Dorette Potgieter: “Daar was tye sonder ’n huis, maar nie sonder uitkoms nie”

532
Dorette Potgieter
Dorette Potgieter

DORETTE POTGIETER glo sy het die roeping gevind  waarvoor sy al lewenslank opgelei word. Sy is vandag op haar gelukkigste deur ander mense te help.

 Te lank was ek woedend en onnodig bang vir omstandighede.

Daardie dag toe Baba Lia in die kraamsaal op my bors gesit is sonder beheer oor enige ledemate om haar vas te hou, was dalk ’n proesel van magteloosheid. Ek was bang en kwaad vir God oor die omstandighede, en dit was ’n eensame gevoel. Wie sal ons beskerm?

Soos ek terugkyk, was dit eintlik niks in vergelyking met die ervarings van deesdae nie…

Om magteloos te voel sonder hoop of uitkoms is iets wat nie een van ons werklik verstaan nie. Dis iets wat in ander se oë gesien kan word. Dis vandag vir my ’n werklikheid soos dit nog nooit in jare tevore ervaar is nie.

Ja, daar was tye sonder ’n huis, maar nog nooit ’n dag sonder ’n uitkoms of ’n plan nie.

Die pad van ’n enkelma is vir niemand maklik nie. Die aakligste deel is om alleen kop te moet hou! Alle verantwoordelikhede is dan alleen myne.

Lia (10) gaan elke tweede naweek na haar pappa toe, maar dan is dit weer moeilik om alleen agter te bly. Aan die begin was dit erg. As ek haar vra of sy nie verlang wanneer sy by haar pappa kuier nie, is haar antwoord: “As ek by Pappa is en na Mamma verlang, is ek mos nie by Pappa nie.”

Die verlange na my kind in dié tye het eintlik “niks” met haar te doen nie. Ons het almal verskillende behoeftes en om jou eie behoeftes op iemand anders te projekteer, gaan juis dit wat jy probeer beskerm, seermaak.

Dis uitdagend om nie jouself jammer te kry nie, om ’n balans te probeer handhaaf en nie te kwaai met jouself te wees nie.

Ons kinders bring mos die beste en soms ook die slegste in ons uit. Daar ís ’n gaping vir iemand wat ’n bietjie humor in ’n situasie kan bring.

So as Lia die dag seerkry, haar tand verloor of siek raak, is dit net haar ma wat daar is om haar te versorg. Ek het al 03:00 in die oggend planne gemaak om my ma teen 06:00 uit die noordelike voorstede te Uber voor die ergste verkeer stad toe begin beweeg.

Teen 07:00 moes daar met werk begin word, ten spyte van Lia wat daardie nag siek geword het. Gelukkig het ek ’n bietjie ondersteuning, gelukkig kan ek iemand vra om te help!

Wanneer ek moeg is en te swaar dra aan die verantwoordelikhede, sien ek hoe Lia ook swaarder trek.

Ons bid baie saam, en as dinge te moeilik raak, los ons dit eenvoudig by Sy voete, klim in die bed en gaan slaap met die wete dat môre vernuwing sal bring. Om Jesus te ken is om ’n verhouding met Hom te bou. Dit is ’n voorreg om ’n kind groot te maak wat Hom wil ken.

As ouer wil ’n mens jou kind se wil ontwikkel om God te gehoorsaam en nie net jou eie begeerte beklemtoon dat hulle God moet gehoorsaam nie.

Om jou naaste lief te hê soos jouself is een van die belangrikste eienskappe van menswees. Dis verblydend om te sien hoe my dogtertjie reeds ’n natuurlike empatie het vir ander en die omstandighede waarin hulle leef.

Haar ma is ’n mens met empatie. Dit kom maklik om myself in ander mense se skoene te plaas en so ’n pad te stap om mense te help verstaan hoekom hulle doen wat hulle doen.

Deur die Heilige Gees se leiding kan mense se oë oopgaan vir hulp. Dit is hoekom die huidige filmwerk in die tronk so vervullend is.

Eerlikwaar, die passie om ander te help spruit uit my eie behoefte om gehelp te word.

