Dis vakansietyd!

Ja, elke ding het sy tyd soos God dit bepaal. So ook vakansietyd. Prediker 3:1: “ ALLES het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd:”.

O vreugde! Ons maak reg vir vakansie.  Ons het dit so nodig. Die lewe is so besig.  Tyd om af te skakel en af te skaal van ons alledaagse besig wees. Tyd om van werk en roetine te vergeet. Tyd om ons sorge tuis te laat en stoom af te blaas!  Vakansietyd is ons tyd om ‘n goeie tyd saam te hê sonder enige onderbrekings. Kwaliteit tyd met mekaar waar ons nie voor die tv parkeer met ons selfone in ons hand nie. Tyd waar ons kwaliteit gesprekke kan voer met mekaar sonder die tv wat aan is, die foon wat lui of die kantoor wat in die pad is.

Ons vakansie is ‘n paar maande weg, tog dink ons baie daaraan. Dis asof dit ons deur die moeilike tye kry. Daardie wete binne die nabye toekoms is ons by die see! O die lekker van visvang en stap langs die see, roomys by ons gunsteling plek, hemelmooie sonsondergange woordeloos knus langs mekaar met ‘n glasie vonkelwyn om opnuut ons liefde en lewe te vier, salige soete slaap nagte sonder die wekker se wakker word, onbeperkte vars lug en ooptes, baie lag en lawwigheid, nagte wat ons wegdans of sommer net ontspan.

O die lekker om weer kind te word met ons tone wat in die sand vroetel terwyl ons in stilwees ons emosies verwerk. Ons verras onsself opnuut met die invul van blokkiesraaisels. Dit verskerp ons intellek, algemene en woordkennis verseker terwyl dit meer na speel as leer voel. Salig en lekker is ons samesyn selfs wanneer my man wel per geleentheid die tv aansit terwyl ek met my kop op sy skoot lê en my gunsteling tydskrif deurlees van voor tot agter. O en daai braai . . . moet dit asseblief nie vergeet nie! Natuurlik bederf ek my man ook met braai, want ek kan.

Nuwe dinge en onbekende plekke wat ons saam ontdek word een groot en lekker avontuur. Ons lééf ons lewe! Ons geniet elke oomblik van ons reis! Elke oomblik tel en ons maak elke oomblik tel. Die see en son doen ons lyf en siel goed. Ons kom altyd terug verfris en reg om die wêreld weer aan te vat. O ja en natuurlik lyk bruin vet altyd mooier as wit vet wat ‘n verdere bonus is.

Dis baiekeer ook in hierdie tye wanneer ons ontspanne is waar God vir ons nuwe idees en Sy drome in ons hart se oor kom fluister.  Terug tuis na ons vakansie waardeer ons doodeenvoudig opnuut ons eie huis en lewe, mekaar opnuut.

Ja, almal het hul eie idee van ‘n perfekte vakansie. Ons kies doodeenvoudig om elke dag te gryp en voluit te geniet! So gebeur ‘n perfekte vakansie sonder moeite en sorgvry.

Ek moet groet. Dis tyd om daai perfekte breёrandhoed te soek. My sonbril en speelse lipsalf het ek alreeds byderhand. Liggewig klere word ingepak want niks mag swaar wees op ons vakansie nie.

PS: Geskenkies word natuurlik ook gepas gekoop. Lig en vrolik.

Vorige artikelWaardering
Volgende artikelGevulde croissants
Blogger - Tania Delport
Tania Delport is terselfdertyd onkonvensioneel, passievol, vreesloos, kreatief, teen die grond neergegooi maar nie vernietig nie, vol blydskap en humor, Woord deurdrenk en geesvervuld, ‘n onvergeetlike persoonlikheid. Tania Delport se skryftalent is ‘n passie en natuurlike gawe van God maar ook stil-stil geïnspireer deur die welbekende skrywer Hennie Aucamp wat 20 Maart 2014 oorlede is. Sy het in die Stormberg hoogland in die Oos-Kaap grootgeword op die buurplaas vanwaar hy grootgeword het. Haar oom aan haar pa se kant was getroud met die suster van Hennie Aucamp, dus was hy deel van haar familie binnekring. Tania Delport is in haar finale seisoen van liefde en lewe. Haar prioriteit is haar man Pieter. Sy is toegewyd en gaan haar gawes met veral vroue deel. Tania Delport se G-I-L in die nag het L-I-G in die dag geword want God is Liefde. Haar lewe het vlerke gekry. Dis tyd vir joune! Besoek gerus haar web tuiste https://eet8eet.co.za