Dís wat stres aan jou liggaam doen

0
63
Stres.jpg

As jy dit nie reg hanteer nie, kan spanning die volgende simptome op kort en lang termyn op jou lyf hê.

Onmiddellike effekte van stres op jou liggaam

Jou brein beleef ’n kortsluiting
’n Studie deur die Radboud-universiteit in Nederland het bevind dat alle energie vir jou liggaam gebruik word tydens die tipiese veg-of-vlug-reaksie. Jou brein trek aan die kortste end, want jou lyf moet gereed wees om die gevaar te trotseer. Stres veroorsaak dat jy nie kan dink nie, terwyl jy eintlik dan op jou skerpste moet wees.

Jy moet dringend by ’n toilet kom
Weer die veg-of-vlug-reaksie se skuld. Volgens die Spysvertering-navorsingsentrum in Los Angeles raak jy van onnodige gewig ontslae sodat jy vinniger kan wegkom; daarom kry jy diarree in stresvolle situasies.

’n Gesing in jou ore
Die limbiese area in jou brein raak ooraktief wanneer jy stres en dit veroorsaak gehoorprobleme en ’n gesuis in jou ore, het die Karolinska-instituut in Swede bevind.

Jou maag pyn
Navorsers aan die Universiteit van Kalifornië het bevind dat streschemikalieë jou spysvertering deurmekaar maak. Die einste veg-of-vlug-reaksie laat jou lyf kilojoules en ander energiebronne behou, wat maagpyn tot gevolg kan hê.

Chroniese effekte van stres op jou liggaam

Jou vel slaan uit
Verhoogde vlakke van die streshormoon kortisol laat jou vel ’n anti-inflammatoriese, wasagtige olie vrystel wat jou vel kan laat uitslaan in aknee of ander veltoestande, waarsku die Miller Mediese Skool in Miami.

Die verkoue wil nie oorgaan nie
Simptome soos ’n loopneus, ’n hoes en ’n seer lyf is die gevolg van jou immuunstelsel se inflammatoriese reaksie teen ’n virus. Spanning verhoog die inflammasie en daarom reageer jou lyf erger teen virusse, volgens ’n studie van die Carnegie Mellon-universiteit in Amerika.

Jou hare val uit
Haarverlies kan plaasvind weens die verhoogde inflammasie, meen die Amerikaanse Dermatologie-akademie. Gelukkig sal jou hare weer uitgroei sodra jy minder gespanne is.

Jou brein krimp
Darem nie dramaties nie, maar tog. Stres verhoed dat jou brein nuwe verbindings vorm wat die verskillende breinselle met mekaar laat kommunikeer. Daarom word jou grysstof mettertyd minder, het navorsers aan die Yale-universiteit in Amerika gevind. Daar is moontlik ook ’n verband tussen hierdie krimping en depressie.

Jou naels lyk snaaks
Streshormone maak jou naels bros en soms vorm daar riffies in die middel van jou naels. Die Miller Mediese Skool in Miami glo dit gebeur omdat jy met jou vingers vroetel en jou vingerpunte teen mekaar druk as jy gestres is.

Seerplekke word nie gesond nie
In stresvolle situasies onttrek jou lyf vog uit die buitenste lae van jou vel om jou organe in noodsituasies bevogtig te hou. Gevolglik verswak jou vel se vermoë om te herstel, volgens ’n artikel in die Jama-dermatologiejoernaal.

Nou ja, dit is genoeg om jou sommer van voor af te laat stres – behalwe as jy so 10 sekondes tot jou beskikking het. Want in ’n baie kort tydjie kan jy al hierdie nare newe-effekte hokslaan, en sommer ook vir altyd ophou stres.

Hierdie is volgens Forbes die 10 soorte werk wat die minste stres veroorsaak:
1. Oudioloog
2. Haarkapper
3. Juwelier
4. Universiteitsprofessor
5. Naaldwerker
6. Dieetkundige
7. Medieserekordstegnikus
8. Bibliotekaresse
9. Multimedia-kunstenaar
10. Boorpers-operateur

As jy nie gelukkig genoeg is om een van hierdie werke te doen nie, kan jy spanning op kantoor so verminder:
- Beperk alle kommunikasie tot tussen seweuur soggens en seweuur saans.
- Moenie eposse oor naweke en op vakansiedae beantwoord nie.
- Laat weet almal vroegtydig, soos tydens ’n vakansie, wanneer jy nie beskikbaar gaan wees nie – en bly dan weg van eposse!

Lees meer: Stres minder binne 10 sekondes