My agtergrond as akteur voor die kamera en ondervinding as lektor in dié medium saam met jare se werk agter die skerms, help my om mense in Pollsmoor op te lei.

Om kennis oor te dra aan nagraadse studente of aan minder bevoorregte jongmense in Korrektiewe Dienste, maak my baie gelukkig. Dit is oneindig vervullend!

Gevangenes word vir die filmbedryf opgelei deur middel van geakkrediteerde modules in filmproduksie, kursusse in kreatiewe skryfkuns en optrede voor die kameras. Hulle wil werk en ’n positiewe bydrae maak tot die groei van die land se ekonomie.

Deur ’n versoeningsprogram waar te neem, het ek idees begin kry om gevangenes se stories in ’n veilige omgewing op te neem. Die waarnemingstyd alleen was vir my ’n loopbaanhoogtepunt.

Daar was ’n oomblik aan die begin wat altyd onthou sal word.

Ons was besig om na ’n gevangene in maksimum sekuriteit se getuienis te luister. Hy vertel hoe hy elke slagoffer met ’n blowtorch gebrand het.

Hoekom dit doen? Uiteindelik het ek die moed bymekaar geskraap om oor middagete vir hom te vra. Die antwoord was skokkend: vanaf driejarige ouderdom, wanneer hy stout was, het sy pappa hom met ’n blowtorch gebrand. As ma, was dit vir my so seer om te hoor…

Net daar het dit my tot die besef geruk dat ons ’n enorme rol het om in die samelewing te speel; om hierdie mense wat agter tralies sit, te help sien dat dit wat hulle gedoen het, verkeerd was.

Ons almal dra daardie empatie in ons harte vir die omstandighede waarin hulle grootgeword het. Hoe verander jy dit? Ons kan net deur ons dade vir hulle liefde en aanvaarding wys. Die hoop is dat hulle ook op ’n plek sal kom waar hulle daardie versoening kan ervaar.

Soos ons saam die pad deur die program van restourasie gestap het, kon hy na die tyd sy hart met my deel oor die vrymakende gevoel binne hom, om homself te kon vergewe. Hy weet nou dat dit wat hy as klein seuntjie ontvang het, nooit liefde was nie. Dit was alles die pyn van iemand wat veronderstel was om hom te beskerm.

Die grootste behoefte landswyd is ’n volhoubare nasorgprogram sodra ’n gevangene vrygelaat word. Ek help tans om ’n program vir die opleiding in entrepreneursvaardighede te begin. Dit sal elke gevangene kan help om iets van hulle lewe buite die tronk te maak.

Die einddoel is om die voormalige gevangenes volkome te rehabiliteer en vir hulle werk te kry. My Film 4 Offenders-span poog om verdere opleiding vir nog ses maande tot ’n jaar te gee.

Versoening en vergifnis is ’n lang proses. Om eerlike verhoudings te kan bou op grond van die waarheid, is in die meeste gevalle die grootste uitdaging.

Die lewe is vir niemand maklik nie. In die verlede moes ek al baie akteursrolle aanvaar net om kop bo water te hou. Ons almal het al ’n porsie pyn en lyding ervaar…

Ek kry swaar wanneer ek iets moet doen wat teen my morele waardes gaan.

Vir meer as die helfte van ’n dag moet jy ’n karakter speel wat glad nie ondersteun wie jy is óf streef om te wees nie.

Kort voor lank begin mense jou ook te behandel asof jy regtig die rol is wat jy vertolk. Dit klink belaglik, maar dis wat gebeur!

Dit het aanhoudende afbreking veroorsaak, stuk vir stuk. Mense het my in ’n boksie geplaas, ver verwyderd van wie Dorette werklik is. Dit het my siel geskeur.

Ek het destyds ook ná die rol van Sonja, ’n veearts in die televisiereeks, Plek van die Vleisvreters, swaar begin dra na ’n misverstand tussen my, my agent en ’n regisseur met wie ek goed saamgewerk het.

Dit het ’n rimpeleffek gehad en ’n rol is sonder my medewete van die hand gewys, oor ’n vorige voorval. Dié misverstand het ons werksverhouding baie skade berokken in ’n tyd waar ek ’n paar groot persoonlik terugslae moes verwerk.

