Dís wat Wilmien en Boeboe besig hou

0
167
voorblad.jpg

Van pronk op voorblaaie tot swaardslukker in die sirkus … Wat doen Nina Swart en Liane Heyl deesdae?

Van wilde Wilmien tot kwaai baas

2000. Dit voel soos ’n leeftyd gelede. Ek was 25, voortvarend en selfversekerd toe ek die rol van Wilmien in 7de Laan vertolk het. Mettertyd het ek besef dat acting nie regtig my ding is nie. Gelukkig het regisseur Danie Odendaal my die kans gegee om onder leiding van mense soos Pierre van Pletzen, oneindig baie praktiese vaardighede van die bedryf aan te leer.

As vryskut het my loopbaan vlerke gekry, maar nie voor ’n paar mense groot kanse met my gewaag het nie. In 2006 het kykNET ’n regisseur vir ’n nuwe reeks gesoek. Niemand het geglo dit gaan werk nie en baie ervare mense het dit van die hand gewys. Ek was hulle laaste opsie. Dit was ’n geval van: “Ag, siestog, kom ons gee haar maar ’n kans.”

En daar word Boer soek ’n vrou een van die gewildste programme op DStv. Dit was ’n wonderlike ondervinding. Die meer as 50 000 km deur ons land het my geleer van kameras, van verhoudings, om met mense te werk, besluite te neem, gesag af te dwing…

Waar ek altyd doodbang vir konfrontasie was, moes ek leer om dit te hanteer. En al lyk dit miskien nie so nie, kan ek nogal kwaai wees. Kom ons sê maar daar is ’n paar mense wat my nie weer sal kwaadmaak nie, want binne perke en met groot respek, het ek al volwasse mans laat huil. Dis nie dat ek die laaste sê wil hê nie… gewoonlik mag nét ek praat!

Intussen was daar Proesstraat, wat binnekort weer gaan begin, Pitstop, Varstrap en Survivor. Deesdae is ek betrokke by Dagbreek, waar ek verantwoordelik is vir insetsels uit die Kaap. Ek het nog altyd van mense gehou, maar nou het ek ’n manier gekry om my belangstelling uit te leef. Oor die afgelope aantal jare het ek al meer as 3 000 kort onderhoude met mense gevoer. Waar ek as aktrise op myself ingestel was, moet ek nou daarop fokus om mense se stories uit hulle te kry.

Ek het baie agting vir ouer mense, maar geniet dit nou om ’n bietjie ouer as my kollegas te wees. Die “kinders” op stel is baie goed daarmee om my selfoon reg te maak. Om daardie soort power oor die jeug te hê is nogal lekker… Ek bedoel dit darem net tong in die kies, ek het geweldige respek vir die (jong)mense saam met wie ek werk. In die week het ek ’n nuwe foon gekry met WhatsApp, Instagram, Facebook, Twitter en in ’n stadium kom al hierdie boodskappe en notifications deur. Ek was skoon verbouereerd, het bloot die foon in ’n jong outjie van die kameraspan se hande gestop en gegil: “Stop dit net! Laat dit net ophou!”

Die grootste ontnugtering van my volwasse lewe is dat ek nie is wat ek gedink het ek is nie. Ek is nie so sterk, so slim, so indestructible nie. Maar ek het ook geleer dat dit oukei is. Dat ek nie moet ophou probeer omdat ek eintlik maar net derde beste nie, want dit was altyd my groot ding. As ek iets nie kon doen en nommer een kon wees nie, het ek dit eerder gelos.

Verder dink ek het ek tot ruste gekom. Met 40 wat dié jaar vir my wag, kan ek ook net sóveel energie hê.

“Die grootste ontnugtering van my volwasse lewe is dat ek nie is wat ek gedink het ek is nie.” Nina Swart

Van blonde Boeboe na Nancy Drew

My oë het my die rol van Boeboe besorg. In komedie is die manier waarop jy jou oë gebruik, baie belangrik en Willie Esterhuizen het gehou van die manier waarop ek dit doen. Ek was in Amerika toe Willie my laat weet het ek het die rol van Boeboe gekry. Met my laaste geld het ek drie dae later teruggevlieg Suid-Afrika toe.

Met Boeboe het ek die break gekry waaroor elke akteur droom, maar daarmee saam het die publiek se aanname dat ek ’n dom blondine is, gekom. Dit is al hoe mense my gesien het. Dis asof hulle gedink het hulle besit my. Gelukkig het Willie my gehelp om ook dit te hanteer.

Liane_Heyl.jpgEk was 26 toe ek Boeboe was. Vandag is ek 47. Loopbaangewys het ek omtrent al alles onder die son gedoen. Van musiekblyspele en kabaret tot opera, en ek het ook ’n draai in die sirkus gemaak. Nogal as ’n swaardslukker, en ek kon oor gebreekte glas loop. Uit geldnood was ek ’n ruk lank ook ’n kelner. Deesdae besit ek vier dramastudio’s waar ek vir leerders dramaklasse gee. Ek beskou myself as ’n sangeres, aktrise en vermaaklikheidskunstenaar.

My persoonlike lewe was net so ’n mallemeule. Op 43 het ek ma geword, my ouers is vyf jaar uitmekaar albei aan kanker oorlede en verlede jaar is my tannie vermoor. Ek het op haar liggaam afgekom en is die prime witness in die hofsaak. Noem my sommer Nancy Drew, want ek (en heelwat ander) het ’n baie besliste teorie oor wie dit gedoen het – iets waaroor ek natuurlik nie nou kan praat nie.

As ek eerlik moet wees, is ek woedend oor haar dood. Ek kry terapie, maar sukkel met my emosies. Ek is kwaad dat sy op 79 so ’n dood moes sterf. Ek is kwaad oor die manier hoe haar liggaam soos ’n sak aartappels daar uitgedra is. Sy was so ’n waardige dame.

Waaroor ek egter die kwaadste is, is dat die moordenaar ons die enigste skakel ontneem het wat ons nog met ons ouers gehad het. Dit is nie lekker om skielik die matriarg van jou gesin te wees as jy eintlik nog ’n ouerfiguur in jou lewe bitter nodig het nie. Ek, my broer en my tweelingsuster, die nuusleser Genée Heyl, is nou soos weeskinders. Dis aaklig.

Met die koms van my dogter, Willow, vier jaar gelede het ek vir die eerste keer mense se vooroordeel ervaar. Hulle praat agter jou rug van jou en dink jy hoor dit nie. Nou dink ek beslis twee keer voor ek iemand anders oordeel. Daar is altyd twee kante aan ’n storie en eintlik kan jy niks sê tot jy nie self in daardie persoon se skoene gestaan het nie.

Ten spyte van die negatiewe dinge wat in my lewe gebeur het, is ek vol hoop vir die toekoms. Ek is op die vooraand van groot veranderinge – onder andere groot DVD-projekte en die kans om in Kanada te gaan bly. Die uitdagings is groot, maar ek is reg daarvoor.

“Ek het ook ’n draai in die sirkus gemaak. Nogal as ’n swaardslukker, en ek kon oor gebreekte glas loop.” Liane Heyl