Dis hoe ons (tweede) huwelik werk

0
547
willie_esterhuizen.jpg

Willie Esterhuizen is veral bekend vir Molly & Wors, maar oor sy regte huwelik gesels hy met erns.

Hoe het jy jou vrou se dood aan slukdermkanker verwerk?

Baie moeilik, maar ’n mens moet aangaan. Ek het drie kinders vir wie ek sterk moes wees, al was ek meermale lus om net op ’n hoop te gaan sit en huil. Op die ou end was my werk my redding. Dis ook waar ek besef het dat as ek ander mense gelukkig maak, dan maak dit my ook gelukkig. Die lewe gaan aan vir dié wat oorbly.

Toe slaan Cupido toe en jy en Ilze stap die pad kansel toe?

Ja, ek het byna twee jaar lank gerou. Ek was moeg daarvoor om enkellopend te wees, want dis erg moeilik. Toe het ek weer begin rondkyk. My seun Toby het Ilze aan my voorgestel. Skielik het ek weer lewe begin kry. Ek het gewonder of dit toeval was en of sy deel was van ’n groter plan. Vandag sê sy dat sy gekry het waarvoor sy gebid het. Dis wonderlik om ’n tweede kans op geluk te hê.

Is julle huwelik soos Molly en Wors s’n? Watter rol speel humor daarin?

Ons lag baie saam. Ek glo dat ’n goeie humorsin sommer baie argumente of verskille stopsit voor dit begin of heeltemal simpel raak. Hoewel Molly en Wors baie gesinne se kwessies aanraak en die kykers leer dat ons almal maar foute het, is dit nie heeltemal hoe ons huwelik is nie. Om ’n voorbeeld te noem: Ilze drink nie soos Molly nie en ek lieg ook nie so baie soos Wors nie!

Wat sou jy sê het jy uit jou eerste huwelik geleer?

In die 31 jaar wat ek en Glen getroud was, het ons baie aan mekaar geskaaf. Ek is baie dankbaar vir die tyd wat ons saam gehad het, en ek is versigtig om my foute te herhaal. Dit is belangriker om saam as ’n egpaar mooi herinneringe op te bou. Laat eerder die klein ergernissies verbygaan en doen lekker dinge saam. Dit is immers jou lewensmaat wat by jou sterfbed gaan sit, nie jou werk nie.

Hoe maak jy en Ilze seker julle spandeer gehaltetyd saam?

As jy na my kyk, is dit seker nie moeilik om te sien dat een van ons groot belangstellings kosmaak is nie! Ons is lief daarvoor om saam te kook, en maak veral boerekos. Maar ons gaan stap darem ook graag met ons honde. Dis belangrik dat ons altyd iets het om na uit te sien. Ons gaan minstens elke tweede maand vir ’n paar dae weg. Ons is lief vir fliek en kyk baie teaterstukke.

Wat dink jy is ’n wenresep vir ’n huwelik?

’n Verhouding werk as dit vir albei partye werk. Jy en jou vrou se geluk is ewe belangrik. Elke huwelik is anders, maar ek glo die feit dat ek ’n baie positiewe mens is, help ook. Ek en Ilze het ’n doodgewone lewe saam en ons geniet die klein dingetjies. Ons werk wel baie hard daaraan om ons huwelik so privaat as moontlik te hou. Wat noodsaaklik is, is respek, getrouheid en baie liefde. Love each other, warts and all.