Dís waaroor jy eendag gaan spyt wees

0
99
spyt.jpg

Waaroor gaan jy eendag spyt wees? Dink ’n bietjie daaroor en maak nou reeds ’n plan om jouself te wees!

Dis toe nie slimmer kinders, ’n groter huis of luukser vakansies nie. Nee, dit waaroor mense aan die einde van hulle lewe spyt is, het niks met materiële dinge te doen nie.

Verpleegster Bronnie Ware het jare lank met sterwende pasiënte gewerk en hulle tot die einde bygestaan. Sy het onder meer met hulle gesels om te hoor of hulle dinge anders sou doen as hulle hulle lewe kon oorhê.

Wat hierdie pasiënte verklap het, was so insiggewend dat sy later ’n boek daaroor geskryf het. Sy wou dit graag met ander deel sodat hulle nie later oor dieselfde dinge spyt sou wees nie.

Wat interessant is, is dat die meerderheid mense nie gewens het hulle het harder gewerk en meer geld verdien nie. Inteendeel, die meeste het gevoel hulle het hulle geliefdes afgeskeep deur té lang ure te werk en daardeur het hulle baie spesiale oomblikke misgeloop.

Baie pasiënte was ook spyt hulle het nie meer gereeld gesê hoe hulle voel nie. Hulle het liewer stilgebly om konflik te vermy, eerder as om standpunt in te neem.

Dis verstommend hoe baie mense gevoel het hulle moes meer gedoen het om gelukkiger te wees. Hulle het te laat besef dat geluk ’n keuse is. Omdat hulle bang was vir verandering, het hulle eerder in ou, gevestigde patrone voortgeploeter.

Mense is ook spyt dat hulle kontak met goeie vriende verloor het en dat hulle hulle eie waardes minder geag het en eerder gedoen het wat ander wou hê. Die meeste mense onderdruk hulle drome omdat hulle ander tevrede wil stel.

Dit kom alles eintlik maar op dieselfde ding neer: Jy moet getrou bly aan jouself en aan dít wat die meeste vir jou saak maak.

Wat kan jy dan vandag doen sodat jy nie eendag sal voel jou lewe het nie genoeg betekenis gehad nie? Is daar maniere om jou drome en waardes te identifiseer en doelbewus te volg?

Stap 1: Vind uit wat jou hart warm laat klop

As iemand jou nóú moet vra: “Wat wil jy regtig uit die lewe hê?”, sal jy die vraag kan antwoord? Die meeste vroue het eintlik geen idee van wie hulle regtig is of wat hulle wil hê nie. Hulle is gewoond om altyd iemand anders se behoeftes bo hulle eie te stel. Dis hoekom jy soms na ’n tydjie op jou eie smag, maar as jy dit kry, weet jy nie wat om daarmee te doen nie.

As jy jouself nie ken nie, kan jy mos nie weet wat jy regtig wil hê nie. Dink ’n bietjie mooi: Wat kikker jou dag in ’n japtrap op? Watter dinge is vir jou belangrik? Wat haat jy? Wat is jou passie? Wat móét jy eenvoudig elke dag inpas, al is jy hoe besig?

Jou familie en die gemeenskap sal baie te sê hê oor wat jy nou eintlik behoort te doen, maar jy is tog die een wat met jouself moet saamleef tot die einde – jy kom eerste.

Dit beteken nie jy is selfsugtig en stoot nou almal om jou weg nie. Dis eintlik die teenoorgestelde: As jy weet dat iemand vir jou belangrik is, sal dit jou prioriteit wees om meer vir haar te gaan kuier. Dit sal jou, en haar, gelukkig maak.

As jy tevrede is met jou lewe, sal jy outomaties vriendeliker en bedagsamer wees. Hoe gelukkiger jý is, hoe meer sinvol is jou bydrae aan ander en hoe meer waarde het jy uiteindelik vir almal om jou.

Stap 2: Stel spesifieke doelwitte vir jou lewe

Min mense stel doelwitte vir hulleself. Jy het dit dalk al gedoen (mooi so!) maar dit was miskien te negatief. Jy sou byvoorbeeld sê: “Ek is te vet. Ek moet myself maar uithonger volgende week.” Dit sou egter beter wees om dit positief te stel en eerder te sê: “Ek wil goed lyk en beter voel, daarom gaan ek van nou af gesonder eet.”

’n Sielkundeprofessor, Gail Mathews, het ’n studie gemaak oor hoekom mense nie hulle voornemens uitvoer nie. Sy het ’n klompie vrywilligers uit verskillende besighede en agtergronde geneem en hulle lukraak in verskillende groepe geplaas.

Een groep moes byvoorbeeld net dink aan hulle doelwit. ’n Ander groep moes dit ook neerskryf en ’n derde groep moes dit neerskryf en weekliks verslag doen oor hoe ver hulle gevorder het. Laasgenoemde groep het natuurlik die beste gevaar omdat hulle geweet het hulle sou vir iemand moes sê hoe hulle vorder.

Die heel beste manier bly dus maar om jou doelwitte en hoe jy dit gaan bereik, neer te skryf. Dis belangrik om net op ’n paar dinge te fokus, anders raak jy heeltemal oorweldig en kom jy by niks uit nie. Volgende keer kan jy weer iets anders aanpak.

Dit help egter nie om byvoorbeeld net algemene stellings in jou dagboek neer te skryf nie. Iets soos Ek wil graag ander mense help is te vaag. Maak dit spesifiek en skryf neer presies hoe jy beplan om dit te doen. Breek dit dan op in kleiner stukkies.

Jy kan byvoorbeeld sê jy gaan Saterdagoggend vir ’n uur lank by ’n ouer persoon kuier en ietsie te ete saamneem. Vertel jou vriendin wat jy beplan. Jy sal te skaam wees om te erken dat jy nog nie daarby uitgekom het nie!

Stap 3: Ignoreer daardie kritiese stemmetjie in jou kop

Die oomblik wat jy ’n stappie nader gee aan jou doelwitte, kan jy maar weet: Jy het ’n vyand. Daardie stemmetjie binne-in jou wat so graag negatiewe dinge sê, gaan net al harder begin praat: “Jy het dit nog nooit gedoen nie, hoekom nou?” “Sê nou jy misluk? Dan gaan almal vir jou lag!”

Hierdie kritiese stem is daar omdat jou brein, ter wille van oorlewing, fokus op iets wat ’n bedreiging vir jou lewe kan inhou. Daarom kan negatiewe gebeure uit jou kindertyd sterker wees as positiewe ervarings. Jy was dalk stout en jou ma was by breekpunt. Toe sê sy jy moet skoert, want jy maak haar mal. En dis wat jy tot vandag toe onthou, al het sy hoeveel mooi dinge ook vir jou gesê.

Hierdie stemmetjie is afbrekend, krities en sinies. Jou “regte self”, aan die ander kant, is net die teenoorgestelde. Dis die deel van jou wat positief en optimisties is oor alles waarvan jy nog droom.

As jy wil verander, sal jy ’n houding van zero tolerance teenoor die negatiewe stemmetjie moet inneem. Sodra jy agterkom jy is besig om jouself te saboteer, stop dit eenvoudig! Moenie eers aan die woorde in jou gedagtes herkou nie. Dit is nóóit reg om so krities teenoor jouself te wees nie.

Dis nóú die tyd om seker te maak dat jy ook eendag saam met Frank Sinatra sal kan sing: I did it my way. Dan hoef jy oor niks spyt te wees nie.

Verwerk uit Essential Steps To Living Your Own Life deur Lisa Firestone.