedurig vriende of familie saamnooi, bots dit met jou prentjie van geluk en tevredenheid. En onvergenoegdheid begin in jou hart nesskop.

’n Groot rede is omdat jy nog nie jou siening van huweliksgeluk gedefinieer het nie. Dis net ’n vae behoefte – een wat nie duidelik genoeg aan hom gekommunikeer word nie.

Daarom voel jy dat hy op ’n manier optree wat nie rym met iemand wat ’n huwelik wil laat werk nie. Hy stel nie werklik belang daarin om jou gelukkig te maak nie. Of hy dink mos net aan homself!

Hoe meer gereeld dit gebeur, hoe sterker word die vermoede dat julle twee nie vir hom belangrik genoeg is nie. Dis wanneer jy hardop begin sê dat hy nie aan die verhouding wil werk nie.

Terselfdertyd sal die weersin, die behoefte vir vergelding en die woede in jou begin groei.

Om hierdie soort teleurstelling te voorkom, is dit belangrik om julle drome en ideale van die begin af doelbewus uit te spel. Herskryf dit dan in praktiese, realistiese planne wat vir altwee sal werk.

Verandering begin in die eerste plek by jóú

Goed en wel, sy bydrae mag meer opsigtelik wees as joune. Maar onthou, jou prentjie van huweliksgeluk is ook deel van die probleem.

’n Mens se eie drome en ideale maak jou vatbaar vir teleurstelling en vir die gevoel dat jy hom nie kan verstaan nie.

Dis waarom die pad na aanvaarding in elkeen se eie hart begin. Dit begin by die eerlikheid om jou drome vir julle huwelik, sowel as die teleurstelling wat dit skep, duidelik te kommunikeer.

Deur eerlik te wees hieroor, raak jy vry om jou man te ontdek en te geniet net soos hy is. Nou hoef jy hom nie langer te bly sien net in terme van die maniere waarop hy jou drome verydel nie.