Dogtertjie sonder verjaarsdag

Marie… dis wat hulle my noem. My mamma en pappa het nogal ‘n klomp kinders: ek weet nie hoeveel nie, want ek kan nie so ver tel nie.

Ons gesin woon almal saam in een van daardie 2 slaapkamer huisies wat die regering verniet weggee. Mamma sê sy dink ek is omtrent 9 jaar oud, maar sy weet nie mooi nie. Sy het vergeet wanneer ek verjaar. Sy was te moeg om ‘n geel papiertjie met my naam en verjaarsdag op te kry toe ek ‘n babatjie was. Babatjies kry moet vir my mamma baie moeg maak, want sy vergeet altyd van die geel papiertjie. Meeste van my boeties en sussies het ook nie sulke papiertjies nie. Nou hou ons nooit verjaarsdag by ons huis nie, behalwe as dit Kersfees is, maar dis nie lekker nie want dan drink die grootmense baie bier. Ons mag ook nie groot skool toe gaan nie. Die mense by daardie skool sê ons moet geel papiertjies hê, anders bestaan ons nie regtig nie. Nou gaan ons sommer net na ‘n kleuterskool naby ons huis. Die juffrouens daar is vriendelik en baie lief vir ons. Hulle gee ook vir ons elke dag kos, so dis lekker by ons skool.

Mamma het weer ‘n babatjie in haar maag, maar sy sê dis nie ons s’n nie. Daar is twee ooms wat partykeer by ons kom kuier en dan vir ons sakke vol kos bring. Hulle wil hê dat Mamma genoeg moet eet sodat die babatjie mooi groei. Mamma sê hulle kom kuier by ons omdat hulle wil kyk hoe dit met die babatjie gaan, want hulle gaan die babatjie se mamma en pappa wees as hy gebore is. Die grootmense noem dit ‘n ‘sergaat’-babatjie.

Mamma en Pappa sukkel meeste van die tyd om vir ons te sorg, want hulle is baie siek. Hierdie siekte maak dat hulle elke dag vir hulleself medisyne moet inspuit. As hulle nie die medisyne spuit nie, word hulle verskriklik moeg en kwaai. Partykeer is hulle arms te seer om die naald in te druk, dan spuit hulle tussen hulle tone in. Hulle koop die medisyne by ‘n oom wat naby ons bly. Hierdie oom steek sy medisyne soms in die kragboks in die straat weg, dan gaan Mamma en Pappa na die kragboks toe om by hom te koop.

Ek weet nie watse siekte Mamma en Pappa het nie, maar dit moet erg aansteeklik wees, want daar is baie mense wat naby ons bly wat die siekte het. Ek dink die oom by die kragboks moet ryk wees, want sy medisyne is duur en al die siek mense gaan koop by hom. Die mense wat by hom gaan koop is partykeer so haastig om beter te voel, dat hulle nie wil wag tot hulle by hulle eie huis is om hulleself in te spuit nie. Dan spring hulle sommer oor ons heining, want daar is ‘n boom in ons tuin waaronder hulle kan gaan sit. Ek is bly dat ek nie daardie siekte het nie, want dit lyk vreeslik seer om so baie keer ‘n naald in jou vel in te druk. Ek hoop ook nie ek steek aan nie, want dan gaan ek eendag net soos Mamma en Pappa sukkel om genoeg kos vir my kinders te kan koop.

Gelukkig is daar ‘n sopkombuis naby ons huis waar my kleiner boetie elke Sondag vir ons kos gaan haal. Hy lyk ‘n bietjie snaaks wanneer hy met arms vol bakkies in die straat loop op pad terug huis toe – amper soos ‘n pakdonkie. Maar my boetie is fluks om die kos te gaan haal, want hy is altyd honger. Hy kan meeste van die tyd nie wag tot hy by die huis is voor hy begin eet nie. As ek in die straat speel wanneer hy met die kos aankom sien ek hoe hy kort-kort stop, al die bakkies neersit en iets uit een van die bakkies haal om in sy mond te steek. Dan tel hy die bakkies maar weer met ‘n groot gesukkel op om verder te loop. Meeste van die tyd moet ek of een van my sussies uiteindelik maar hardloop om hom te gaan help…