Dowwe Dolla se wonderwerk

0
213
dowwe_dolla.jpg

As Dowwe Dolla, vermaak Margit Meyer-Rödenbeck gehore landwyd. Ook die kleintjies kyk grootoog van verwondering wanneer sy karaktertjies op die kinderteaterverhoog laat leef. Maar die grootste wonderwerk van haar lewe is die geboorte van haar dogtertjie.

Dis te gou om die toets te doen, maar ek kan nie langer wag nie! Ek hét mos ’n swangerskapstoets ingepak voordat ons op die bootreis vertrek het. Eintlik twee. Net ingeval. Sê nou ek is swanger? Sê nou ek is nié swanger nie? Ek kén myself. Vandat ek probeer verwagtend raak, is ek elke maand oortuig ek verwag ’n baba. Ek ondervind selfs al die simptome! Hierdie is nie my eerste poging met in vitro-bevrugting nie.

Margit_Meyer_Rodenbeck_1.jpgDis vandag dag nege. Eintlik kan ’n mens eers op die tiende dag toets, maar ek gaan nogtans probeer. Ingeval. Minute later staar ek na die uitslag in my hand. Daar is twee strepies. Dowwe strepies wat wys die toets is positief. Is dit moontlik? Toets weer. En weer dra die strepies ’n boodskap van hoop. Twéé swangerskapstoetse kan nie al twee verkeerd wees nie, kan dit?

Die oorweldigende emosie van ’n moontlike swangerskap laat my op my man laat afstorm. Hy slaap nog, maar ek het geen genade nie. “Word wakker!” raas ek. Ek kan nie die wonderlike nuus langer vir myself hou nie. Hy is half deur die slaap toe ek vir hom sy bril aangee. “Kyk!” dring ek aan. Hy sien ook die strepies wat soveel belofte inhou.

Die oomblik toe ons in Kaapstad voet aan wal sit, is ek reguit laboratorium toe om bloed te laat trek. Ek is steeds bang om te glo dat daar ’n baba op pad is. O, ek weet alles van teleurstelling. Voordat ons op in vitro-bevrugting besluit het, het ons kunsmatige inseminasie probeer. Vier keer. Wat ek altyd van hierdie verskillende behandelings sal onthou, is die senutergende gewag. Die dae wat verbysleep voordat jy weet of jy dié keer suksesvol was. En dan, so dikwels, die teleurstelling.

Jy kan nie die swangerskap afdwing nie, selfs al doen jy alles “reg”. Dis vir seker met die hulp van ’n Hoër Hand dat daardie wonder uiteindelik gebeur. Maar van één ding is ek vandag nog oortuig: Dit maak nie saak hoe moeilik die proses is nie, die eindresultaat regverdig alles! Nogtans, daardie eerste keer toe die in vitro misluk het, was ek heeltemal ontwrig.

[pagebreak] Die tien dae voordat jy weet of die bevrugting “gevat” het, is nimmereindigend. “Jy moet net ontspan,” is die raad wat ek kry. “Vergeet daarvan.” Asof dít moontlik is! Dit was ál waaraan ek kon dink! En nou, na hierdie laaste in vitro-inplanting, is daar uiteindelik die sterk moontlikheid dat ons wens waar gaan word. Ek moet dit uit die dokter se mond hoor, sodat dit amptelik kan wees.

Margit_Meyer_Rodenbeck_2.jpgOns hoef net twee uur te wag voordat die spesialis ons bel. Dit ís so! Maar dis eers toe ek die hartklop op die sonar sien dat die baba vir my ’n werklikheid word. Ek weet ek is eintlik veronderstel om die nuus oor die swangerskap vir die eerste drie maande vir myself te hou, maar ek is uit my vel van blydskap. Dis nou eenmaal nie hoe ek gemaak is nie. Ek laat weet al die mense wat na aan my is. “En as iets verkeerd loop?” wil ’n paar waarskuwend weet. “Dan moet julle wat nou saam met my bly is, saam met my huil,” antwoord ek.

