Dít was God se plan met my doofheid

0
133
vicki_fourie.jpg

Ek is 24 jaar oud en binne die volgende paar minute gaan ek vir die eerste keer my eie stem hoor…

In Augustus was dit presies ’n jaar wat voormalige Mej. Dowe Suid-Afrika kan hoor. Haar eie stem, haar ma se stem, selfs haar kat se miaau.

My brein moes van vooraf leer van klanke

Ek hou van skryf en ek gaan seker nog baie oor hierdie dag skryf, maar eintlik het ek nie woorde op papier nodig om dit te onthou nie. Elke detail van daardie koue, reënerige Maandagoggend is in my geheue ingeëts. Tot op my sterfbed sal ek my kleinkinders daarvan kan vertel.

Daar was ’n tyd wat ek kon hoor. Eintlik net vir die eerste ses maande van my lewe voor ek as baba koors gekry en gehoorverlies opgedoen het. Maar wat kan ’n mens nou ook onthou van toe jy ses maande was? Miskien is die klanke wat ek dink ek kan hoor ook net my verbeelding. Dit is tog immers wat gehoor is: golwe wat na jou brein gestuur word en wat dan deur jou brein as sekere klanke geïnterpreteer word.

Om ’n kogleêre inplanting te kry is nie so ’n maklike besluit nie, want daar is altyd ’n kans dat jy die bietjie gehoor wat jy wel het, gaan verloor. Eintlik is hierdie die eerste groot besluit wat ek alleen as ’n volwassene gemaak het. Wat as dit nie werk nie? Dan is die bubble waarin ek al so lank leef dalk permanent daar tot die dag van my dood.

Hierdie paar minute voel soos ure. Ons kan nie die magneet wat agter my oor moet kom aankry nie. My hare is te dik. In die paar sekondes wat die oudioloog na agter is, kan ek my hart in my ore hoor klop. Of wel, soos ek dink ’n hartklop in jou ore behoort te klink. My ouers is hier langs my, presies op die plek waar hulle nog altyd my hele lewe lank was.

“Kan jy my nou hoor?” liplees ek die oudioloog se woorde na sy ’n paar verstellings gemaak het. “Nee,” het ek beduie.
“En nou?” na nog ’n paar verstellings.

Ek hoor niks! Net mooi niks! Die stilte is oorverdowend.

Die oudioloog praat. My ma praat en hoe meer hulle praat, hoe dronker voel ek in my kop – soos wanneer jy te vinnig opgestaan het. Dis tóé dat ek kliek: die vibrasies wat ek voel is eintlik die klanke wat ek hoor. My brein registreer nog nie die geluide as klanke nie.

Van die begin af het ek geweet die inplanting is nie soos ’n magic potion wat jou skielik laat hoor nie. Tóg het ek gedink ek sal darem iets kan hoor. Op pad terug kar toe moes ek aan my pa vasklou om nie te val nie. Ek was baie teleurgesteld. My ouers ook. Ek het so uitgesien na ’n wêreld wat vir my gaan oopgaan en hier kan ek nog nie eers my eie stem hoor nie!

In die volgende twee maande het die bubble van stilte om my gelukkig minder en minder geword. My brein het begin om die klanke te interpreteer. En wat ’n fantastiese wêreld is dit nie? Ek het al die jare soveel gemis!

Ek het bewus geword van wat buite en om my aangaan. Geluide wat ander mense al vergeet het hulle hoor, was vir my splinternuut. Krieke, plastieksakke, mense wat slurp en die getik van horlosies maak my gek.

Vreemd genoeg het my kat, Ally, op die dag van my inplanting vir die eerste keer begin miaau. Voorheen was hy tjoepstil. En nou kan hy glad nie ophou nie. Ek dink hy probeer opmaak vir al die jare wat hy saam met sy nonna stil was!

En dan is daar die stemme van die mense na aan my. Om een of ander rede het ek gesukkel om my pa se stem te hoor, maar dit gaan nou al beter. Daar is my ma s’n, my boetie s’n, my sussie, my tannie, my ouma – elkeen uniek en anders soos die mense wat hulle is.

[pagebreak]

God kan genees, en soms gebruik Hy dokters daarvoor

Die koors wat ek as baba gekry het, het die haartjies binne my koglea beskadig. Menslik gesproke is dit te klein om ooit reggemaak te kan word. Tog het ek nog nooit getwyfel dat God my kan genees nie.

