Doen moeite met mekaar

0
1277

Harde werk en opoffering is wat ’n huwelik sterk hou, maar ’n spesiale tradisie kan intimiteit in ’n verhouding bring. So glo Johan en Lulu Scholtz.

Die huwelik is ’n baie ou instelling met talle tradisies. As die tradisies egter belangriker word as die huwelik self, verloor dit sy trefkrag. Dit is waarom daar op Johan en Lulu se troudag niks van die gewone gebruike soos toesprake en heildronke was nie.

Vir hulle moes die aandag gebly het op twee mense wat voor God en getuies belowe dat hulle tot die dag van hulle dood mekaar sal liefhê. Dit is nie dat seremonies vir hulle verkeerd nie. As ’n paartjie dit verkies, is dit goed so solank die klem steeds op die regte plek bly.

Die Scholtz-egpaar, wat vanjaar 18 jaar getroud is, het slim gekies toe hulle op ’n trouplek besluit het: ’n hotel in Ballito, ’n plek waar hulle enige tyd vakansie kan gaan hou. Voor die kinders se koms was hulle ’n paar keer daar, maar deesdae is dit ’n bietjie moeilik met almal se vol programme.

Deur nou en dan daar ’n draai te gaan maak, bring beslis herinneringe terug. “Ek onthou hoe ons troukar, ’n 4×4, in die sand vasgeval het,” vertel Johan. “En dan was daar die duiwe wat ons in die lug gegooi het wat nie wou vlieg nie en net weer op die grond gaan sit het.”

“As ek my oë toemaak en terugdink aan daardie dag, onthou ek hoe ek kaalvoet na Johan toe geloop het terwyl hy ‘Droomvrou’ vir my gesing het. My droomman met die warm stem – ’n foto-oomblik vir altyd in my geheue afgeëts,” sê Lulu.

Daar onder die gazebo waar die huweliksformulier gelees en die ringe uitgeruil is, sal Johan en Lulu hulle verhouding ondersoek: Is hulle gelukkig? Is dit hoe hulle hulle destyds die huwelik voorgestel het? Is daar enigiets waaroor hulle spyt is of wat hulle anders sou gedoen het? Die uitslag: Ja, hulle is gelukkig. Nie dat dit altyd maklik was nie, want dié twee kan soos yster teen yster, klip teen klip, wees.

Na baie jare verander love at first sight uiteindelik in love with insight. “As ons in Ballito is, bring dit ’n bietjie romanse terug,” vertel Johan. “Dit is waar ons die eerste keer intiem verkeer het. Dis onvermydelik om daaraan terug te dink. Die realiteit is egter dat ons nie so baie daar kan kom as wat ons graag wil nie. ’n Gewoonte hang gelukkig nie van ’n sekere plek af nie. Net deur kort-kort alleen te gaan uiteet, bring ons nader aan mekaar.

Ons kommunikeer beslis op ’n intiemer vlak. Sonder onderbrekings kan ons mekaar in die oë kyk en vir ’n rukkie ons harte met mekaar deel.”

Geleenthede soos dié gebeur egter nie vanself nie. Die Scholtze moet doelbewus tyd máák daarvoor en reëlings tref dat die kinders by Ouma-hulle afgelaai word.

“Ons troudag was idillies en dis wonderlik om al daardie herinneringe weer te beleef, maar op die ou end is geestelike, emosionele en fisieke intimiteit dít wat ’n paartjie bymekaar hou,” meen Lulu. “As daar een ding is wat ek eendag vir my kinders wil sê voor hulle voor die kansel gaan staan, is dit dat hulle regtig moeite moet doen met mekaar. In vandag se gejaagde lewe kan dit maklik gebeur dat ’n mens by mekaar verby leef.

Selfs net ’n daaglikse gewoonte, waar ’n man en vrou ten minste vir ’n halfuur elke dag connect, bring vir my kontinuïteit, wat weer tot intimiteit lei.”