Dit was harde werk om bo uit te kom

0
777

Mej. Suid-Afrika, Demi-Leigh Nel-Pieters, se blink, bruin oë en breë glimlag verklap baie. Sy het geleer dat stereotipes afgebreek word deur net jouself te wees.

Mense het my nog altyd in die skoonheidskoninginboksie geplaas. Dit het gevoel of die indruk bestaan dat jy slegs ’n mooi gesiggie is wat pragtige rokkies dra en nie eintlik baie slim is nie. Vooropgestelde idees kan misleidend wees. Daar staan egter al ’n BCom-graad agter my naam en ek was al ’n leier op ’n paar gebiede.

Soms kyk jy na bekende mense en stereotipeer hulle as byvoorbeeld ’n tipiese rugbyspeler of aktrise. As jy self in die kollig kom en beleef hoe ander jóú ook so sien, word jy heelwat versigtiger om sommer net ’n opinie oor iemand te vorm. Jy moet hulle eers self van naderby leer ken.

As mense my ontmoet en sê dat hulle beeld dat ek snobisties en onvriendelik gaan wees, heeltemal verkeerd was, laat dit my hart warm klop. Dit is belangrik dat jong meisies uit my optrede en houding iets sal kry waarmee hulle wil identifiseer. Dalk omdat hulle iets van hulleself raaksien.

Om te kom waar ek vandag is, het harde werk en deursettingsvermoë gekos. Reeds van ’n jong ouderdom af was my fokus op die posisie van hoofmeisie by my skool. Dit het beteken dat daar ’n groter fokus moes wees om akademies te presteer. Sportdeelname en betrokkenheid by verskeie komitees moes ook ’n prioriteit word.

Met tye moes pret en plesier selfs op die agtergrond geskuif word vir fokus op die regte doelwitte. Dit was nie altyd maklik nie omdat nie almal dit verstaan het nie.

Dit was dus van jongs af vir my belangrik om seker te maak dat daar ’n verstaan is van my eie doelwitte en die rigting waarin my drome sou gaan. As hierdie dinge reg is, kan niemand se negatiewe persepsie of kommentaar jou ontstel of seermaak nie.

Op skool was ek doodgewoon. Dit was soms nodig om iets vir aknee te gebruik en omdat ons by die see gewoon het, was my hare gereeld gekroes. Dit was natuurlik voor die dae van straighteners!

Om uit die poppieboksie te breek en almal verkeerd te bewys, het ek ’n propvol program gehad – met aktiwiteite van provinsiale hokkiespeler en atleet tot debatteerder.

My doelwitte was duidelik, anders as dié van baie ander jongmense van dieselfde ouderdom. As jy die enigste kind in die huis is, is jou fokus anders. Nie almal het hierdie ambisie verstaan nie. Met tye het dit selfs tot vyandigheid van ander meisies gelei.

’n Mens wil dit nie ’n geboelie noem nie, omdat dit beteken dat jy ’n slagoffer is, wat nie die waarheid is nie. Die beste was om ’n dik vel te ontwikkel. Weet jy hoe dit voel om ’n koshuiskamer met drie ander meisies te deel en te beleef hoe hulle vir mekaar roomys koop en nie vir jou nie? Of hoe hulle ophou praat as jy by die deur instap?

Dit vat aan ’n mens. Dit was soms regtig moeilik. Tog leer jy jouself ken en beleef jy hoe jou karakter daardeur groei en gevorm word.

Dié ervaring het my heel moontlik meer empatie vir ander gegee. Ek het vroeg reeds geleer om gou te vergewe en aan te gaan. As ’n mens dit nie doen nie, kan ander maklik jou positiwiteit en opgewondenheid oor die lewe begin steel.

Nie een van die vyandige meisies op skool het ooit om verskoning gevra vir hulle optrede nie. Tog het sommige van hulle ná die kroning van Mej. Suid-Afrika boodskappe van gelukwensing gestuur. Hulle het gesê dat hulle trots is omdat hulle weet watter harde werk dit reeds van skooltyd af geverg het.

Hierdie gedrewenheid, ambisie en duidelike doelwitte het in graad 12 sy tol begin eis. Afgesien van al die verpligtinge as hoofmeisie van die skool, was ek ook hoofmeisie van die koshuis en junior onderburgemeester van George. Vir ’n sewentienjarige was hierdie drie rolle baie veeleisend.

