Dít inspireer my! (Leandie du Randt)

1332

EK IS OP MY GELUKKIGSTE…

as ek goeie wyn drink saam met my familie en vriende. Deesdae is dit my eie rooiwyn, Du Randt Bosch, met die naam Grateful 2017. Wees dankbaar en vier die lewe!

AS JY MY WIL VERRAS…

moet jy vir my ’n mooi boodskap stuur oor wat ek vir jou beteken. My liefdestaal is opbouende woorde. Mense kritiseer maklik, daarom is dit vir my lekker om positiewe terugvoer te kry.

WAT MY INSPIREER, IS…

om boeke te lees of na podsendings te luister van mense wat al baie lesse geleer het. Mense wat uitgevind het hoe om die lewe vir hulleself makliker te maak.

EK HET ONLANGS HARDOP GELAG TOE…

ek om ’n mooi etenstafel gesit het saam met goeie vriende. Daar is speletjies gespeel, grappe gemaak en gelag tot my wange begin pyn het.

EK IS MAL OOR…

oukei, eintlik verslaaf aan Paul’s Homemade Icecream se birthday cake-geur. Roomys maak my gelukkig en laat my weer die klein dogtertjie hier binne-in my onthou.

EK RAAK KINDERLIK OPGEWONDE AS…

my agent bel, ek asem ophou en dan die nuus kry: “Baie geluk! Die rol is joune.” Die jongste oproep was toe ek gehoor het van my rol in ’n internasionale produksie. Lekker!

MY IDEALE DAG IS…

wanneer ek op die stoep van ’n vakansiehuis kan lê, vir die see kan kyk, met ’n boek in my hand. Ek hou graag vakansie waar dit stil is, en is lief vir die Kaap.

EK DROOM OOR…

my twee besighede (Skoonma en To Be Gift Boxes). My wens is dat beide sal aanhou groei, nog meer werk sal skep en goed geld sal maak.