Dít moet jy van jou skildklier weet

0
243
lyf_2.jpg

Dis tyd om ordentlik kennis te maak met jou skildklier en hoe dit jou gewig en liggaamstemperatuur beïnvloed.

Jou skildklier kan vergelyk word met ’n verkeersbeampte wat die verkeer reguleer. Dit is daarvoor verantwoordelik om hormone na byna al die organe in jou liggaam te stuur. Wanneer alles klopdisselboom verloop, voel jy fantasties. Soos die verkeer egter ophoop wanneer die verkeersbeampte sy hande vol het, net so kan die skildklier ook onderaktief raak en jou metabolisme stadiger maak.

Die verskil tussen ’n ooraktiewe en onderaktiewe skildklier

Hipertireose ontstaan wanneer die skildklier ooraktief raak en te veel van sy hormone produseer. Dit affekteer vroue tien keer meer as mans. Persone met ’n ooraktiewe skildklier se organe werk harder as normaal, wat simptome soos hartkloppings en warm gloede veroorsaak. Iemand wat hieraan ly, is ook dikwels angstig en senuweeagtig, het bewerige hande en sukkel om te slaap.

Hipotireose, aan die ander kant, ontstaan wanneer te min skildklierhormone geproduseer word. Jou liggaam het ’n sekere aantal skildklierhormone nodig om energie op te wek. Daarom is jou energie minder as jy min hormone produseer, wat jou moeg en swak laat voel. Jy kan ook hardlywig wees en ’n droë vel hê. ’n Onderaktiewe skildklier kom meer algemeen by vroue voor en raak 15 uit 1 000 vroue. Dit kan ook geneties van aard wees.

Die verband tussen jou skildklier en jou gewig

Soms het gewigstoename niks te doen met jou ouderdom of eetgewoontes nie. Om sonder enige ooglopende rede gewig aan te sit is ’n klassieke teken van ’n onderaktiewe skildklier. Dit gebeur wanneer jou liggaam – insluitend jou metabolisme – stadiger raak. As jy meer as drie kilogram in ʼn maand aansit al eet en oefen jy min of meer dieselfde, of as jy regtig sukkel om gewig te verloor, moet jy liefs ’n dokter gaan sien.

’n Ooraktiewe skildklier daarenteen laat jou skielik gewig verloor. Gaan klop by jou dokter aan as jy twee kilogram of meer in ’n maand verloor, selfs al eet jy soos altyd.

Wanneer weet jy of jy getoets moet word?

’n Skildklierprobleem is nie altyd voor die hand liggend nie; trouens, byna twee derdes van persone wie se skildklier nie goed funksioneer nie, weet nie daarvan nie. Die simptome kan baie vaag wees en maklik aan ander faktore toegeskryf word, soos stres en die menopouse. Dokters beveel aan dat jy jou skildklierfunksie minstens een keer voor die ouderdom van 40 laat toets, en daarna elke jaar. In dié toets

word die vlak van twee hormone, TSH en T4, nagegaan. As jy simptome van ’n ooraktiewe skildklier het, laat jou T3-skildklierhormoon toets. Hoe meer toetse gedoen word, hoe beter is jou kans om die regte diagnose te kry.

*Bronne: www.webmd.com; www.nhs.uk