Dink voor jy praat op sosiale media

0
922

Ons leef in ’n opwindende tyd. Gewone mense kan nou hulle opinie lug vir almal om te lees. Doen ons dit reg? Vra Roedolf Botha.

Kenners en gewone mense kan nou op gelyke vlak op sosiale media debatteer. Elke stem tel. Dit is goed, want baie mense het nou toegang tot sinvolle gesprekke wat hulle andersins glad nie sou hê nie.

Die nadeel is dat ware kenners op die agtergrond kan verdwyn omdat hulle kennis op enige gebied nou net nog ’n opinie word. Enige Jan Rap en sy maat wat gevaarlik min van ’n onderwerp af weet, kan nou ’n universiteitsprofessor in die digitale wêreld aanvat.

’n Kort, slim, maar oningeligte of eensydige antwoord wat vir ’n leek baie oortuigend klink, is die gunstelingmanier van kommunikasie. Maar hierdie stellings het gewoonlik nie veel om die lyf nie.

Mense neem vandag belangrike besluite (soos ’n woonplek, huweliksmaat en vriendskappe) volgens dit wat hulle reeds weet. Met ander woorde, daar is nie eens meer ’n begeerte om meer en beter inligting te kry voor hulle besluit nie. Hulle dink hulle weet reeds die beste – en sê dit ook!

Op baie webwerwe of blogs is daar ook nie genoeg plek om goeie, sinvolle antwoorde te gee nie. Daarom ontaard gesprekke maklik in ’n emosionele moddergooiery.

Mense skel mekaar uit en raak sommer blatant ongeskik. Vuil taal en beledigings teenoor deelnemers wat nie met ’n bepaalde standpunt saamstem nie, word oor en weer geslinger. Selfs bekende Oxford-professore verander in monsters as hulle begin twiet!

Daar is spanning tussen gesonde vryheid van spraak aan die een kant en haatspraak aan die ander kant. En tussen beleefde en positiewe debat aan die een kant en destruktiewe konflik aan die ander kant.

Om koers te hou tussen hierdie teenpole is nie altyd maklik nie. Ons sien dit aan die versigtige manier waarop bekendes deesdae hulle woorde kies op Twitter en blogs. As jy nie jou woorde tel nie, kan jy maklik in die warm water beland.

Dis moeilik, want waar trek ’n mens die streep? Wanneer moet ons iemand se reg tot vrye spraak ondersteun? En wanneer moet ons “Hokaai!” sê as iemand se vrye spraak ander se vryheid bedreig of hulle menswaardigheid aantas?

Wanneer moet jy betrokke raak by ’n gesprek en wanneer moet jy eerder stilbly? Wanneer is iets eerlik en reguit, en wanneer is dit onvanpas of aanstootlik?

Mense kan hulle nie altyd op sosiale media gedra nie

Die internet het baie voordele. As dit egter verkeerd gebruik word, is dit nie tegnologie se skuld nie. Die oorsaak lê in elkeen van ons se hart.

Sosiale media het ons nuwe vryheid en mag geskenk. Ons kan met die minimum gevolge ’n opinie op ’n publieke forum lug.

Maar nou ja, soos ons al uit die geskiedenis geleer het, is die track record van dié met nuwe mag nie sommer positief nie.

Tegnologie bring nie net goeie ontdekkings soos penisillien of gevorderde tandheelkunde nie, maar ook slegte dinge soos die atoombom op Hirosjima. En die vernietiging van die omgewing en die natuur. Dit wys maar net dat die mens nie eintlik nuwe vryheid en mag op so ’n groot skaal reg kan hanteer nie.

’n Deel van die kerk se taak is om mense te leer dat sekere eienskappe glad nie los van mekaar staan nie. Hierdie drie: nederigheid, die vermoë om te luister en die gewilligheid om te groei, gaan saam. Ons kom dus na enige gesprek toe met die gewilligheid om ’n bydrae te lewer, maar ook om deur daardie gesprek verander te word.

