Dis hoe Vicky stres op sy plek hou

0
37
vicky_davis.jpg

Jy lyk dalk altyd koel en kalm, maar almal raak nou en dan senuweeagtig en gespanne. Selfs al wys dit nie op jou gesig nie, kruip stres steeds in jou lyf weg.

Ek stres die meeste wanneer ek ’n onhaalbare sperdatum het. Te veel hooi op my vurk beteken dat ek iewers moet afskeep om alles gedoen te kry. Dit laat my stres, want ek hou daarvan om dinge deeglik te doen. Ek wil ook nie mense teleurstel wat op my staatmaak nie.

’n Ander rede hoekom ek gespanne raak, is onafgehandelde sake. Ek haat dit as daar onopgeklaarde probleme tussen my en iemand anders is. Ek verkies om sake eerder reguit uit te praat.

Ek wys dalk nie stres op my gesig nie, maar ek bêre dit in my lyf. Dis nie ongewoon vir my om gereeld erge migraine te kry nie. My skouers en nek voel ook dikwels styf, en my tandarts sê ek kners op my tande.

Selfs al raak ek nie maklik paniekerig nie, ervaar ek stres tog op ’n onderbewustelike vlak, wat my vinniger laat verouder. Daarom moet ek myself gereeld daaraan herinner en ook dwing om te ontspan. Ek is ook ’n groot aanhanger van Environ-produkte, wat vitamien A bevat en veroudering beveg.

Ek voel rustig wanneer ek in die bad lê

Daar is min plekke waar ek so ontspanne voel soos in die bad. Ek kan maklik ’n uur lank lê en week. Dis my vrye tyd en ek dwing myself om nie aan probleme of dinge by die werk te dink nie.

Warm water is soos salf vir my lyf. Dis baie goed vir seer spiere, en ek voel soos ’n nuwe mens as ek uitklim.

My hond help my om van alles te vergeet

Ek het ’n liewe skaaphond. Hy is vol energie en hou van pret. Ons moet gereeld gaan stap sodat hy (en ek) aktief kan bly. Dis heerlik om in die natuur te wees wanneer ons stap. Dan vergeet ek gou van probleme of die dinge wat krap.

Naweke gaan ons na die plasie Bloublommetjieskloof naby Wellington. Die stilte van die natuur omring my daar. Hier leef ek op ’n ouwêreldse manier, sonder moderne toebehore. Vir twee dae ’n week kan ek die gejaag van die stad agterlaat en net rustig wees. Ek moet myself doelbewus in situasies plaas waar ek gedwing word om te ontspan. Die plaaslewe is vir my ideaal, want daar is geen gejaag nie.

Jy kan gou meegesleur raak in die rotteresies in die stad; daarom moet jy kies om te ontspan. Dis goed vir jou gemoed én jou lyf.

Na badtyd masseer ek my lyf met Bloublommetjieskloof Organic Skin Food. Dit bevat onder meer olyfolie en laventel.