Dís waarom jy nie gewig verloor nie

0
20
metabolisme.png

As jy alles doen om te verslank, maar niks werk nie, is jou metabolisme moontlik die probleem.

Skop jou metabolisme aan die brand en raak ontslae van onnodige vet.

Gereelde slaap bevorder jou metabolisme

Om agt uur lank te slaap het ’n groter voordeel as om jou goed te laat voel deur die dag. Dit help ook om jou metabolisme te versnel.

Grelien en leptien is twee hormone wat jou aptyt reguleer. Grelien is die sogenaamde hongerhormoon wat jou liggaam vervaardig wanneer dit honger is. Leptien word deur vetselle vervaardig en stuur ’n sein na die brein dat jy versadig is. Wanneer dit gebeur, versnel jou metabolisme. Navorsing toon dat te min slaap veroorsaak dat dié sein nie sy bestemming bereik nie, omdat ’n gebrek aan slaap grelien laat toeneem en leptien laat afneem. Wanneer die leptien verminder, dink die brein jy is steeds honger en beveel jou liggaam om energie te bespaar. Jou metabolisme raak dus stadiger, wat dit moeiliker maak om vet te verbrand, sê Michele Roberts van Brunel Laboratoria.

’n Stadige metabolisme is dalk verwant aan inflammasie

Inflammasie is jou liggaam se manier om homself te beskerm deur skadelike stowwe te verwyder. Kosse soos rooivleis en verfynde suiker kan inflammasie in jou liggaam veroorsaak, asook rook en selfs ’n lae liggaamstemperatuur. As dit gebeur, kan gifstowwe in die spasies van jou selle ophoop. Dit veroorsaak dat jou lyf vloeistof terughou om daardie gifstowwe uit die liggaam te spoel. Jou metabolisme raak dan stadiger om hierdie ekstra spanning te hanteer. ’n Goeie ontgiftigingsprogram, waartydens jy gesond eet in plaas van om jouself uit te honger, behoort te help om dit weer aan die gang te kry en van gifstowwe ontslae te raak. Eet glutenvry kosse soos neute en eiers, en drink ’n groot glas water met ’n bietjie suurlemoen elke oggend.

Eet dít vir ’n vinniger metabolisme

* Rooipeper bevat ’n chemiese stof genaamd kapsaïsien. Dit versnel tydelik jou metabolisme omdat jou liggaam gestimuleer word om meer streshormone soos adrenalien vry te stel. Dít verhoog termogenese, waardeur vet geoksideer word vir energie. Bly verkieslik weg van aanvullings wat dié spesery bevat. Voeg eerder daarvan meer by jou kos.

* Eiers is ’n superproteïen. Dit bevat al nege van die noodsaaklike aminosure wat jou liggaam nodig het om op sy beste te funksioneer. Dis al oor en oor bewys dat mense wat eiers vir ontbyt eet, langer versadig voel en minder kilojoules die res van die dag inneem. Die lekker ding is dat daar geen beperking is op hoeveel jy eet nie. Solank dit deel vorm van ’n gesonde en gebalanseerde eetplan, kan jy maar daaraan weglê.

* Kaneel is ’n vetverbrander soos min. Studies het al bevind dat dit jou liggaam help om die absorpsie van glukose te blokkeer. Dit verbeter ook die manier waarop vetselle op suiker reageer, en dit help om jou bloedsuikervlak te verlaag. Gooi ’n teelepel of twee by jou daaglikse koppie koffie om meer van dié spesery in te neem.

* Bessies is ryk aan polifenol, ’n chemiese stof in plante wat vetverbranding aanwakker en jou bloedsuiker- en insulienvlak reguleer. Drink dit in ’n smoothie, of voeg dit by ’n vrugteslaai.

* Groentee is nie net ryk aan antioksidante nie, maar dit help ook met spysvertering en beheer bloedsuiker. Dit bevat kafeïen, wat die metabolisme laat versnel vir ure nadat jy dit gedrink het. Twee tot vier koppies groentee per dag kan tot 200 ekstra kilojoules verbrand.

Bronne: www.webmd.com; www.health24.com; www.healingstl.com; www.clevelandclinic.org; www.lef.org; www.womenshealth.com