Dít inspireer my! (Elma Postma)

1008
Dit inspireer my

EK IS OP MY GELUKKIGSTE …
as ek self iets plant en sien hoe dit nuwe blare kry – veral my vetplantjies wat ek uit ander tuine gekry het. Dit simboliseer nuwe lewe is, al is dit die “droogste” tyd.

OM TE ONTSPAN …
lees ek ’n lekker storieboek of vat ’n middagslapie. En wanneer ek gelukkig  genoeg is om in die natuur te wees, hou ek  daarvan om ’n lang ent stap.

MY GROOTSTE BEDERF …
is om wegneem-sushi te bestel en dit te geniet saam met ’n bottel vonkelwyn  en ’n lekker geselsie met my man of ’n  vriendin. Sulke tye voed my siel.

EK LAG HARDOP …
oor heeltemal te min dinge! Wanneer dit wel gebeur – en ’n mens so lag dat jy wil huil – is dit asof my hele gemoed herlaai word en  ek van negatiewe energie ontslae raak.

EK BEWONDER MENSE WAT …
kan kophou met ’n werk en kinders, en dan boonop nog hulle uitstekende  persoonlikheid behou. Vrou wees verg baie, maar ons is sterk genoeg.

VIR MY BETEKEN VAKANSIE …
om te pak, ten minste ’n uur ver te ry en dan voor ’n vuurtjie iewers in die natuur te gaan sit. Daar moet verkieslik geen opvangs wees nie, min mense en baie stilte.

WAARSONDER EK NIE KAN LEEF NIE …
is dankbaarheid. Ek herinner myself gereeld daaraan dat ek meer as genoeg het, en dat daar nog altyd  goed vir my gesorg word.

EK VOEL GELIEFD WANNEER …
ek uit die bloute ’n bos blomme kry, of sommer ’n boodskap van iemand wat sê  hulle dink aan my. Ek wil graag belangrik wees vir die mense vir wie ek ook lief is.