Omdat dit soveel opoffering geverg het om daar te kom, was die grootste doelwit om die beste hoofmeisie te wees wat die skool al ooit gehad het. Teen ’n prys, natuurlik. Daar was skielik baie minder tyd om alles te doen. Waar ek voorheen maklik A-simbole gekry het, het ek twee vakke net-net geslaag.

My ouers was wonderlik. Hulle het nooit druk op my uitgeoefen nie, maar was altyd baie ondersteunend. Vroeg in die jaar was die tekens van totale uitbranding baie duidelik. Behalwe die verskriklike moegheid, kon enige mens sien dat dit nie goed gegaan het nie. Daar was ook nie meer tyd vir oefen nie. Om in so ’n kort tydjie 10 kg aan te sit, is nie grappies nie. Dit kan ’n meisie se selfbeeld lelik knou.

Een aand by die koshuis het die damwal net gebreek. Weens totale uitputting was daar geen einde aan die trane nie. Mamma het my kom haal en by die huis het ek net geslaap en geslaap. Dit was ’n keerpunt. Dinge kon beslis nie so aangaan nie.

Hierdie breakdown het vir ’n paar moeilike besluite gesorg. Die akademie het weer eerste gekom. Nog ’n verandering was om te begin delegeer en ander mense genoeg te vertrou om met sekere dinge te help. Om te leer om nee te sê was ook ’n groot stap vorentoe.

Met die regte prioriteite het dinge weer reggekom. Die einde van die jaar was daar weer ’n onderskeidinggemiddeld en vyf A’s op my rapport!

Een van die hoogtepunte van my kinderjare was om saam met my ma na die jaarlikse kroning van Suid-Afrika se mooiste te kyk. Met glinsterende oë het ek op die televisie gesien hoe Cindy Nell gekroon is. Sy was perfek, ’n rolmodel, iemand soos wie ek graag wou wees.

Voor ’n toets sou ek altyd dink: “Jy kan nie net 80% in die toets kry nie. Cindy sou volpunte gekry het.” Of sy nou akademies goed presteer het of nie, het nie saak gemaak nie. In my kop was sy uitstekend in alles wat sy gedoen het. Universiteit was ’n duidelike kontras met my besige skoolloopbaan. Sommer van die begin af het die fokus verskuif. Dit was nie meer belangrik om aan alles deel te neem nie. Dit was ’n rustiger tyd.

Behalwe die akademie was daar geen “jy moet dit doen”- verantwoordelikhede nie. Om te gaan oefen of na ’n koffiewinkel toe te gaan was nou vir die lekkerte en nie meer omdat dit ’n vereiste was nie. Dit was ’n tyd om myself te ontdek.

’n Vriend het my vir die Mej. Intervarsity-kompetisie ingeskryf. Groot was ons almal se verbasing toe dié titel na my kant toe kom – asook die nasionale Mej. Intervarsity-titel. Eers hier het die kompetisie vir Suid-Afrika se mooistes weer begin wink.

Ter voorbereiding vir hierdie doelwit moes daar ’n paar veranderings kom. Redevoering en debat het nou ’n fokusarea geword. Die vermoë om ’n sterk opinie te vorm en te kommunikeer was broodnodig as ek wou goed vaar in die kompetisie. Cindy Nell het my destyds geïnspireer en ek wou vir ander jongmense wys dat jy nie perfek hoef te wees nie. Deur net jouself te wees, is jy spesiaal en uniek.

My pad kruis amper daagliks met honderde vroue wat funksies bywoon waar ek optree. Hierdie posisie vereis dat ’n mens druk en selfs kritiek met grasie moet kan hanteer. Ná die kroning het my dagprogram aansienlik verander.

Natuurlik moet ek op my beste lyk en optree. Soms moet ’n mens saam met ’n klomp vroue vir ’n foto poseer en kry jy nie eens ’n vinnige pouse om badkamer toe te hardloop of iets te ete te kry nie.

Van hierdie vroue reis ver om die funksies by te woon en my doelwit is dat hulle tevrede daar sal wegstap. Dit moet ’n goeie ervaring wees. Dis belangrik dat elke vrou sielskos moet kry wat sy saam met haar kan neem.

