Dís hoekom jy die heeltyd peusel

0
6
verloor_gewig.png

Die meeste van ons peusel al is ons nie honger nie. Verstaan waarom dit gebeur en oorwin die drang.

Baie mense peusel omdat sekere buitefaktore hulle laat dink hulle is honger. As jy weet wat jou honger-tipe is, kan jy begin verstaan hoekom jy peusel en hoe om dit onder beheer te kry.

1. Wat sal maak dat jy by ʼn koffiewinkel inloop en ’n groot stuk koek bestel?

A. As ek die koek vars uit die oond uit ruik of dit in die venster sien.
B. As my baas my so pas gekritiseer het.
C. As my vriendin sê dis nou tyd vir tee en koek.

2. Wanneer sal die gedagte aan ’n lekker pizza jou aandag die maklikste van jou werk aflei?

A. As ek dit ruik, sal my maag skielik begin grom.
B. As ek sleg voel oor myself of verveeld is.
C. As dit op die kop eenuur is en ek middagete kan eet.

3. Hoekom voel jy honger as jy net ’n kort rukkie tevore geëet het?

A. As ek by ’n bakkery verbyloop, die koekies ruik en hardop sug van die honger.
B. As ek so pas met my man baklei het en aan iets anders wil dink.
C. As ek by my ouers gaan kuier en my ma hou aan dat dit nou etenstyd is.

Lees ook: Wees eerlik … eet jy régtig min?

Meestal A’s: Die sensoriese honger-tipe

Jy word lus vir kos na aanleiding van hoe dit lyk, ruik of proe. Oor die algemeen wakker die reuk van broccoli nie honger by enigiemand aan nie, maar iets geurigs soos pannekoek of boerewors sal. Die moeilike ding omtrent hierdie tipe honger is dat dit so instinktief is. As jou maag begin grom as jy heerlike kos ruik, is dit nie iets wat jy kan beheer nie. Die sensoriese honger-tipe gebruik snellers buite hulle liggaam om te eet, eerder as om na die boodskappe van hulle liggaam te luister.
WENK VIR DIE SENSORIESE TIPE
Die idee is om jou sintuie te blokkeer.
• Hou ’n botteltjie pomelo-olie by jou. Navorsing dui daarop dat die reuk daarvan jou drange kan verskuif of ten minste jou aandag sal aflei.

Meestal B’s: Die emosionele honger-tipe

Hierdie is waarskynlik die algemeenste honger-tipe – jy eet as gevolg van gevoelens eerder as omdat jy honger is. Voor jy begin eet, dink aan die afkorting FEWV. Dit staan vir frustrasie, eensaamheid, woede en verveling. Dit is die algemeenste redes waarom vroue eet as hulle nie honger is nie.
Die emosionele honger-tipe sukkel om hulle eetgewoontes te beheer omdat hulle eet om redes wat niks met honger te doen het nie. Hulle gebruik kos vir iets wat dit nie veronderstel is om te doen nie – om hulle te kalmeer of af te stomp. Hierdie honger-tipe kan maklik ’n patroon word. Hulle sit vinnig gewig aan en kan baie sukkel om dit af te skud.
WENK VIR DIE EMOSIONELE HONGER-TIPES
• Moenie die krag van tee onderskat nie, veral ’n geurige koppie rooibos. Die hitte en effense soet smaak kan jou kalmeer en troos sonder al die kilojoules.

Meestal C’s: ʼn Gewoonte-honger-tipe

Dié honger-tipe gaan alles oor roetine en roosters. Jy luister nie of jou liggaam honger is nie, maar jy eet eerder wanneer dit etenstyd is. Jy ignoreer dus jou liggaam se boodskappe om by jou of iemand anders se skedule te hou.
Die gewoonte-honger-tipe kan beïnvloed word deur ’n roetine uit jou grootwordjare, soos jou ma wat op bepaalde etenstye gestaan het. Jou huidige omstandighede, soos ’n spesifieke etenstyd in die middag, dra ook daartoe by. Dit kan jou laat dink dat jy honger is as die etensklok lui, selfs al is jy nie.
WENK VIR DIE GEWOONTE-HONGER-TIPE
• Probeer om ’n paar dae lank nie volgens die horlosie te eet nie. Luister na jou lyf en eet net wanneer jy fisies honger is in plaas van volgens jou etenstye. Monitor jouself om te kyk of jy minder eet.
Die meeste van ons val onder een van die honger-tipes, maar jy sal baat vind by al die wenke om jou slegte gewoontes te verbreek.

Lees meer: Spring tou en verbrand meer vet

Vertaal en verwerk uit What’s your hunger type van Ramani Durvasula deur Amanda du Pisanie.