Dis prysuitdeling

Trots sit ons in rytjies gepak by die skool prysuitdeling. Ons selfone op silent, maar gereed vir aksie as JOU bloedjie op die verhoog stap.

Iets het egter daardie aand gebeur wat my seker altyd sal by bly. Ek was haastig op pad skoolsaal toe. Mens wil mos nou graag ‘n sitplekkie met ‘n goeie uitsig te kry.

Op die sypaadjie het ‘n verslete vrou gestaan en met ‘n kind en praat. Ek dog eers: Vir wat pla die vrou nou ‘n skoolkind? Ek was gereed om in te meng en die kind te red. Mens weet nooit in vandag se lewe met nuusberigte vol van kinderhandel ensovoorts nie.

Als aan die vrou het gedui op ‘n moeisame, verwaarloosde lewe. Dalk was sy siek of dalk was sy verslaaf aan een of ander substans. Ek besluit toe sommer dit moet die laaste een wees. Haar lyf was baie maer en sy het daar gestaan, lewensmoeg en wiegend. Haar vel leer gebrand deur die son, versonke groot oë en diep holtes onder haar wangbene. Ek was naby hulle toe sy die kind druk en met ‘n growwe krakerige stem sê: “Geluk my kind. Geniet dit.” Toe stap sy weg van die skool af. Haar sweetpakbroek was oud en vuilerig en haar plakkies gedaan getrap.

Die skoolmeisie se skoene was gehawend. Haar skoolbaadjie het al baie swaar seisoene gesien.

My verbeelding het op hol gegaan met allerhande skrikwekkende scenarios. Ek het besef dis gevaarlike terrein, want ek het geen idee van hul werklike omstandighede nie.

Hoekom het die vrou weggeloop? Wou sy haar kind dalk vernedering spaar? Wat is hul situasie? Waar bly hul? Sien hierdie kind dinge wat kinders liefs nie moet sien nie?

Die vrae maal en die antwoorde is onbeskikbaar.

Die prentjie op die sypaadjie het nie gepas in die algemene prysuitdeling prentjie nie.

Mammas is gewoonlik netjies opgedollie. Meeste dra sorg dat alle huis probleme tuis gelos is, uit ander se sig uit. Pappas lyk ook altyd paslik opgedress. Almal met glimlagte so breed soos die Grand Canyon, trots en vol verwagting.

Dis die algemene prysuitdeling prentjie.

Maar hierdie kind se prentjie het heeltemal anders gelyk.

Ek dink by myself dat sy waarskynlik met minder bronne, ondersteuning en dalk onaangename huislike omstandighede, dit gemaak tot by die skool prysuitdeling.

Dit sê dat ‘n mens nie jou omstandighede as verskoning kan gebruik nie. Dat sy keuses gemaak het en dalk sonder ekstra klasse, hulp en uitgawes moes klaar kom.

En die ma? Is sy haar ma? Wel, sy was trots. Ek wens sy het in die saal gaan sit. Ek wens sy kon die mooi oomblik van daardie kind op die verhoog sien. Ek wens daar sou nie kyke en fluiterimge oor haar teenwoordigheid gewees het nie. Mense is mos maar mense.

Het ons vergeet waaroor ‘n prysuitdeling gaan? Is dit te veel van ‘n elite byeenkoms? Daar sal sekerlik ‘n verskeidenheid sienings hieroor wees.

Maar wat my aanbetref sal ‘n skool prysuitdeling prentjie nou beslis anders lyk.

Moontlik was al my afleidings oor die situasie op die sypaadjie verkeerd gewees. Sal ek ooit weet?

Dit maak egter nie saak nie. Die prentjie van ‘n spesiale oomblik tussen ‘n verslete vrou en ‘n kind op ‘n sypaadjie leer my net weer om dankbaar te wees vir soveel seëninge, elke mens se talente, harde werk en opofferinge.

Dis die ware prysuitdeling.