Doen ek te min vir God?

0
154
geloof_3.jpg

Daar is talle vroue wat groot dinge vir God verrig. Wonder jy of jy ook meer behoort te doen?

Omgee is nie dieselfde as doen nie

Daar is baie onreg in die wêreld en daar is baie mense wat swaarkry. Dis maklik om oorweldig te raak en te voel jy doen nie genoeg om die slegte dinge stop te sit nie. En tog, jy hoef nie noodwendig iets te doen nie. Elke vrou het ’n saak wat haar na aan die hart lê en waaroor sy sterk voel. Jy kry miskien seer as jy hoor dat party kinders niks het om te eet voor hulle skool toe gaan nie. Jou vriendin voel weer jammer vir vroue wat mishandel word.

Jy hoef nie elke probleem op te los nie, maar jy moet wel omgee. Dis regtig nie moontlik om vroualleen alles wat sleg is, te verander nie, maar God wil sien dat iets jou ontstel en dat jy wens jy kan iemand se pyn verminder. Hy verwag van jou om ’n sagte hart te hê vir ander.

Gebed kan regtig ’n groot verskil maak

Miskien voel gebed vir jou soos ’n groot las. Jy dink jy moet eintlik aanmekaar bid, want jy kan onmoontlik vir elke behoefte bid wat daar is!

Selfs al sou jy baie pligsgetrou wees, sal jy steeds net by ’n paar mense en sake uitkom; daarom hoef jy nie by jou gebedslysie te bly nie.

Kweek die gewoonte aan om te bid sodra jy van iets hoor, al dink jy dit raak jou nie regstreeks nie. Dalk is daar iets in die nuus wat jou ontstel of jou tannie se neef moet ’n hartoperasie ondergaan. Dit maak nie saak of jy die mense ken nie – jy kan jou klein deeltjie doen.

Moenie dat die oomblik by jou verbygaan nie. Al is jy hoe besig, maak jou oë toe, net daar waar jy is, en vra God om te help. Vertrou Hom dan vir die uitkoms, sonder om skuldig te voel.

Nie eers Jesus het alles gedoen nie

Ons hoor dikwels ons moet Jesus se voorbeeld volg, maar besef jy dat Hy nie elke mens gesond gemaak en almal se probleme opgelos het nie?

Hy het mense soms laat wag. Hy het van die een dorp af weggegaan om in ’n ander dorp te gaan preek. Hy het moeg geword en het soms weggekruip om te bid. Hy het ook nie met elke mens op die aarde gepraat nie, maar het net met ’n klein groepie gewerk.

Jesus het beslis nie alles probeer doen nie; tog het Hy presies dít gedoen wat van Hom verwag is.

Jy is dus sonder rede so streng met jouself. Ja, jy moet alles in jou vermoë doen om God te volg, maar jy hoef nie alles vir Hom te doen nie. Jy hoef nie die heelal in stand te hou nie, dis Sy werk. Jy hoef nie eers te probeer nie!

Vertaal en verwerk uit Crazy Busy, deur Kevin DeYoung.