Ek begin ook al hoe meer besef dat infertiliteit ’n baie algemene verskynsel is en dat mense mekaar behoort te ondersteun en help en leiding gee. Dis ’n dogtertjie en ek dink daaraan om my ma, Retha, wat in 2003 oorlede is, te vernoem. Toe ons ’n 4D-sonar doen, sien ek haar gesiggie en sy is pragtig, maar sy is nie ’n Retha nie. Kort daarna is ek en my man Italië toe vir ’n bederf-vakansietjie. Op die vliegtuig voel ek vir die eerste keer beweging. Dit voel soos lugborrels wat uit gaskoeldrank ontsnap. Gedurende die vakansie skop sy so energiek dat ons haar “oorlogskonyn” en “gevegshaas” noem. In Italië besluit ons haar naam is Luca. Dit beteken “lig”.

Om te dink ek was onder die indruk dit sou maklik wees om ’n kind te kry. Twee jaar lank het ons probeer en toe ander opsies oorweeg. Ek het die grootste respek vir infertiliteitspesialiste. Dis ’n fyn wetenskap wat baie vreugde meebring – en ook baie trane. Om ’n kind te kry moet ’n doelbewuste besluit wees. Jy moet nugter wees daaroor, besef dat behalwe die fisiese en emosionele rollercoaster, die behandeling en die grootmaak van ’n kind ’n klomp geld kos. Natuurlik is dit elke sent werd, maar dit ís ’n realiteit wat jy nie uit die oog mag verloor nie.

[pagebreak] Ek moes my lewe so beplan dat ek tuis is wanneer die inspuitings toegedien moes word. Dan is daar die leefstylaanpassings: min alkohol, genoeg oefening, genoeg slaap, gesond eet, minder stres en so meer. Na die geboorte van ons dogtertjie is ons weer daardeur. Aan die begin van 2012 het ons die laaste keer probeer. Weereens ondervind ek oënskynlik die simptome van swangerskap. Maar op my 42ste verjaarsdag is die tekens daar: Ek is nie swanger nie. Ek huil my hart uit.

Margit_Meyer_Rodenbeck_3.jpgMaar die tyd van wonderwerke is nog nie verby nie. Later daardie jaar vind ek uit ek is vyf weke swanger. Dis glad nie beplan nie en ek het dit nie naastenby vermoed nie. Wát ’n verrassing! Na drie maande word ons vreugde uitgedoof toe ek die baba verloor. Die pyn en verwarring is baie erg. Dit maak nie sin nie. Ek glo dinge gebeur met ’n rede en eendag sal ek seker hierdie een ook verstaan.

Ek het voorheen ook baie vrae gehad oor my kinderloosheid, baie met die Here baklei daaroor. Ek wou so graag ’n kind hê en het so gesukkel daarmee. Terwyl daar by ’n verkeerslig ’n ma staan met twee kinders wat beswaarlik vir haarself kan sorg. Hoe regverdig is dit? Dit het baie introspeksie geneem om te aanvaar dat Hy ’n plan het. Ek dink God verstaan dat ons hierdie vrae vra. Dis tog ook ’n manier om nader aan Hom en jouself te kom.

Ek was gelukkig genoeg om geen probleme te hê tydens my swangerskap met Luca nie. En toe kry ek blaasontsteking. En die kontraksies begin. Ek is net dertig weke swanger en word in die hospitaal opgeneem.’n Noodkeisersnee moet gedoen word. Nie vir ’n oomblik voor die tyd dink ek daaraan dat my kind dit nie gaan oorleef nie. Later sou ek besef dit was die Here se genade dat my gedagtes nooit in daardie rigting gegaan het nie. Eers toe die keisersnee ’n realiteit raak, besef ek Luca gaan ’n skamele 1,5 kg weeg wanneer sy gebore word. Toe eers word ek bang. Maar dis asof jy dan net veg om oorlewing. Gelukkig was klein Luca van die begin af ’n regte klein vegtertjie.

Luca is nou vier jaar oud. Ek kan my die lewe nie sonder haar voorstel nie. Ek weet dit was alles die moeite werd. En ek kan nooit genoeg dankie sê nie.