Don’t worry. Be happy.

stres

Daar was ’n tyd wat ek verskriklik gestres het en baie keer is dit iets waaroor jy geen beheer het nie. Dit gebeur net.

Ewe skielik begin jy sleg slaap. Jou eetlus raak koekoes waar jy óf niks eet nie óf presies die teenoorgestelde gebeur en jy eet vir die eerste span. Jou emosies loop op hol en jy blaf vir enige ding. Jy is net nie meer ’n lekker ou om mee saam te lewe nie. Jy is moeg en moet begin pille vat net om ’n paar ure aaneen te slaap en as jy opstaan is jy net so moeg soos wat jy gaan slaap het. Dis stres.

Stres maak jou oud. Stres haal die fun uit die lewe uit. Stres maak jou dood.

Jesus weet ons gaan sukkel daarmee en daarom gee Hy vir ons die praktiese raad: Vertrou op God. God sal vir jou deurkom. Probeer dit. Gee dit ’n kans en kyk of dit werk. God weet presies wat ons nodig het en Hy sal dit vir ons gee. God wil na ons omsien om een rede: Hy het ons oneindig lief. Sy sorg oor ons word aangevuur deur sy liefde vir ons. Hoor jy mooi wat hier staan? Die almagtige God is so lief vir jou en hy gee so baie vir jou om, omdat Hy hier belowe dat Hy vir jou presies sal gee wat jy nodig het. Watter wonderlike belofte is dit nie!

Daardie groot berg wat voor jou lê, daardie monster wat in die kas wegkruip, daardie onsekerheid oor wat volgende gaan gebeur. Alles wat jou so gespanne maak, kan jy nou vir God gee, want Hy sal dit vir jou uitsorteer. Eendag sal jy terugkyk en die volle prentjie sien. Dan sal jy sien hoe God alles net in plek laat val het, ja, dalk nie soos jy verwag het nie, maar God het op sy volmaakte manier voorsien. Want Hy is lief vir my.

Nou wat moet ek doen? Ons moet vir God en sy Koninkryk eerste stel. Baie keer wil ons ons brood aan albei kante gebotter hê. Ons wil hê God moet vir ons sorg, maar ons wil ook die lewe op ons manier leef. Dit werk nie so nie. Ons moet seker maak dat God en sy dinge eerste kom in ons lewe. Ja, selfs die eie ek moet eers terugstaan. En tog kan en wil ons nie anders nie, want as ons regtig verstaan hoe lief God vir ons het en wat Hy vir ons alles doen en dat Hy elke dag vir alles wat ons nodig het sorg, wil ons mos binne sy koninkryk speel en wil ek my bes probeer om elke oomblik van die dag net sy wil doen.

Kom gee tog nou jou bekommernistassie vir God en kyk wat maak Hy daarmee. Dalk moet ons doen soos daai liedjie sê: “Don’t worry. Be happy.”