Donker hare gee jou vel nuwe lewe

0
74
haarkleur.jpg

Het blondines meer pret? Blonde hare lyk maklik vaal en leweloos. Wees jonk en vars met donker hare.

Eiendomsagent Desiree van Staden kon nie langer in haar foto op die plakkate teen die lamppale vaskyk nie. Noudat sy haar wilgerlatlyf teruggekry het, wil sy haar “vet” plakkate eens en vir altyd vir splinternuwes verruil. Om haar nuwe identiteit beter te verteenwoordig, het sy by Glam Guru aangeklop. As jou voorkoms ’n aanpassing nodig het, sal die wenke vir jou ’n rigtingwyser wees.

Dalk pas ’n donkerder haarkleur jou beter

Alhoewel baie vroue glo blond is dié haarkleur om mee indruk te maak, laat dit jou velkleur dikwels leweloos lyk. Desiree is heeltemal te dinamies om met vaal hare rond te loop. Ek het haar hare donker wynrooi gekleur en sy lyk sommer meer suksesvol.

Maar wees gewaarsku! Indien jy besluit om jou hare donkerder te kleur, kan jy hard lyk. Die antwoord is om ’n donker skakering met ’n tikkie rooi te kies, dan sal die kleur die nodige warmte aan jou gelaatskleur gee.

Kry die regte haarstyl wat by jou gesigvorm pas

’n Pragtige haarkleur kom tot sy reg met ’n vleiende haarstyl. As jy ’n vierkantige gesig en ’n prominente kakebeen het, moet jou gesigvorm versag word. ’n Snit met oneweredige lae help Desiree toeganklik lyk vir voornemende huiskopers. Ek het haar hare korter gesny, maar die lengte agter in haar nek gelos.

Desiree se hare val plat en haar uitdaging is om volume te kry. As jy, soos sy, sagte hare het, kort jy sterk jel wat jou haarstyl se vorm sal hou. Druk ’n mespunt hoeveelheid uit wat jy deur jou hare masseer. Daarna kam jy die styl in die vorm soos verlang. Reguit hare moet met jou vingers drooggeblaas word om woema te kry.

Sodra jou hare droog is, gebruik ’n medium borsel. Die meeste van die kapsel word hiermee na jou gesig gekrul en die res se fyner punte word buitentoe gekrul. Laastens sal ’n druppel Spiker Gelwax die opwippunte penorent hou.

Hoe om reg te grimeer vir jou oogvorm

Desiree wil nie net vir haar plakkaat nie maar ook elke dag fantasties lyk. Daarom het ek haar geleer om korrek te grimeer vir haar oogvorm.

Die eerste stap wat help om jou oë wyer uitmekaar te laat lyk, is om jou wenkbroue langer aan weerskante te trek. Dit plaas die fokus aan die buitekant van jou gesig. Ek gebruik my ligbruin wenkbroupotlood hiervoor.

Wend die ligte oogskadukleur van my duo-stelletjie oor jou hele oogbank aan. Volg op met die donker oogskadu wat jy horisontaal op die boonste ooglede skakeer in die rigting van jou slape.

Dit skep die illusie van groter spasie tussen jou oë. Trek ’n soliede lyn met ’n swart jeloogpotlood op die boonste ooglid. Sorg dat jy die streep effens verby jou oë se buitehoeke trek. Ek hou daarvan om die oë van dames op my program ook onder te omlyn. Dit gee meer trefkrag op foto’s.

HANNON Duo Eye Shadow for Green Eyes (R130)
HANNON Spiker Gelwax (R85)

HANNON-produkte is beskikbaar by voelgoedwinkel.co.za en by professionele haar- en skoonheidsalonne. Vir die salon naaste aan jou besoek hannon.co.za.

Skakel Sondagaande om 18:00 op kykNET in vir Hannon se mooimaak reeks “Glam Guru”.

Geskryf deur Ryno Mulder