Dít inspireer my! (Melinda Bam)

854
Melinda Bam

EK IS OP MY GELUKKIGSTE …
saam met my man en familie, iewers in die natuur  waar ons net kan stil word en afskakel. Min mense verstaan die verhouding tussen my, my ma en sussie.  Ons is saam deur diep waters en anderkant uit.

MY INSPIRASIE KOM UIT …
die wete dat daar ’n onuitputbare bron van moontlikhede is oor hoe dinge kán wees, selfs al is jy nou in ’n slegte situasie. Dit kán anders, beter, mooier en gelukkiger wees. Glo dit en maak keuses daarvolgens.

OOR MYSELF HET EK AANVAAR …
dat ek nou maar eenmaal altyd meer met die tyd tot my beskikking wil doen. Hier diep binne glo ek dat daar eintlik 25 uur in ’n dag is! Daarom is goeie beplanning altyd ’n pluspunt.

WAARNA EK UITSIEN …
is dat ons ná vyf jaar se getroude lewe, baie naby daaraan is om te begin met ’n gesin. Daar is tannies wat al vir jare vra: “Wanneer gaan daar klein Berghies wees?” Ek sien uit na hierdie volgende fase van die lewe.

WAT MY LAAT LAG IS …
my man se seuntjie-wees. Hy sal huis toe om, skoene uitskop en ’n paar gholfballe op die gras slaan. Of ons sal wegkruipertjie speel en kyk wie doen dit die beste. Ek het laas gewen!

WANNEER EK ’N AF–DAG BELEEF …
gaan sit ek pens-en-pootjies op die bank en kruip onder Adriaan se arm in. Hy sal my vashou en uitvra oor wat pla, ons sal gesels en daaroor bid … en dan voel alles weer beter.

EK SAL NOOIT OPHOU OM …
Positief en opgewonde oor die lewe te wees nie.  Daar is soveel om voor dankbaar te wees, en ek probeer altyd daarop fokus as dinge iewers skeefloop. Ek glo daar is altyd iets goeds wat om die draai wag.

MY GROOTSTE DROOM IS …
om eendag voor die Here te kan staan en te hoor: “Ek is trots op jou, goeie en getroue kind. Jy het jou werk op aarde goed gedoen.” Alles wat ek doen, word aan hierdie maatstaf gemeet.