Doen dit wat reg is

0
40
sokker.png

Ek kon my ore vanoggend nie glo nie. Een van die radiostasies het ʼn inbelprogram gehad om te hoor wat die luisteraars se opinie is oor die bewerings dat Suid-Afrika mense omgekoop het om die 2010-wêreldbeker sokker in Suid-Afrika aan te bied.

Ek kon my ore vanoggend nie glo nie. Een van die radiostasies het ʼn inbelprogram gehad om te hoor wat die luisteraars se opinie is oor die bewerings dat Suid-Afrika mense omgekoop het om die 2010-wêreldbeker sokker in Suid-Afrika aan te bied.

Etlike inbellers het gesê hulle gee nie om nie, want immers was die sokker ʼn sukses en dit was tot voordeel van Suid-Afrika. Dit het my ontstel dat mense bereid is om dit wat verkeerd is goed te praat solank dit net tot hulle voordeel is. Waar gaan ons eindig as dit ons leuse in die lewe is!

As ʼn mens so redeneer, kan ʼn mens mos enige korrupsie goedpraat . Die korrupsie moet net tot jou voordeel wees. ʼn Mens met beginsels werk nie so nie. Iemand wat beginsels het, sal by sy beginsels bly selfs al strek dit tot sy nadeel. Is die morele verval in Suid-Afrika so erg dat selfs goeie Afrikaanse luisteraars van ʼn radiostasie dink dat dit in orde is om oneerlik te wees?  Wanneer jy oneerlik is, is daar altyd iemand anders wat ʼn verloorder is en wat nie verdien om ʼn verloorder te wees nie.

Wat behoort die vertrekpunt van ons optrede te wees? Beslis nie omdat iets net tot voordeel van jouself is nie. Ons behoort te doen wat ons doen omrede ons weet dat dit is wat God van ons verwag om te doen. Deuteronomium 6:18 sê Doen wat reg is in die oë van die Here. Dit is die vraag wat ons telkens vir onsself moet afvra, naamlik is dit wat ek doen “reg in die oë van die Here?”

Hennie Stander