Om sonder werk te wees kan jou so aftakel en jou selfbeeld so kneus dat jy met baie moeite weer daar opstaan. Dit was ’n stukkende tyd. Alles was in twyfel getrek.

Ek het nie geweet waar die geld vandaan sou kom om vir Lia te sorg nie. Maar sy het nog nooit honger gaan slaap nie. As gelowiges word ons vrese deur God vir ons gedra. Ons het so baie familie en vriende wat regtig vir ons lief is.

Die pad is alleen, maar tog nie eensaam nie.

Die ander swaarkry is die wete dat daar moontlik nie iemand is wat my lewensmaat sal wees nie. Hier binne is daar ’n belofte om niemand weer naby my hart toe te laat wat nie my filosofie en liefde vir Jesus kan of wil deel nie. Dis net moeilikheid soek!

Sowat vier jaar gelede was daar ’n persoonlike bekeringsoomblik. ’n Doelbewuste besluit om nooit weer my eie wil te volg nie, maar net na God se wil te soek. Daar moes aan myself gewerk word.

Om vir my kind te kan sorg het my gedwing om kreatief te wees en iets te begin wat volhoubaarheid vir ons kon beteken.

Vir tientalle jare moes ek baie terugslae verwerk. My drome was aan flarde. Dit het sterk staan gevat om nie deur my eie seer en gebrokenheid enige emosionele leed aan Lia te doen nie.

Die laaste werkseer was ’n besigheidsvennoot wat my integriteit heeltemal betwyfel het. Daar was ’n paar probeerslae om besighede van die grond te kry. Daarvan moes ek wegstap.

Bande moes met elke persoon wat moontlik inbreuk op my verhouding met God kon maak, verbreek word. Daar was talle lewenstoetse wat geslaag moes word en wat steeds geskryf word.

Dit was al bitter moeilik om my persoonlike lewe van my professionele lewe te skei, veral wanneer jy in twee stede huur moet betaal, net om nie op straat te sit nie.

Gelukkig het dinge baie verander en deesdae gaan ek daarop uit om net ’n rol te aanvaar wat myns insiens nie myself of my kind leed sal aandoen nie. Dis nou makliker as ooit om nee te sê.

Wanneer werksaanbiedinge wel aanvaar word, bestaan die kans dat daar soms steeds verkeerde besluite geneem word. Ten minste hou die geleer nooit op nie en die uitdaging leef voort.

Op ’n baie jong ouderdom kon ek reeds uit my eie realiteit ontsnap, goed of sleg, en daar was soveel geleenthede om myself in die vermaaklikheidswêreld uit te leef.

Om van vyfjarige ouderdom al op die verhoog of voor die kamera te kon wees, was ’n groot voorreg.

Na 30 jaar is dit nou duideliker hoe om myself gelukkig te maak, en drome te verwesenlik – dis alles te danke aan al die seerkrytye, alleentye en swaarkry wat verwerk moes word. Dit verg goeie beplanning, harde werk, toewyding en dissipline wat aangeleer is in ’n oorlewingstyd as vryskutaktrise.

Vandag staan ek “alleen” saam met my kind in Sy lig en ek weet God het ’n lewensplan vir elkeen. Jy moet net die vrymoedigheid neem om Hom te leer ken.

Bitter, soet of sout, alles maak ons wie ons uiteindelik is en ons kies hoe ons oor alles voel. Dis bevrydend om te weet wat jou regtig gelukkig maak.

Daar is nagte wat jy sit en werk, daar is mense wat jou pad kruis wat soms sonder doel voel. Maar daar is betekenis in die detail van ons elkeen se lewe.

En as dinge soos ’n berg lyk op my pad en die krag is min om die volgende bult uit te klim, fluister God: “Jy kan, want jy is nie alleen nie. Ek is hier saam met jou.”

Na elke donker nag skyn die son weer, en om waarlik te kan lewe, is ’n keuse. Vandag weet ek dat Jesus opgestaan het en dat Sy Heilige Gees saam met ons leef. Ek verbly my in die wete dat ek ’n lewende God aanbid. Alleentyd is verby!