Dit was my trane werd, sê Getroud met Rugby se Bibi

2235
Stephanie Baartman
Stephanie Baartman

Baie jare se mishandeling … uiteindelik tot op die uiterste gedryf. Ons ken haar as Bibi in Getroud met Rugby, maar Stephanie Baartman ken diep seer.

Op ’n dag is daar geen omdraaikans meer nie. ’n Nuwe, onseker pad lê voor. Is sy sterk genoeg daarvoor?

Dit was die vernederendste, grootste oomblik van skaamte.

Oë rooi gehuil. Gesig geswel. Lip gekneus.

’n Ma met twee klein kindertjies wat voor die polisiestasie staan en wag. Vir beter dae.

Ons klere in swart sakke en lakens toegevou. Nie ’n sent op my naam nie. Mae wat grom van die honger… en die polisiemanne wat verbyloop en lag. Hulle het dié prentjie al baie gesien.

Kon ek hulle kwalik neem? As ’n mens nog nie ’n dag in iemand anders se skoene geloop het nie, is dit maklik om te oordeel. Om te grinnik en te dink: “Wat het dié vrou gedoen dat haar man haar moes slaan en soos ’n sleg hond wegjaag?”

Die kinders het bly neul. Ek het deur my beursie gekrap en sowaar ’n vyfrandstuk ontdek. Koponderstebo oor die pad winkel toe gestap en ’n pakkie skyfies gekoop. Die vernedering oop en bloot vir die hele wêreld om te sien.

Gisteraand was ’n laaang nag. Vir die eerste keer was die besef dat dinge nie langer so kan aangaan nie.

Dít na jare se ja en amen en weer probeer.

By hom mag daar nie teruggepraat word nie, maar ek wou my sê, sê. Al wéér.

Hy het nie op hom laat wag nie. Eers die geskree en gevloek, en toe val die houe.

“Trap, vroumens! Jy weet mos nie wanneer om stil te bly nie. Gee pad uit die huis uit, vanaand nog!” Hy het die klere uit die kas gaan gryp en soos confetti deur die lug gegooi.

Dit val op die gras. Op die pad. Dit lê op die muur. Waar almal die skande kan sien.

Die kinders begin iewers in die agtergrond huil.

Nou is dit vinnig dink. Gryp die motorsleutels, steek die selfoon weg en vlug koes-koes by die voordeur uit. Klim in die kar, kruip onder tussen die sitplekke in en sluit die deure.

“Here, asseblief… as U my hierdeur help vannag, is dit ’n belofte. Ek sal U vir ewig dien. En hierdie man los. Finaal.”

Dis ’n gebed wat al soveel keer vantevore gebid is, maar hierdie keer is die laaste.

Bid, huil en bel. Oor en oor. Die hele nag deur.

Die polisie het eers vroeg die volgende oggend opgedaag.

“Waarheen moet ons jou en kinders vat?” vra hulle.

“Weet nie…” Te skaam om my ma-hulle doer in die Kaap te bel. Wonderlike ouers. Kerkmense. Hoe kan ek hulle met hierdie skande opsaal?

Here… asseblief… waarheen?

Ek blaai-blaai weer van voor af deur die adresboekie en sien die naam raak van ’n ou universiteitsvriendin.

’n Please call me word gestuur. Lugtyd is lankal op.

Dankie tog. Uitkoms! Sy is bereid om ons te kom haal. Ouers te bel. ’n Tydelike heenkome te bied.

Hoe beland mens in so ’n situasie? Hoekom in ’n huwelik bly waar jy fisies en emosioneel mishandel word? Vandag vra ek dieselfde vrae. Maar daar het ook intussen antwoorde en nuwe insigte gekom.

Dit vat lank voor ’n vrou besef sy word mishandel.

Hy was nie ’n drinker nie, maar sy humeur was kort en giftig. Die tekens was daar. Die verstikkende jaloesie, die beledigings en die lelike manier waarop hy sy ma behandel het.

Dinge het so vinnig gebeur.