Onnodige kritiek sal daar altyd wees. Ek het onlangs as vrywilliger by ’n sopkombuis gaan uithelp. Die koördineer het gevra dat alle vrywilligers wit handskoene moes dra omdat ons met kos gewerk het. Aangesien dit winter was, kon siek mense dalk kieme na die kinders oordra wanneer die kos uitgedeel word.

Later het ’n paar mense my op sosiale media aangevat en kritiek gelewer. Van hulle het selfs dreigemente gestuur. Dit net omdat daar foto’s verskyn het waar ek met die wit handskoene aan tussen die kinders gesit en gesels het. Van die mense wat kritiek gelewer het, wou dit laat lyk asof die wit handskoene gedra is om te verhoed dat kieme van die kinders na my toe oorgedra word.

Onnodige kritiek maak seer, maar die insident het my opnuut laat besef dat ’n mens in sulke situasies na jou eie hart moet gaan kyk. As jou bedoelings opreg was en jy ’n skoon gewete het, is daar niks om oor sleg te voel nie. Uiteindelik is wat Hy dink die belangrikste. Dis wat tel.

My verhouding met die Skepper speel ’n belangrike rol in my lewe. ’n Mens kan nooit verwag om groot dinge te bereik sonder harde werk nie. Tog, as jy jou ure insit, kom Hy en sit wind in jou seile om die onmoontlike moontlik te maak. Om as finalis in ons land se grootste skoonheidskompetisie gekies te word, was groot. Om te wen was ’n wonderwerk!

Ná my kroning het daar eendag iets gebeur wat ’n groot effek gehad het. Ek was op pad na ’n funksie toe, nie ver van die huis af nie. By ’n verkeerslig het vier mans na my motor toe aangestap gekom. Twee van hulle was aan die bestuurder se kant en twee aan die passasierskant. Hulle het aan die motorruite geklop en ’n vuurwapen op my gerig. Ek was vasgevang in die verkeer, daar was nêrens om heen te vlug nie.

In daardie oomblik waar jy met ’n kloppende hart jou motor se deur oopmaak en uitklim en terselfdertyd voel hoe die kaper jou probeer terugdruk, besef jy hoe weerloos jy is. Gelukkig het die adrenalien en my ingeoefende kennis van hoe om sulke situasies te hanteer, oorgeneem.

In Women Empowered is ons geleer om ’n aanvaller op die keel te slaan en dan te vlug. Dis presies wat gebeur het. Wat skokkend was, is dat niemand my wou help nie. Na tevergeefse kloppe aan ’n klomp motorruite, was dit uiteindelik ’n meisie wat my opgelaai en na veiligheid geneem het.

Daardie dag het ons Vader my beskerm. Te midde van die chaos het ’n kalmte oor my neergedaal. Drie veiligheidswagte wat op pad huis toe was en alles gesien het, het uit hulle taxi gespring en op die kapers toegeslaan. Die aanvallers het gevlug en my motor is teruggevind.

My familie was nog altyd geweldig ondersteunend. Hulle is my grootste ondersteuners en sal alles vir my prysgee. As jong meisie was dit vir my ’n groot skok om uit te vind dat my halfsuster, Franje, sonder ’n serebellum in haar brein gebore is. Dit het ’n groot impak op ons almal se lewens gehad. Sonder ’n serebellum het ’n mens geen spierfunksie nie.

Franje kan dus nie eet, praat, regop sit, oogkontak maak of selfs jou hand vashou nie. Iemand in só ’n toestand het 24 uur ’n dag versorging nodig. Bedags is Franje se versorger by die huis, maar saans kyk my stiefma en pa na haar.

Na Franje se koms het skoolvakansies ook verander. Om vir ’n naweek of vakansie weg te gaan het meteens uiters goeie beplanning vereis. My ouers oorweeg dit glad nie om haar in ’n inrigting te sit nie. Sy gaan oral saam en kan nie te lank op ’n slag reis nie.

Om ’n gestremde in die huis te hê verander vir seker ’n mens se persepsie oor gestremde mense in die gemeenskap. Daar is meer empatie en respek, ook vir die mense wat hulle versorg. ’n Mens aanvaar ook nie meer jou gesondheid en dat jy normaal kan funksioneer as vanselfsprekend nie.

