Dít inspireer my! (Hanna Grobler)

738

MENSE WAT UITSTYG…
ten spyte van hulle omstandighede en waar hulle vandaan kom. Dis vir my ’n bewys dat jy wel ’n keuse het om ’n suksesvolle en ’n beter persoon te wees.

DIE NATUUR VERSEKER MY…
dat God in beheer is. Selfs die eenvoudigste dingetjies is geniaal. As Hy soveel vir voëltjies en blomme omgee, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir my nie sorg nie?

MUSIEK IS VIR MY AMPER…
soos ’n tweede asem. Veral klassieke musiek en reggae het ’n groot invloed op my emosies. As ek hartseer is, troos dit. As ek bly is, maak dit my blyer.

LEKKER KOS MAAK…
die oervrou in my wakker. Dis vir my verskriklik lekker om te bak en te kook as vriende kom kuier. Ek gee glad nie om om in die kombuis te wees nie.

MY OUERS HET MY TOEGELAAT…
om die heel beste mens te wees wat ek kan wees. Hulle het nie omgegee in watter rigting ek gegaan het nie en het my ondersteun in al my besluite.

MY KINDERS LEER MY…
om te waag, nie bang te wees nie en vreugde in eenvoudige goed te vind. My dogtertjie en seuntjie inspireer my om supereerlik te wees en die lewe te geniet.

KAHLIL GIBRAN SE STORIES…
en boeke is van my kosbaarste besittings. Ek kan dit oor en oor lees – die diepste wysheid van sy woorde, al is dit hoe lank gelede geskryf.

VRIENDE ONDERSTEUN MY…
in elke nuwe uitdaging wat ek aanpak. Ek verkies om persoonlik met mense te gesels. Al my vriende is kwaliteitmense wat my toelaat om volkome ek te wees.