Daar is baie konflik tussen mense omdat hulle nooit geleer het wat die kernsake van die geloof is en watter dinge minder belangrik is nie. Omdat alle dele van die Bybel op dieselfde vlak hanteer word, word daar oor alles gestry en geargumenteer. ’n Opinie oor die doop word net so passievol verdedig soos die verhaal oor die opstanding.

Party mense dink dat net húlle reg is en stry sommer oor die geringste dingetjies. Paulus omskryf “sterk” gelowiges (Romeine 15:1) as geestelike volwassenes wat nie oor alles stry nie. Hulle besef dat daar ook minder belangrike sake in die geloof is wat nie die moeite werd is om tyd op te mors nie.

Met ander woorde, as iemand iets glo waarvan jy verskil, moet jy eers mooi dink of dit regtig so belangrik is. Indien nie, kan jy hom of haar gerus maar in vrede los.

Ons is almal ewe skuldig aan verkeerde gedrag

Dit is nie net ongelowiges wat mekaar seermaak nie, inteendeel, dit lyk asof onvolwasse gesprekke en venyn net so gereeld onder kerkmense voorkom. Dit het ’n groot impak op die kerk of dissipelskap in die algemeen.

Mense tree dikwels op sosialemediaplatforms glad nie soos dissipels op nie. Dis sleg, want ons grootste eienskap behoort juis te wees dat ons soos Jesus lyk. En dis juis ons gebrek aan karakter wat op sosiale media aan die wêreld ten toon gestel word.

Onthou, die digitale wêreld se kletsforums is nie maar net ’n stuk gereedskap nie. Dit het ’n baie besliste vormende effek op ons. Die skrywer Keen verduidelik dit vanuit die argitektuur, waar gesê word: “We shape our buildings; thereafter they shape us.”

Hy meen dat sosiale media ook besig is om mense te vorm op grond van sekere waardes wat daarin verweef is. Die verskillende vorms van sosiale media wat ons geskep het, is nie neutraal nie. Ons het dit op sekere waardes gebou, en nou vorm daardie waardes die gemeenskap.

Die kerk kan nie verantwoordelikheid aanvaar vir die hele wêreld se probleme nie. maar sy moet darem seker verantwoordelikheid aanvaar vir die manier hoe mense hulle geloof uitleef en die boodskap met hulle optrede uitdra. Dissipelskap is ons hooftaak en doel. As ons dié opdrag mis, mis ons ons doel.

Adam Hamilton vertel in sy boek When Christians get it wrong hoe groot die impak is wanneer daar so opgetree word. Hy sê die kerk is nie bevoeg om vir mense die verband tussen die geloof dat Jesus die Here is en die praktiese uitleef daarvan te leer en te wys nie.

In Churchless vertel George Barna en David Kinnaman dat die Amerikaanse kerk dissipels gekweek het wat meestal as Fariseërs ervaar word.

Is dit nie maar in ons land ook die geval nie? Baie kerkgangers gee voor dat hulle heilig is terwyl hulle geloof en dade dit glad nie wys nie.

Die oplossing is: bring die “etenstafel” terug!

In sy boek From tablet to table wys Leonard Sweet hoe etenstafels ’n sentrale deel van Jesus se aardse bediening was. Wat dit uniek gemaak het, was wie almal deelgeneem het aan hierdie etes: vriende, tollenaars, sondaars en vyande.

Die etenstafel bring die evangelie by mense uit. Dit snoer mense saam. Enige etenstafel spel gasvryheid en die gewilligheid om jou menswees met ander te deel. Daar word vreemdelinge met ope arms verwelkom en vyande word weer vriende.

Die kerk moet by Jesus gaan leer hoe om die etenstafel te gebruik as ’n plek waar gesprek, verskille en selfs konflik normaal is. Vir sosialemediagesprekke help die denkbeeldige etenstafel sosiale interaksie en gesprekvoering om op die regte vlak te bly.