Ook my ouers, wat albei pastore is, glo absoluut in die wonderwerkende krag van God. My pa was die een wat my altyd as kind na predikante en profete gevat het om vir my te bid. Ek dink hy wou dit die heel graagste hê. Ek het maar net altyd saamgegaan en gehoop hulle spoeg my nie raak nie… haha!

Ek glo God het deur mense wat oor my pad gekom het, met my oor die inplanting gepraat. Ek het ’n paar jaar gelede by ’n funksie in Bellville opgetree waar hulle geld ingesamel het vir ’n baba wat ’n inplanting sou kry. Daar het ek vir Deidré Stroebel, my heel eerste oudioloog, raakgeloop. Na afloop van die funksie het sy na my toe gekom en gesê dat ek “die perfekte kandidaat” vir so ’n inplanting is. Eers was ek kwaad daaroor, want ek doen mos alles wat ek kan met die bietjie gehoor wat ek het!

Toe ontmoet ek ook vir Rentia Meyer. ’n Pragtige meisie van Laerskool Stellenbosch wat na haar kogleêre inplanting oor die foon kan praat, aan redenaarskompetisies deelneem en glad nie liplees nie. Toe my pad met hare kruis, het ek vir die eerste keer gesnap dat God dit vir my ook wil gee. Hy wil vir my die pad makliker maak sodat ek nie so swaar hoef te kry nie. Ek is toe deur dokters en oudioloë by die Tygerberg Hospitaal en Universiteit van Stellenbosch se kogleêre inplantingsprogram geëvalueer en die operasie is uitgevoer.

Ek het nie opgehou om in wonderwerke te glo nie, maar die kennis waarmee God dokters toerus, is tog ook soos ’n wonderwerk. Ek glo steeds Hy kan my volkome genees. Die manier waarop Hy dit doen is net ’n bietjie anders as wat ek gedink het dit gaan wees. Die inplanting is vir my net ’n stappie nader aan my genesing. Intussen gaan ek aan met my lewe. ’n Mens werk met wat jy het en vertrou God bo alles. Ek kan mos nie nou alles net so los en eers wag vir my genesing nie. God se tyd is die regte tyd.

As skrywer en voormalige Mej. Dowe Suid-Afrika glo ek ek kan baie doen om ander te help om ook inplantings te kry. Miskien was dit van die begin af een van God se planne vir my. ’n Wyse waarop my wêreld as dowe eintlik groter en nie kleiner geword het nie.

[pagebreak]

Musiek voer my weg na ’n ander wêreld

Al kon ek dit nie ervaar soos ek nou doen nie, was ek selfs voor die inplanting mal oor musiek. Ek sou oorfone opsit, die volume op sy hardste draai, die lirieke van die liedjie voor my hou en dit dan so luister. Dis ook hoe ek gedans het.

My ma is baie musikaal en kan verskillende instrumente bespeel. Sy het onlangs begin om vir my kitaarlesse te gee. Ek dink ek wil miskien probeer om liedjies te skryf. My pa en ouma is baie goeie digters. Wie weet, net dalk het ek daardie talent. Net soos Dawid.

Wanneer ’n mens begin hoor, verander jou fokus. Dis vir my byvoorbeeld vreemd om nie meer na iemand se mond te staar nie. Dit voel of ek nie werklik mense se hele gesig kan sien nie. Ook met praise and worship het my fokus verander. Voorheen kon ek nooit met my oë toe bid of sing nie, want ek moes liplees. Nou kan ek vir die eerste keer konsentreer op my eie geloofsbelewenis.

As daar nie baie ander geluide om jou is nie, is dit maklik om God se stem te hoor. Gelukkig verander ou gewoontes nie maklik nie. Ek ervaar Hom steeds, maar ook op ander maniere. Meer veelsydig, wyer, meer kreatief. Veral deur natuurgeluide en musiek.

Ek was nooit kwaad vir God oor my gebrek nie. Tog het ek heeltyd geweet daar is ’n groter plan vir my, want anders sou ek nie by God uitgekom of eers geweet het daar is iets soos ’n Mej. Dowe Suid-Afrika-kompetisie nie. As ek dink aan hoe ryk my lewe tot dusver was, sal ek dit vir niks anders verruil nie. Ek is ongelooflik dankbaar vir wat ek het, wie ek is en ek is opgewonde oor my toekoms.

*Hierdie is Vicki se ervaring van haar inplanting. Om meer daaroor uit te vind, besoek www.sagic.org.za.

Kyk ook hier: Vicki speel regtig kitaar