Dit is noodsaaklik vir julle huwelik …

0
7
tips_vir_die_liefde.jpg

“Om nie te vergewe nie is soos om gif te drink en te hoop die ander persoon gaan dood daarvan.”

Hierdie woorde illustreer ’n belangrike beginsel van vergifnis. As jy vergewe, maak dit nie saak hoe die ander party die situasie sien of beleef nie. Jy vergewe ter wille van jouself sodat jý kan aangaan sonder haat. Jy, en julle verhouding, word vry.

Vergifnis gaan nie oor ’n gevoel nie; dan sal jy nooit kan vergewe nie. Jy moet ’n doelgerigte besluit neem om die behoefte en die “reg” om iemand te straf, te laat vaar. In plaas van om geregtigheid te wil hê, fokus jy daarop om die goeie – dit wat altyd in julle verhouding was – weer te vind. Eintlik is vergifnis die enigste manier om pyn op te los. Dit gee ook die een wat verkeerd was, toestemming om sonder skuldgevoelens met sy lewe aan te gaan.

Nie dat dit maklik is nie. Wanneer jy vergewe, maak jy jouself weerloos met die hoop dat julle verhouding herstel kan word en julle selfs nader aan mekaar kan beweeg. Jy moet by jou eie pyn verbykyk en weer die mens sien raaksien vir wie jy lief is, wie se drome jy as jou eie koester en wie se pyn nou jou pyn geword het. Vergifnis is een van die grootste geskenke wat jy aan jou maat, maar ook julle huwelik, kan gee.