Ná skool Pretoria toe om te gaan studeer. Vlerkies gesprei en vryheid wat proe soos ’n bloedrooi, verbode vrug aan die boom van goed en kwaad.

Alles was skielik so anders as by die huis, waar ek baie naby aan die Here geleef het. Pastoor se kind.

Ons twee het mekaar maar ’n maand geken toe ek swanger raak. Ons is kort daarna getroud.

Die eerste keer het my só onkant gevang dat ’n mens jouself later vertel dit het nooit gebeur nie.

Maar die houe het altyd weer en weer gekom.

“Want. Ek. Moet. Jou. Leer. Hoe om ’n goeie vrou wees,” het hy tussendeur die klappe gesê. “Jou ma-hulle het jou nie mooi gewys nie. Iemand moet jou reghelp, anders gaan jy nêrens in die lewe kom nie.”

Pas mondig. Nog nat agter die ore. Ek weet nie van beter nie. Later word die beledigings ’n mens se waarheid. “Stephanie, jy ís sleg. Vuil. Nikswerd.” Die fisiese geweld was soms skokkend.

Nogtans het ek sewe jaar gebly. Die redes was legio. “Wat gaan die mense sê? Hoe gaan my ouers voel? My man sál verander. Dis beter vir die kinders om in ’n huis groot te word waar ma en pa saam onder een dak is. Dis my Christelike plig om te bly. Die Here wil my hier hê en ek moet die pad enduit loop.”

Soveel redes, nie almal geldig nie.

[VIDEO] Stephanie Baartman sê: “Die lewe verras my elke keer…”

My grootste innerlike stryd was om nie ’n egskeidingstatistiek te word nie. Ek het bly glo ’n mens kan steeds in ’n verkeerde huwelik blom en groei. Toe nie.

God moes my ontwortel en dit was séér. Dit was die moeilikste tyd van my lewe, maar uiteindelik ook elke traan werd.

Partymaal bly ons in slegte situasies omdat vrees en trots ons daar hou. Verandering kom wanneer God toegelaat word om in die omstandighede te werk. Wanneer jy oorgee en vertrou in Sý beste.

’n Prentjie voor op die boks van ’n legkaart. Mooi en heel. Dis die beeld wat eendag opgekom het in my stilsit- en dinktyd. Die legkaart was volledig op die boks (dis hoe die Here my sien), maar binne-in het alles in stukke gelê. Hoe nou?

“Nou is dit jou werk om die stukke, sáám met My, inmekaar te pas.”

Dit was ’n deurbraak-oomblik… om te snap dat ek Hom nodiger het as ’n man. Dat Hy in my lewe belangriker is as die stabiliteit van ’n huis, blink karre en geld.

Die besef dat daar van die begin af ’n plan was en dat niks, maar niks, sonder ’n rede gebeur nie. Die wete dat ons hier is, nie vir een of ander wetenskaplike rede nie, maar vir God se glorie.

He has called you as a prophet for the nations – to give sight to the blind. Dit was ’n Woordbelofte wat ek jare terug gekry het.

’n Belofte wat skielik soos saad in vrugbare grond begin ontkiem het.

Dit het lank gevat om weer die drade van my lewe op te tel. Om te sien hoe seer in seën kan verander. ’n Mens is só stukkend. Kwaad en bitter. ’n Selfbeeld wat flenters vertrap is.

Die kinders het ook swaargekry. Die nuwe skool het gebel en gesê Symphony, my dogter, pas nie in nie. Hulle beveel aan dat sy iemand gaan sien.

“Teken jouself,” het die terapeut gevra. Toe teken sy gras en lug en haarself iewers in die middel van die bladsy.

“Dis ’n soeke na standvastigheid, sy weet nie waar sy hoort nie,” is daar aan my verduidelik.

Wys jou net. As ma wil ’n mens net die beste vir jou kinders gee. Ek was onder die indruk dat ’n huwelik – al is dit ’n slegte een – hulle geborge sou laat voel. Maar ’n slegte huwelik doen meer skade as goed.

