Dít keer jou om voluit te leef!

0
77
leef_voluit.jpg

Jy wil so graag klaarmaak wat jy begin, ophou om perfek te probeer wees, en vir jouself tyd maak. Maar hóé?

Gustav Gous, internasionale motiveringspreker en ervare lewensafrigter, help jou om ontslae te raak van alles wat in die pad staan van ’n beter jy!

Ek is selde tevrede met my pogings. Die perfeksionis in my praat hard. Hoe maak ek haar stil?

Jy moet die perfeksionis in jou eers leer ken, verstaan en weet waar sy vandaan kom voor jy haar kan stilmaak. In ’n onvolmaakte en deurmekaar wêreld probeer jy eintlik dinge om jou beheer. Perfeksionisme se diepste wortel is onsekerheid. In jou poging om alles perfek te laat verloop, is jy gedurig in stryd met die wêreld om jou wat nie in jou “ideale prentjie” wil pas nie.

Probeer om in geloof te leef. Met die Here se hulp kan jy enigiets hanteer. Wees ook meer soos fotografiepapier. Laat die wêreld op jou “ontwikkel” sonder om dit heeltyd in jou kassies te probeer indeel. Sien dinge soos dit is, in plaas van om dit onmiddellik te veroordeel. Maar moenie die perfeksionis se stem heeltemal stilmaak nie, want daar is niks fout met goeie kwaliteitbeheer in ’n organisasie of gesin nie. Perfeksionisme vanuit die regte motivering kan ’n goeie bydrae lewer. Oppas net om nie ’n konstante pyn in die nek te wees wat almal veroordeel wat nie in jou vormpies inpas nie.

Ek voel skuldig om dinge te geniet. Hoekom is dit so moeilik om pret te hê?

As jy heeltyd skuldig voel oor alles wat lekker is, het jy moontlik ’n oordrewe gevoel van verantwoordelikheid. M. Scott Peck is reg as hy in sy boek The Road Less Traveled sê dat alle menslike probleme gewortel is in ’n verantwoordelikheidsversteuring: Jy aanvaar óf te min óf te veel verantwoordelikheid. Dit gebeur baiekeer dat die oudste kind in ’n gesin hiperverantwoordelik is en daarom skuldig voel oor baie dinge. Eintlik behoort dit die jongstes te wees wat moet skuldig voel – juis omdat hulle soms onverantwoordelik is! Die sleutel is balans tussen te veel en te min aanspreeklikheid.

Nog iets wat in jou pad kan staan om pret te hê is ’n verdraaide idee van teologie en ’n misplaaste heiligheid. Alles wat lekker is, is nie sonde nie. Jy hoef regtig nie skuldig te voel wanneer jy iets geniet nie. Christene mag kos, roomkoek, seks, musiek en vakansies geniet. Die enigste voorwaarde is dat dit in gesonde volumes en binne die regte konteks geniet moet word.

Kliek hier om te bespreek vir die Jy, Net Beter werkswinkel op Saterdag 28 Februarie in Pretoria.

[pagebreak]

Dit voel of ek altyd na ander se behoeftes omsien – ek weet nie eers meer wat ek wil hê nie.

Daar is baie vroue wat hulle so afsloof dat hulle hulleself in die proses verloor. Hulle verstaan nie die verskil tussen ’n vloerlap wees en gesonde selfhandhawing nie. ’n Goeie Christen is nie ’n vloerlap of ’n deurmatjie vir almal om op te trap nie. Jy is ’n mens in eie reg wat moet werk vir ’n wen-wen-situasie, waar jy ook wen. Dit is ’n ongesonde situasie wanneer jy heeltyd aan die kortste ent trek en die ander partye laat voorrang kry.

Die draaipunt sal kom as jy op ’n sielkundige vlak weer jou eie waarde besef. En jou selfbeeld herstel as iemand wat die reg het om ook voluit te leef. Op ’n geestelike vlak moet jy besef: Ek moet die ekstra myl loop, maar ek is ook ’n verteenwoordiger en ambassadeur van God op aarde wat met respek hanteer moet word.

Elke dag is lank en uitdagend, en ek het skaars energie om soggens op te staan.

Almal kry ewe veel tyd per dag – geen diskriminasie nie, almal kry 24 uur. Dit gaan oor beplanning en energiebestuur. Goeie beplanning sal keer dat jy rondskarrel en energie mors.

Daar is drie tipes energie wat jy mooi moet bestuur: fisiese, psigiese en geestelike energie. Fisiese energie verg gesonde slaap- en eetpatrone. Sonder genoeg slaap sal enigiemand ’n teiken word vir depressie. Sorg ook dat jy nie te min of te veel eet nie, anders kwyn jy weg met te min energie of dra te veel gestoorde energie in die vorm van vet saam. Albei maak jou moeg.