In Franje se geval kon dokters nog glad nie vasstel of sy weet wat om haar aangaan nie. Met tye het daar al trane meteens oor haar wange gestroom, dan weet ons nie hoekom nie. Ons vermoed sy is soms in pyn en dit laat ons magteloos voel. Dit is maar moeilik om haar so te sien, maar dit leer ’n mens ook om te waardeer wat jy het en die lewe met albei hande aan te gryp.

Franje motiveer my om elke dag voluit te leef en alles twee keer meer te geniet en te bereik – om haar onthalwe ook.

Waar dit altyd ’n groot skande was as jou ouers geskei is en jy selfs gestereotipeer is, is dit deesdae amper “normaal”. Dit is hartseer dat die wêreld só verander het.

Met ’n huwelik is daar geen waarborge nie. Tog, as twee mense hulleself verbind om ’n gelukkige huwelik te bou en konstant daaraan werk om mekaar eerste te stel, word dit makliker.

Ek was maar ’n kleuter toe my stiefma deel van my lewe geword het en ’n paar jaar later het my pa met haar getrou. Reg deur my lewe was daar dus vier ouers wat my rolmodelle was en wat my in alles ondersteun het.

Albei my ouers is nou gelukkig getroud. Omdat die voorbeelde aan beide kante getuig van verhoudings gevul met liefde en respek, het die egskeiding my nie negatief geraak nie. Dit is vir seker nie vir alle kinders uit gebroke huise dieselfde nie, so, dis eintlik ’n groot seën. Die jare in die koshuis het my onafhanklik gemaak omdat ’n mens leer om na jouself om te sien.

Dit nie was nie vir my vreemd om van ’n jong ouderdom af alleen na my pa toe te vlieg nie. Later het ek gemaklik self in Johannesburg rondgery met die modelwerk. As hierdie onafhanklikheid egter my geluk in die huwelik affekteer, sal ek daaraan moet werk.

Baie mense probeer om geluk in ’n verhouding te vind, maar dit werk nie so nie. Jy moet eers met jouself gelukkig wees voor jy kan verwag om geluk by iemand anders te kry. My droom en gebed is eerder om iemand te kry wat my visie vir die lewe deel. Dan kan ons saam die lewe met albei hande aangryp, saam lag en saam herinneringe bou. Elke dag is tog ’n geskenk waarvoor ’n mens baie dankbaar moet wees.

As mense my vra om myself te beskryf, sal dit heel moontlik so klink: “The girl that went for it.” Iemand wat uitdagings met albei hande aanpak en nie verskonings gebruik vir hoekom dit nie gedoen kan word nie.

Ek het stadigaan besef ware geluk lê nie in iets wat jy bereik nie, dit gaan oor of jy gelukkig met jouself is of nie. Daar gaan natuurlik altyd mense wees wat jou stereotipeer of slegsê of nie van jou hou nie, maar dit kom gewoonlik van mense wat eintlik self sleg voel oor hulleself.

My raad aan jong meisies is om eerder te probeer om daardie punt te bereik waar jy nie meer toelaat dat ander se opinies jou seermaak nie. Vind uit wie jy is, want jy is meer spesiaal as wat jy dink.

As ek terugkyk, weet ek ’n mens moenie so streng met jouself wees nie. Leef in die oomblik. Wees teenwoordig hier en nou. Die tyd gaan baie vinnig verby en as dit eers verlore is, is dit vir ewig verlore. Beplan dus vir die toekoms, maar leef ook in die hede en leer om te ontspan. Ek het al baie doelwitte bereik, maar dit het baie geverg – en soms het ek selfs onnodig baie pret verlore laat gaan omdat ek te gefokus was.

Vir die toekoms is daar heelwat drome en doelwitte, maar nou is my lewe gevul met geluk, tevredenheid en liefde. As ’n mens te gedrewe raak, trap jy maklik in die strik waar niks ooit vir jou genoeg is nie. Moenie die klein dinge miskyk nie. Verhoudings en vriendskappe bly ’n prioriteit. Kom ons hou aan bou aan die klein dinge. Uiteindelik is dit die belangrikste.

Luister na Demi-Leigh Nel-Pieters se geloofstorie op Tygerberg 104FM op 22 Januarie om 07:40 tydens die oggendprogram “Oggendrooi”.