Kan jy dink wat sal gebeur as sosiale forums die plekke kan word waar ons gasvryheid en vrygewigheid uitleef, brûe bou en mure afbreek? As dit nie meer plekke is waar ons ons sê wil sê nie, maar waar ons Sy liefde wil wys? Ongeag van wat die persone met wie ons gesels, glo.

Leiers en mentors moet natuurlik vir ons die voorbeeld stel sodat ons ook graag positiewe interaksie sal wil hê met iemand met wie ons verskil. Dit is juis mense wat nie soos ons is nie, juis dié wat nie dieselfde standpunte het nie, juis hulle wat vyandig is, wat liefde broodnodig het.

Elke keer as jy dus op die internet besig is, moet jy besef dat jy nóú die kans het om brûe tussen God en ander te bou. Wat leer ’n mens nog om ’n etenstafel? Ons leer die regte sosiale vaardighede. Soos dat ons vir onsself kan lag en nie liggeraak hoef te wees wanneer mense vir ons dinge sê waarvan ons nie hou nie. Ons kan leer om venynigheid met liefdevolle en beleefde opmerkings te beantwoord.

Ons doel op sosiale media moenie wees om ’n punt te maak of argumente te wen nie, maar eerder om sinvolle verhoudings te kweek. Dan kan forums liefdesbande versterk en die goeie boodskap uitdra in plaas van om ons eie ego te streel.

Daar moet praktiese riglyne vir deelnemers opgestel word

Hoe behoort ons gesprekke dan te lyk? Seker die belangrikste ding is om die gesprek veilig te maak deur nie vyandige taal te gebruik nie. Maak genade die atmosfeer wat julle tydens die gesprek inasem.

Fokus altyd op die saak en moenie opmerkings maak en die ander party op haar gebrekkige kennis of onvermoë wys nie. Reageer vanuit genade, selfs al reageer sy met venyn. Aanvaar mekaar se foute.

Skakel enige vorm van intimidasie uit. Beheer jou eie emosies en hou jou taal beleefd. Moenie kwaad word nie, en moenie kommentaar lewer wanneer jy kwaad of geïrriteerd is nie.

Luister, luister, luister! Iemand het eenkeer gesê: “Most conversations are simply monologues delivered in the presence of a witness.” Die meeste mense is nie goeie luisteraars nie.

Maak seker jy weet presies wat die ander persoon bedoel. Vra eers vrae voordat jy reageer op wat gesê word. Ons wil almal graag gehoor word. Laat die ander persoon voel dat jy regtig belangstel in wat sy te sê het. Enigiemand wat voel dat sy verstaan word, sal haar hart vir jou oopmaak.

Wees eerlik, maar positief. Sê dat jy graag uit die gesprek wil leer. Probeer iets kry waarmee jy saamstem en begin dan jou kommentaar daarmee.

Leer die dissipline van stilbly aan. Soms moet ons die reg uitoefen om nié ons opinie te lug nie. Dalk is dit selfs net goed om goeie vrae te vra en niks te sê nie. Dit gaan nie oor ons en ons begeerte om onsself te laat geld nie, maar oor God se liefde wat duidelik gemaak moet word.

Dalk kan ons ons gesprekke gebruik om te probeer agterkom wat agter iemand se twiets en opmerkings skuil. Wat is die hartklop van die persoon agter die kommentaar?

Dis belangrik om eerlik te wees oor moontlike gate in ons eie monderings, swakhede in ons eie standpunte en om te erken as ons ’n fout gemaak het. Soms moet jy ook kan erken dat jy nie ’n goeie antwoord op iemand se kommentaar of vraag het nie. Jy hoef nie altyd reg te wees nie – kwesbaarheid is deel van menswees.

Aangebied in samewerking met Ekerk. Kliek op ekerk.org.