Vir psigiese energie, oftewel sielkundige motivering, kan jy elke dag na positiewe insette luister, goeie goed lees en selfs na inspirerende video’s kyk. Laai jou gedagtes met positiewe energie. Kies jou radiostasies reg en kry vir jou ’n biblioteek van motivering-CD’s waarna jy daagliks luister.

Jy het ook baie geestelike energie tot jou beskikking. Lees weer Efesiërs 1:19-20 en 3:20. Leef dus ingeprop in die kragveld van ’n verhouding met die Here en sy Gees. Ons weet mos: Dié wat op die Here wag, kry nuwe krag.

[pagebreak]

Daar is kort-kort iets wat my aandag aftrek van wat ek moet doen. Hoe kan ek leer om te fokus?

Ek glo daar is twee dinge waaroor jy beheer het: die rigting waarin jy jou kop kan draai en dit waarop jy jou gedagtes fokus. Fokus is een van jou sterkste vermoëns. Gedagtes is iets wat vasgevat en gerig kan word. Neem dus elke gedagte gevange en rig dit waarop jy dit moet rig in daardie oomblik.

Maar wat doen jy as jou kop vol dinge is waaraan jy gelyktydig moet dink of aandag gee? ’n Eenvoudige tegniek is om ’n stuk papier of ’n dagboek saam met jou te dra waarin jy die dinge wat in jou gedagtes opkom, gou neerskryf. Dit is dan van jou gemoed af. Parkeer dit daar tot jy tyd het om daaraan aandag te gee. Die slegste potlood is beter as die beste geheue. Kry professionele hulp vir ernstige aandagafleibaarheid. Organiseer ook jou werksomgewing so dat jy soms ’n toe deur, ’n stil telefoon of ’n privaat plek het waar jy sonder steurnisse kan werk. En handel altyd die dringendste en belangrikste goed eerste af.

My planne is altyd blink, maar ek sukkel om gemotiveerd te bly. Dit hou net ’n kort rukkie. Hoe voer ek dit deur?

Die probleem met die meeste mense is dat hulle op eksterne motivering, soos belonings (geld en medaljes) en vrees (mislukking en verwerping) funksioneer in plaas van op ’n diep, innerlike motivering. Wees eerlik met jouself. Hoekom doen jy wat jy doen? As die antwoord op jou “hoekom” belangrik genoeg is, sal jy altyd ’n manier kry om dit wat jy wil doen, reg te kry.

Doen wat jy doen vir ’n saak groter as jyself en nie net vir persoonlike voordeel nie. Sê nou maar jy doen dit bloot vir geld, dan gaan jou motivering verdwyn sodra jy betaal word. As die donkie die wortel gekry het, is die motivering weg. As jy iets doen omdat jy bang is, sal dieselfde gebeur. Sodra die bron van vrees weg is, is die motivering ook weg. Maar as jy werk asof jy vir die Here werk, of vir ’n groter saak, bly jy gemotiveerd ten spyte van teëspoed en teenstand. Die interne motivering van liefde hou vir altyd! Sorg dat jou dryfkrag van die regte bron af kom.

My hart en verstand werk teen mekaar. Ek wil graag leer om my wispelturige emosies te beheer.

Gevoelens en denke staan nie teenoor mekaar nie, maar moet saamstaan. Ons lewens word geleef in die wisselwerking van voel, dink en doen. In my spreekkamer help ek mense om hulle gevoelens reg te hanteer, helder te dink en die regte dinge te doen. Die meeste probleme in jou lewe ontstaan wanneer jy reguit van voel na doen toe gaan. Dit gebeur wanneer jy nie jou gevoelens het nie, maar jou gevoelens vir jou het!

“Dink voor jy doen” is die belangrikste sinnetjie in opvoeding. Daar is twee dinge wat jy nie met ’n gevoel moet doen nie. Eerstens moet jy dit nie vrye teuels gee nie en tweedens moet jy dit nie onderdruk nie, want dan peul dit onverwags uit. Gevoelens moet verwoord word – sodoende kry jy beheer daaroor. Jy moet dit uitpraat in gebed of met ’n berader of ’n vriendin. Of skryf dit uit in briewe of gedigte. Sodoende kry jy ’n greep op jou gevoelens en kan jy die energie daarvan gebruik om vir jou te werk.gustav_gous.jpg

Kontak Gustav Gous by gustav@gustavgous.co.za. Kyk ook: www.get-a-lifein40days.com, www.gustavgous.co.za. Volg hom op sosiale media: Facebook: Dr Gustav Gous Twitter @GustavGous of lees sy blogs: gustavgous.blogspot