Baie nuwe dinge moes geleer word. Dat ek waardig is. Mooi, talentvol, sterk. Dat ek op my eie twee voete my plek in hierdie wêreld kan volstaan.

Dank die Here dat Hy presies geweet het wie om na my toe te stuur.

Dit was die laaste stukkie van die legkaart. Steve. Die man met wie ek vandag, jare ná die trauma, getroud is.

Ons het saam grootgeword en was lank vriende. ’n Wonderlike mens. Diep gelowig. Maar ons paaie het geskei toe hy destyds geweier het om na die troue toe te kom. “Moenie met daardie man trou nie,” het hy gewaarsku, sonder om self presies te weet hoekom nie.

Ek kon nie die afkeer verstaan nie en was baie kwaad. “Watter tipe vriend is jy? Vriende help en ondersteun mekaar.”

Hy het, maar ek was te blind. Te ver van die Here af om mooi te kon hoor.

Dit laat my dink aan Sadrag, Mesag en Abednego. Deur die vuuroond en heel anderkant uit. Nie eens hulle hare het geskroei nie.

Sou ek minder stukkend uit mý vuuroond gestap het as ek naby aan die Here gebly het? Ek dink so.

Maar nou was dit tyd om gesond te word.

Steve het van ’n afstand af gehelp. My aangemoedig om weer in die Woord te delf. Te bid. In die kerk te sing. Te dien, sodat ek kon groei.

Vir die kinders het hy gereeld gesê hoe kosbaar hulle is. God se oogappels.

Sy oogmerk was nie om my op hom verlief te maak nie, maar op Jesus. Hy wou dáárdie liefde en passie weer wakker maak. Hoe ongelooflik is dit nie?

Stukkie vir stukkie het my binneste gesond geraak. Toe gebeur dit. Die oomblik toe ek weer heel in myself is – met my oë gefokus na Bo – kon ek dit raaksien. Dat hierdie man as my maat geskep is. God se keuse.

Die besef dat in ’n gelukkige, vervulde huwelik, een en een drie maak. Jy, hy en die Heilige Gees. Verhoudings, sonder daardie diep geestelike fondasie, kraak dikwels.

Don’t be unequally yoked,” sê die Bybel. Nou verstaan ek dit. Kan jou maat jou geestelik ondersteun en ophelp wanneer jy swaarkry? Dís die mens wat jy nodig het. Moet jou nie blind staar teen iemand se uiterlike nie. Kyk dieper. Kyk na die hart.

Vandag is ek bly oor alles wat ek deurgemaak het. Dit het die waarde van geloof, hoop en ware liefde uitgelig.

Herstel het ook vir my kinders gekom. Symphony staan deesdae eerste in haar graad. Wys jou net wat ’n stabiele liefdevolle huis vir ’n kind kan beteken. En Duma is net so gelukkig.

Maar die duiwel sal altyd iewers probeer steel.

“Jou storie is nie uitsonderlik genoeg nie. Daar is baie vroue met dieselfde tipe verhaal. Wat maak joune so spesiaal?” Dis die gedagtes wat soms by my opkom.

Tog het ek besluit: Ek het ’n openbare platform gekry en daarom sál ek hieroor praat, al raak dit net een vrou se lewe. Mishandeling word immers nie gestuit deur kleur, ras of status nie. My storie is baie vroue se storie, juis daarom moet dit vertel word. Die hoop, die lesse, die feit dat daar uitkoms is.

Nou die dag gaan praat ek by ’n kerkfunksie in Klerksdorp. Meestal wit vroue, en ek wonder vooraf wie aanklank hierby gaan vind.

Ná die tyd kom staan hulle in twee lang rye. Om te kom gesels, drukkies te gee, saam te huil.

Die trane loop steeds as ek aan die verlede dink, maar dis nie meer trane van vrees of bitterheid nie. Eerder ’n diep dankbaarheid, want ek kon dood gewees het.

