Dit is die maand Augustus, ons eie, eie maand (met apologie aan Oktober en C. Louis Leipoldt!)

Augustus is vrouemaand, sê hulle. Ek weet nie presies wanneer die hele maand vrouemaand geword het nie – ek weet wel dat 9 Augustus doer in die 1990’s vrouedag geword het, ter herdenking aan die “women’s march” na die Uniegebou op dié dag in 1956.

Op daardie dag het 20 000 vrouens gestap om 14 000 petisies aan Eerste Minister J.G. Strijdom te oorhandig. Hy was nie daar om dit te ontvang nie – sy Sekretaris het dit namens hom gedoen. (Ek dink hy was bietjie bang vir die klomp vrouens – hy was glo nogal slim.) Daardie dag het die vrouens vir 30 minute in doodse stilte gestaan – dit alleen is al ‘n enorme prestasie en ek wonder of die hooggeplaaste Strijdom nie agterna spyt was dat hy dié 30 minute gemis het nie! Daarna het hulle begin sing: een van die liedere, spesiaal vir daardie geleentheid geskryf, was Wathint’ abazi – van die woorde in dié lied word vandag wêreldwyd aangehaal as ons vrouens ons opruk: “When you strike a woman, you strike a rock!” O ja, dis waar.

Eintlik verstaan ek hoekom ons ‘n hele maand nodig het om die sterk vrouens uit ons geskiedenis te onthou. Want daar is baie – heel eerste sal ons ‘n dag moes opsysit vir Krotoa, of Eva van Meerhof wat nie net die eerste Khoi-vrou is wie se naam in die Hollanders se rekords oor die Kaapkolonie opgeteken is nie, maar blykbaar ook die stam-moeder van baie van ons. Haar storie is aangrypend en hartverskeurend.

Dan sal ons dae moet opsysit vir honderde ander vrouens: die eerstes wat uit Europa aangekom het – dink net hoe vreesaanjaend dit moes wees om na ‘n vreemde vasteland te kom, sonder ‘n retoerkaartjie, selfoon en Skype! Die Voortrekkervrouens wat gedweë hulle goedjies op ossewaens moes pak en die berge moes oor … uit die vet in die vuur! Hoekom is so min van hulle se name bekend? (En … hoe het hulle besluit wat om te pak? So ‘n ossewa is klein, jong!)

Die vrouens wat die oorloë (wat sonder uitsondering deur mans begin is) deurleef het – en nie almal oorleef het nie. Ja, ek weet daar is ‘n Vrouemonument, en naamplaatjies by ou konsentrasiekampe, ‘n beeld by die Voortrekkemonument, enetjie in die Drakensberge … maar hulle is meestal naamloos!

Eers nou, meer onlangs – nou begin hulle name kry, danksy ‘n liggie wat iewers aangesteek is dat vrouens name en stemme moet kry. Dankie tog dat daar sterk vrouens in ons land ook is, en nie net Angela Merkels en Theresa Mays nie. Ek stem beslis nie saam met al die sterk vrouens in Suid-Afrika se doen en late nie. Glad nie. Maar ek kan my hoed, my teekoppie, my vuis, hoog lig vir hulle moed om op te staan en te skréé, al skree hulle soms goeters wat teen my grein gaan, bitter omstrede is, roekeloos, of sommer plein simpel.

In my eie klein kringetjie is ek omring deur sterk vrouens: my ses sussies het elkeen oor ‘n paar hoë hekkies gespring. My twee dogters laat my sprakeloos oor hulle onverskrokkenheid op verskillende gebiede. My vriendinne en kollegas is verstommend. Van my oud-leerlinge moes, en het, enorme struikelblokke oorkom, van my huidige studente slaan my asem weg met hulle weiering om voor omstandighede te swig. Die vrou wat my help om my huishouding te laat vlot, maak vrou-alleen ‘n bitter moeilike tienerdogter groot …

Ja-nee, ons mag maar ‘n maand aan ons klomp wy. Ons is asemrowend, verstommend, ontsagwekkend, buitengewoon, sonderling, besonders. En sommer vrek oulik.