Baie vroue verloor hulle lewe deur gesinsgeweld. Elke nuwe oggend, nog voor ek uit die bed klim, is die besef daar: “Dit is net genade. Jy is nog hier, Stephanie, omdat jou werk op aarde nog nie klaar is nie.”

My pain became my purpose.

Dit het lank gevat om te vergewe, maar vergifnis het my uiteindelik vrygemaak. Selfs jammer laat voel vir my eksman, want dit kom uit sy agtergrond. Dis al wat hy ken. My gebed is dat hy Jesus sal ontmoet, dis die enigste manier hoe die leemtes gevul kan word.

My ervarings het my ook groot empatie gegee met mense. Veral vroue. Nooit weer sal ek oordeel nie. Eerder bid en help waar ek kan. Agter elke seer lê ’n storie.

Nog iets waaraan daar hard gewerk moes word, was om nie self in ’n mishandelaar te verander nie, want seer mense maak ander seer.

Toe ek en Steve begin uitgaan het, het dit tyd gevat om agter te kom dat ’n mens maar mag verskil en argumenteer in ’n verhouding. Ek was dadelik op die aanval. “Hoekom sit ons vas? Wat probeer jy sê? Wat is volgende?” Vir my was konflik sinoniem met geweld. Jy koes al vir die hou wat gaan kom.

Ons het baie daaroor gepraat – dat dit goed en gesond is om te verskil. En dit rustig uit te praat. Ons het elkeen ’n stem in die verhouding, en dit mag gehoor word.

Wat is die definisie van mishandeling? Vir my, wat uit ondervinding kan praat, is dit eenvoudig: Wanneer iemand jou reg om jouself te wees onderdruk, is dit al klaar verkeerd. Die oomblik dat jy nie kan lag soos jy lag, kou soos jy wil kou nie, of praat met wie jy wil praat nie, is dit abuse.

Op ons troue het my pa twee dinge vir Steve gesê. “Dankie dat jy ons dogter vir ons teruggegee het. En dankie dat sy weer haar lag ontdek het.” Dit het vir lank opgehou. “Jy lag te hard en te uitspattig,” was my eksman se mening.

Mishandeling hoef nie fisies te wees nie. Die fisiese seermaak kom gewoonlik laaste, en die wonde word gouer gesond.

Dis die innerlike kneusplekke wat langer vat.

Dit was belangrik om te besef dat ek myself mág wees. Dat my pyn en my foute my nie definieer nie.

Ons identiteit lê nie in ander se kwetsende woorde nie, maar in wat God oor ons sê. Dis al wat tel.

Daar is ’n paar dinge wat nooit weer toegelaat sal word nie. Niemand gaan my weer minderwaardig laat voel nie, my keer om te wees wie ek gemaak is om te wees nie. En nooit weer sal daar ’n skeuring in my verhouding met die Here kom nie, want dáár het die probleme begin.

Ma het my van kleins af geleer: “Leef so na aan die Heilige Gees dat jy in die oggend voor jou kas kan staan en vra: Help my kies tussen rooi en geel.” Want die Here het jou gevorm. Hy ken jou en weet presies waarin jy mooi gaan lyk.

Wat ’n voorreg om weer bewus te wees van daardie nabyheid. Om te kan gesels, dankie te sê en te bid vir leiding – in groot en klein besluite.

Ek het geleer Hy is ’n God van tweede, derde en vierde kanse. Iemand wat nooit moeg raak vir ons trane nie. Sy geduld is eindeloos. Sy onsigbare hand is altyd daar. Geen probleem is te onmoontlik dat daar nie ’n uitkoms is nie.

My lewe tot hier toe is een groot storie van geloof. ’n Getuienis dat dit wat stukkend is, heelgemaak kan word. Nie omdat ek goed is nie, maar omdat Hy God is.

Niemand van ons is per ongeluk op die aarde nie. Nie een is ’n fout nie. Geen traan of letsel is verniet nie.

Wie jy ook al is, wat jou storie ook al is, hou vas aan hoop en weet dít: Jy is goud werd, en sal weer skitter en skyn.

Ek het.